|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Weiding wat aangeplant word op suikerrietlanderye wanneer boere nie 'n
kwota vir die suikerriet het nie, kan soortgelyke of beter winste lewer as wat
boere uit die suikerriet sou verdien. Daarby wag hoër suikerriet-oeste en 'n groter wins vir die boer op die landerye ná die weidingfase.
Mismoedigheid oor lae graanpryse, dreigende grondeise en swak rugby het vier Vrystaatse boere laat besluit om êrens in die jagvelde van Noord-Natal uitkoms te gaan soek. Hulle was só besig om klaagliedere te sing dat hulle vergeet het om brandstof in te gooi en verdwaal het. Toe kom hulle by 'n kruispad. Wanhoopsberg is reguit aan, maar te ver. Links is Donkerpoort-aftree-oord en regs twee plekke - Onbekend, 30 km, en Hoopvallei, 100 km. Die manne besluit om op Onbekend brandstof in te gooi en daarna te gaan kyk of daar 'n toekoms vir hulle op Hoopvallei is.
Op pad soontoe word besin oor boere wat nog sterk staan en waarskynlik die lae graanpryse kan oorleef. Gou stem hulle saam dat dit boere is met 'n sterk veekomponent. "Hoekom het soveel boere dan van hul vee ontslae geraak het?" vra Jan. Die redes is veediefstal en laer winsgewendheid, besluit hulle.
Terwyl brandstof ingegooi word, bespiegel hulle of daar 'n fout was in hul benadering tot vee en graan as afsonderlike boerderyvertakkings. Theuns vertel sy Oupa Snyman het met niks begin nie, maar dat sy pa en al vier sy ooms goeie plase geërf het. "My oupa het vir 'n klein salaris gewerk en spaarsamig geleef. Met sy eerste spaargeld het hy beeste gekoop en veldweiding gehuur. Later het hy 'n klein plasie gehuur en die lande met mielies beplant vir rantsoene en oorwintering op die stoppels."
"Ek soek nie 'n hoef op my lande nie", sê Gert. "Dit pas nie by my geenbewerking-boerdery in nie".
"Jy meen jou geen-wins boerdery" lag Theuns.
Henry vra vir Gert hoekom hy geenbewerking toepas. "Om my grond te verbeter, natuurlik", antwoord Gert en voeg trots by: "Julle moet sien hoe baie erdwurms daar nou is".
Jan vertel hy het 'n paar boere in Australië ontmoet wat hom genooi het om by hulle op hul plase te kom kuier. "Hul vee en akkerbou is een boerdery. Gedurende die weifase word die grond se biologiese vrugbaarheid só opgebou dat min kunsmis gebruik word om groot koring- en kanola-oeste af te haal." Jan wou nog vertel dat die Australiese boere daarmee spog dat hulle die hoogste produksie per millimeter reën ter wêreld het, maar toe kom die groepie boere op Hoopvallei aan en hulle besluit om hul dors te les.
Die kroegman vra uit oor hulle probleme en waarheen hulle op pad is en, soos altyd, bied hy ongevraag "wyse" raad aan. "Julle moet gaan kyk hoe boer die manne op Pongola. Ek hoor dat hulle biologiese oorlogvoering toepas teen lae suikerpryse."
Gou-gou is die vier op pad na Pongola. Daar loop hulle in 'n vriendelik boer vas wat lag toe hulle hom uitvra oor die "biologiese oorlog". Hy stel homself voor as Ernst en hy vertel dat hy biologiese boerdery toepas. Hy is heel opgewonde oor die resultate en hy nooi hulle na sy plaas toe.
Op die plaas vertel Ernst hulle dat hy die bestuurder is van die boerdery, wat hoofsaaklik suikerriet, sitrus en mango produseer. Lae pryse op elke vertakking is besig om die boerdery te strem en suikerrietopbrengste het aansienlik gedaal.
'n Studiegroep wat sowat vier jaar gelede gestig is, het vasgestel dat swak grondmineralisasie (veral 'n gebrek aan kalsium en 'n oormaat magnesium) en verpletterde humusvlakke die hoofredes vir laer suikerriet-oeste is. Daar is ook 'n groot tekort aan sink, en die fosfaatvlakke is meestal te laag.
Ernst het groot sukses met kalsiumtoediening op lande met 'n hoë pH behaal - in só 'n mate dat ander mense die verbetering raakgesien het. "Ek is nog ernstig bekommerd oor die lae koolstofinhoud van my lande," erken Ernst. "Die meeste van my lande het nie veel meer as 1 % humus nie".
"Wat gaan jy daaromtrent doen?" vra Theuns.
"Ek gaan weiding plant".
"Is jy mal?" vra Gert. "Hoe kan jy suikerriet met weiding vervang?"
Ernst glimlag gemoedelik en verduidelik: "Ons plant riet op hoërisikolande. Dit is lande waarvoor ek nie kwotas het nie, tog plant ek op dielande. As die meule nie die kapasiteit daarvoor sou hê nie, kan ons 'n groot verlies ly. Indien ons die humus op die lande met weiding kan opbou, sal ons rietkwotas na hierdie lande toe oorplaas."
"Wat van diefstal?" vra Gert, en voeg by: "Hulle het my bankrot gesteel op my plaas." Ernst sê hy besef sekuriteit gaan 'n bykomende koste wees.
"Kan dit ooit betalend wees?" vra Theuns. Ernst haal 'n dokument uit sy boonste laai en toe vra hy die jagters: "Wat dink julle is my bruto marge per hektaar suikerriet?" Jan, 'n groot optimis, skat R10 000. Ernst lag. "Dit is sowat R300/ha. Nou wat dink julle kan ek uit weiding maak?" Gert skat R500. Theuns waag R1 000. Henry meen R2 000.
Ernst help hulle reg. "Ek en my biologiese boerderykonsultant het vir 'n paar dae gesit om 'n rekenaarprogram te skryf wat ons in staat stel om die winsgewendheid van tollies op weiding met 'n redelike mate van akkuraatheid te kan voorspel. Die program is só opgestel dat ons die impak op winsgewendheid van kritieke suksesfaktore, soos gemiddelde daaglikse gewigstoename en drakrag, afsonderlik kan bepaal.
"Die winsvoorspelling het selfs ons verstom, maar, onthou, ek gaan met 'n plaaslike voerkraal saamwerk. Die voerkraal gaan my voorsien van ligte tollies wat hulle aankoop (teen die aankoopprys), en die diere terugkoop teen 'n bepaalde prys. Die programme wys dat goeie wins gemaak kan word deur 'n tollie van 200 kg tot 280 kg te laat groei. Ons behoort dit binne drie maande reg te kry. My plan is om die tollieprojek op net 10 ha te loods. Ek dink daaraan om kikoejoe saam met klawer te plant en dit met raaigras en eenjarige klawer in die herfs oor te saai om weiding deur die jaar te verseker. Nou kan ons na die syfers kyk (sien die tabel)."
Die voorspelde bruto marge is R5 463/ha - byna 50 % meer as wat 105 ton riet per hektaar kan lewer. "Jy verspot," meen Gert en voeg by: "Papier is geduldig!"
Ernst bly stil.
Henry, 'n melkboer wat kikoejoe en grasklawerweiding onder besproeiing gebruik, meen anders en vra: "Is jou drakrag nie te laag nie? Ek vra dit omdat jy met ligte kalwers werk."
"Jy moet onthou dat die voorspelde drakrag vir 'n volle jaar is. Die drakrag in die somer gaan beslis hoër wees," antwoord Ernst. "Die feit dat ons beoog om 'n nuwe groep elke kwartaal in te neem, sal dit vir ons makliker maak om tolliegetalle by die weiding se seisoenale produksie aan te pas. Die plan is ook om opraper-koeie te gebruik om te verseker dat die tollies net die room van die weiding vreet."
Ernst wou meer vertel, maar sy voorman kom die pakhuis ingestorm met 'n probleem wat dringend aandag verg. Ernst groet vinnig. "Manne, julle is welkom om môre terug te kom. Ek wil julle meer vertel - veral oor ons voorspelling van die winsverhoging van suikerriet ná die weiding."
Die jagters besluit daar en dan om op Pongola oor te slaap, want hulle is nou baie nuuskierig. Volgende week hoor hulle die res van Enst se planne met biologiese boerdery.
Ernst Höll boer vir S.M. Naudé-boerdery op Pongola. Alles aangaande sy boerdery, asook sy denke en planne vir tollies op weiding, is werklik. Gert, Theuns, Henry en Jan is denkbeeldige karakters.
Biologiese Boerdery-forum 2005
"Boodskap van hoop vir Suid-Afrikaase boere" is die tema van die forum wat die SA Biofarm-instituut met die samewerking van Landbouweekblad van 15 tot 19 Augustus in Pretoria aanbied. Sewe oorsese sprekers sal die volgende onderwerpe bespreek: Biologiese boerdery met die Albrecht-stelsel vir grondmineralisasie; Die inskakeling van vee by graanproduksie (Australiese en Suid-Afrikaanse voorbeelde); Geskikte produkte vir biologiese boerdery (die vervanging van skadelike produkte met lewegewende produkte); Kompos en kompostee - die organiese alternatief vir hoë insetkoste; en Winsgewende en volhoubare organiese boerderye.
24 Junie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24