|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Om 'n weerstasie op die plaas te hê, is soos om môre
se koerant vandag al te hê, sê boere wat diehulpmiddel inspan om hul risiko's
met vooruitbeplanning te verminder.
As die nodige databasis beskikbaar is om noukeurige afleidings van te maak, kan met behulp van weervoorspellings suksesvol geboer word op enige plek in die land. "Met 'n weersensitiewe inligtingsbasis kan boere kanse waag en selfs rampe omkeer deur betyds die regte bestuur toe te pas," sê mnr. Sakkie Nigrini, 'n bekende weerkenner.
"Dit is nou as hulle geleer het om te luister. Boere in die Swartland het 'n vroeë waarskuwing gekry om aanplantings uit te stel omdat 'n droogte op pad is. Diewat risikobestuur toegepas het deur hul skedules aan te pas, sal waarskynlik wel 'n oes maak."
'n Weerinligtingstelsel behels 'n weerstasie wat opgerig word in 'n spesifieke gebied waaroor die boer inligting wil hê vir die maksimum benutting ten opsigte van risiko en bedryf. Só 'n weerprojek kan met behulp van die inligting wat deur die weerstasies verskaf word, die nodige afleidings vir verwagte weerstoestande op die betrokke plaas maak en dit gereeld aan die boer gee. Een só 'n projek word met die samewerking van mnr. Nigrini gedoen.
Die weerstasie meet elke halfuur elektronies die onmiddellike omgewing se reënval, temperatuur, vog, windrigting en windsnelheid en stuur dit deur middel van radioseine na 'n rekenaar, vanwaar dit een maal per dag na mnr. Nigrini se e-pos gestuur word. Hy ontleed en analiseer dit en kan daarvolgens 'n voorspelling doen.
Dieinligting is nodig om 'n geskiedenis op te bou van die weerpatrone in 'n spesifieke gebied sodat boere in staat is om vroegtydig 'n besluit te neem om hul risiko's te verklein as daar 'n verskil in die norm voorkom. Dit is dus 'n projek op lang termyn, maar boere sê hulle vind reeds op kort termyn baat by weervoorspellings wat noukeuriger vir hul spesifieke gebied gemaak word.
Volgens mnr. Nigrini is hy nie 'n "voorspeller" nie. "Dit is wel moontlik om met behulp van die nodige inligting oor 'n tyd noukeurig af te lei wat die weer in 'n spesifieke gebied gaan doen na aanleiding van weerpatrone wat ontwikkel."
Hy verwerk die inligting van plaasvlak af na internasionale weerdata om die statistiese risiko in 'n gebied te bepaal. Die globale syfers wat hy daarvoor gebruik, kry hy daagliks van Engeland af.
Verskeie boere landwyd wat reeds met behulp van weerstasies by mnr. Nigrini se inligtingsnetwerk ingeskakel is, sê dit het 'n reuseverskil aan hul ondernemings gemaak omdat dit groot besparings meebring. Dit stel hulle in staat om vooruit te beplan.
Boere met wie Landbouweekblad gesels het, sê die afleidings is meer as 90 % akkuraat. "Algemene weervoorspellings hou nie veel voordeel vir die landbou in nie, want dit strek oor 'n wye gebied en wat vir een streek gunstig is, is vir 'n ander ongunstig," sê mnr. Pieter Bruwer, 'n boer van Mpumalanga.
"Ons is nou heelwat beter daaraan toe as voorheen," sê hy. Mnr. Bruwer boer in die Dirkiesdorp-vallei tussen Wakkerstroom en Piet Retief. Met die skielike kwaai koue in 2001 wat rampafmetings aangeneem het toe honderde diere gevrek het, kon hy betyds voorsorg tref en het hy geen vee verloor nie. Hy het twee jaar gelede 'n weerstasie op die plaas geïnstalleer.
Mnr. Bruwer sê hy het beduidende opbrengsverhogings behaal omdat sy weerinsette nou meetbaar is. Hy boer ook met mielies, suikerbone, sojabone en koring. "Ons het voorheen gemiddeld sowat 9 ton mielies per hektaar onder besproeiing afgehaal. Vanjaar is dit in sommige blokke opgestoot tot 'n amper ongehoorde 14 ton/ha, veral omdat hitte-eenhede gemonitor en besproeiing beter geskeduleer kon word."
Met die weerinligting tot sy beskikking, kon hy ook droëlandbedrywighede uitbrei. "Die ideale doelwit vir enige saaiboer is seker om te weet wat hy op sy plaas van die weer kan verwag. Dieinligting is beskikbaar en dit is my vermoë om dit te bestuur wat die verskil maak."
Mnr. Werner Booysen is in beheer van 'n weerprojek wat in November verlede jaar deur ZZ2, een van die grootste tamatie- en uieboerderye in die land, begin is. Nege weerstasies is aanvanklik in die provinsie Limpopo en twee later by Ceres opgerig waar vrugteboorde aangelê is. Waar die weerstasies nie naby 'n rekenaar is nie, word inligting met behulp van 'n selfoonmodem afgelaai.
Een van die voordele wat dieprojek vir ZZ2 inhou, is beter beplanning en bestuur van sy waterbronne. "Met droogtetoestande wat in gedagte gehou moet word, weet ons nou hoeveel geld met veiligheid aan die ontwikkeling van boorgate bestee kan word, pleks van ad hoc-beplanning daarvoor," sê hy.
Hulle het 'n vroeë waarskuwing ontvang oor die droogte in die Koue Bokkeveld en is aangeraai om waterbronne versigtig te bestuur.
Met 'n avokado-ontwikkeling wat by Houtbosdorp in Limpopo beplan is, is windbrekers ernstig oorweeg weens winde wat vir kort tye teen buitengewone snelhede van meer as 100 km per uur waai.
Volgens mnr. Booysen hou die weerontledings die verdere voordeel van besparings op spuitkoste in omdat dit 'n vermorsing is om te spuit as dit gaan reën. Dit stel hulle ook in staat om siekte- en plaagbestryding doeltreffender te beplan omdat siektes weens spesifieke weerstoestande in 'n vroeë stadium met sagter middels gekeer kan word.
"ZZ2 kry elke dag 'n voorspelling per e-pos sowel as op die webblad en elke maand word 'n vooruit-voorspelling vir drie maande gedoen. Dit stel dieonderneming in staat om vooruit te beplan. Dit loop hand aan hand met boerdery," sê hy.
Vir mnr. Piet de Wit, wat naby Douglas met lusern boer, is die voorspellings vir lusern kritiek omdat lusern nie gesny kan word as dit gaan reën nie. Hy sê sy risikopeil was voorheen met algemene voorspellings 85 %. Dit het nou tot 3 % gedaal.
Sy opbrengs het ook verbeter met doeltreffender besproeiingskedulering, benewens die feit dat hy heelwat koste op water en krag bespaar.
Hy boer ook met druiwe en omdat heelwat reën die suikergehalte beïnvloed, kon hy sy beplanning vir oeslewering só aanpas dat hy eerder druiwe met 'n laer suikergehalte lewer as geen druiwe nie, sê hy.
Weerstasies hoef nie 'n duur affêre te wees nie. Basiese, maar doeltreffende weerstasies kos ongeveer R9 000. Die enigste vereiste is dat dit op 'n plek moet wees waar daar 'n vrye vloei van lug is.
Boere of bedrywe en verenigings in 'n spesifieke gebied kan ook saamspan om stasies op te rig om geld te spaar.
29 Augustus 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24