Bank meer likied as in '07

 

Die Land Bank se beskikbare kapitaal het binne 'n jaar se tyd meer as verdubbel.

Die bank se likiditeit het in Oktober vanjaar op meer as R2 miljard gestaan. Verlede Oktober was dit R998 miljoen. Dié verhoogde likiditeit is waarskynlik nie weens beter bestuur nie, maar eerder as gevolg van grootskaalse invloei van kontant, sê prof. André Louw, 'n landbou-ekonoom verbonde aan die Universiteit van Pretoria en voorheen hoof van Absa Agribesigheid.

Die bank is verlede jaar 'n R700 miljoen hupstoot deur die Tesourie gegee. Danksy goeie kommoditeitspryse lyk boere se kontantvloei vanjaar die beste in jare. Veral die hoë graanopbrengste teen rekordpryse het tot stewige wins gelei, sê Louw. Dit beteken dat boere heelwat bankskuld kon delg.

"Nou moet ons net hoop die omkeerstrategie (van die bank) werk," het Louw gesê. Die gunstige kontantvloei laat die hoop ontstaan dat boere meer volhoubaar kan wees en dat die bank sy voorskot-beloftes sal kan nakom.

Louw meen die invloed van bestuur sal eers in 'n jaar se tyd werklik sigbaar word. "Die staat sal boonop moet aanhou om sy kant met finansiering te bring."

6 November 2008

0