|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Met die heersende Safex-stelsel behoort basisverhandeling van graan plaas te vind, maar dit gebeur baie min, het mnr. Neels Ferreira, ondervoorsitter van Graan SA, op die GSA-konferensie op Bethlehem gesê.
Dit was in reaksie op produsente se klagtes dat Safex se gepubliseerde liggingsdifferensiale die pryse wat kopers hulle aanbied, onnodig afdruk.
Graan SA ondersoek produsente se klagtes oor graanbemarking en die Safex-kontrakte se voorwaardes, veral liggingsdifferensiale, het Ferreira gesê.
"Ons probeer die beste vir die boer beding. Wat vir mielieboere die beste is, is egter nie noodwendig vir koringboere die beste nie.
"Ons wil nie hê die stelsel moet só verander word dat die mark se likiditeit benadeel word nie, want dan kan boere nie meer doeltreffend op Safex verskans nie," het hy gesê.
Mnr. Nico Hawkins, senior ekonoom van marknavorsing by Graan SA, het gesê een van die alternatiewe wat oorweeg word, is om meer kontrakpunte op Safex met dieselfde prys as Randfontein daar te stel. Dié kontrakpunte moet dan ook leweringpunte wees waar 'n eenvormige prys geld. Die voorstel behels dat daar dan nie meer gepubliseerde liggingsdifferensiale sal wees nie. So 'n stelsel het egter voor- én nadele.
Oor beweerde manipulasie van Safex-pryse het Hawkins die koringprys as voorbeeld gebruik. Hy het gesê dat die Safex-prys op invoerpariteit bereken is, wat beteken dit word onwaarskynlik gemanipuleer.
"Dit is nie noodwendig 'n prys waarteen 'n plaaslike boer winsgewend koring kan produseer nie, maar dié probleem kan net met 'n verhoogde invoertarief reggestel word.
"Kopers voer goedkoper koring in om met die plaaslike oes te vermeng omdat daar nie genoeg plaaslik geproduseer word nie. In die komende seisoen gaan hulle weer 'n beraamde 650 000 ton invoer."
Hy meen sonder 'n hoër invoertarief kan dit net beperk word as die goedkoop ingevoerde koring 'n gesondheidrisiko vir plaaslike verbruikers inhou.
Hawkins het aan Landbouweekblad gesê 'n invoertarief van R18 per ton behoort kragtens die tarief-formule nou op koring te geld. Graan SA het al op 9 Junie gevra dat dit afgekondig word, maar dit het nog nie gebeur nie.
6 Augustus 2004Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24