|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
'n Gebrek aan genoeg besproeiingswater het twee Portugese broers jare gelede genoop om groenteproduksie vir graan en vee te verruil en vandag word hulle onder die land se voorste graanboere gereken.
Dit gebeur seker nie aldag dat 'n boer later lag en sê hy het "gelukkig" nie genoeg water vir besproeiing gehad nie. Dit is egter wat twee broers, mnre. Manuel en Johnny da Costa van Nigel, vandag sê oor die rede dat hulle jare gelede opgehou het om groente te kweek.
Daarna het hulle meer aandag aan graanboerdery begin gee, wat tot hul groot welslae as graanboere en eienaars van 'n groot voerkraal aanleiding gegee het. Danksy die byvoeging van nuwe vertakkinge by hul omvattende boerdery het hulle nou 'n volledige reeks ineenskakelende bedrywighede en produkte onder meer graan-produksie, 'n mieliemeule, 'n sorterings- en verpakkingseenheid vir droëbone, voerkraal en produksie van grondstowwe vir rantsoene in die voerkraal.
Hul pa, mnr. Antonio da Costa (nou reeds 90 jaar oud), het in 1935 van Madeira na Suid-Afrika verhuis om hier met groente te boer. Mnr. Manuel da Costa (52) het in 1969 saam met sy pa naby Boksburg met groente, graan en beeste begin boer. In 1974 het sy pa nog 'n plaas by Bronkhorstspruit gekoop en mnr. Johnny da Costa (48) het toe daar geboer. Sy broer het hom later daar aangesluit en hulle het saam met mielies, groente, beeste en skape geboer.
"Gelukkig" was daar te min water vir 'n groot groenteboerdery, anders was die Da Costas waarskynlik nie vandag Graan Suid-Afrika se Graanprodusent van die Jaar nie.
In 1985 het hulle die plaas by Nigel gekoop waar hulle nou boer. Mnr. Johnny da Costa het eerste daarheen getrek, terwyl sy broer op Bronkhorstspruit agtergebly en ook op huurgrond by Delmas (met onder meer aartappels onder besproeiing) geboer het.
In 1990 het hulle 'n aangrensende plaas by Nigel gekoop, dit met die huidige woonplaas gekonsolideer en mnr. Manuel da Costa het ook daarheen verhuis, waar hulle sedertdien saam op Manjoh Ranch boer. Hulle het die Manjoh Ranch-Beefmasterstoetery begin, wat nou uit 1 200 teelkoeie bestaan.
Die broers het nog tot in 1988 groente gekweek die laaste drie jaar het hulle droëland-aartappels op Manjoh Ranch geplant maar hierdie soort boerdery toe finaal laat vaar en hulle op vee en graan toegespits.
Hulle het by Delmas-koöperasie om finansiering gaan aanklop om saad te koop. Daar het 'n direkteur, mnr. Janneman Venter, hulle gehelp. Hulle het ál die lande kalk gegee om die pH op die regte vlak te kry, waarvoor hulle 'n staatsubsidie ontvang het. Die Da Costas het by Volvo 'n lening gekry om twee groot trekkers te koop, wat hulle dag en nag laat werk het om die grond voor te berei en te plant, en ook chemikalieë op skuld gekoop. Baie van hierdie aankope moes na die eerste oes betaal word. Gelukkig het hulle 'n goeie oes gehad, maar die tweede oes was weens droogte 'n misoes. Gelukkig het hulle aartappels onder besproeiing gehad en die pryse was daardie jaar hoog. Gevolglik kon hulle die skuld betaal en oorleef.
In hierdie tyd het hulle nóg buurplase gekoop en boer vandag op 5 675 ha grond, waarvan 2 800 ha lande is. Hulle beplant elke jaar die helfte daarvan met mielies, 'n kwart met droëbone vir wisselbou en die res met mielies vir kuilvoer vir die beeste. Hulle maak nie onderskeid tussen mielies wat vir graan geplant word en dit wat vir kuilvoer bestem is nie, maar plant dieselfde kultivars vir albei doeleindes kort- en mediumgroeiseisoenkultivars wat by die omgewing aangepas is. Die bemesting is ook dieselfde.
Die plantwerk word met twaalfry-mielieplanters gedoen en hulle skoffel die lande met werktuie wat by hul rye (750 mm wyd) aangepas is. Die plantestand is 37 000 per hektaar op droëland.
Ál die droëbone word ook aan die handel verkoop. Hulle het 'n droëboonaanleg gebou, waar hulle hul eie bone droog, skoonmaak en gradeer. Hul volgende projek is om droëbone uit te voer. Die Da Costas het hul eie silo's waarin hulle 6 800 t mielies en 300 t droëbone kan opberg.
Die wisselbou en grondbewerking geskied só: Nadat die mielies wat vir kuilvoer geplant is, van die lande afgehaal is, bytelploeg hulle hierdie lande. Dan plant hulle mielies vir graanproduksie. Daarna word die lande geploeg en droëbone geplant. Nadat die bone-oes afgehaal is, word die lande weer gebytelploeg en begin die wisselbou-siklus van voor af.
Ál die lande se grond word elke twee jaar ontleed. Kalk en ander bemestingstowwe word toegedien volgens die pH en beskikbare plantvoedingstowwe in die grond. Sover moontlik strooi hulle altyd kraalmis op die lande nadat die kuilvoermielies gesny is om te vergoed vir die verlies aan organiese materiaal. Daar bly min oesreste oor nadat die kuilvoerkerwer verby is.
Die broers het sedert 2000 spilpunte vir graanverbouing opgerig en verbou nou al 220 ha graan en 45 ha aangeplante weiding onder besproeiing.
Hulle het 2 405 ha aangeplante weiding op droëland, waarvan 1 400 ha Smutsvinger-gras is en die res eragrostis. Hulle het ook sowat 1 120 ha natuurlike veldweiding. Die res van die plaasgrond word deur voerkrale, damme, paaie en geboue in beslag geneem.
In 2001 het hulle 'n meul op die plaas opgerig, waar hulle ál hul mielies vir menslike gebruik maal. Hulle verkoop geen mielies meer nie. Die semels word alles in die rantsoene vir die voerkraalbeeste gebruik. Hierdie deel van die voer het hulle voorheen gekoop en soms was dit moeilik om genoeg in die hande te kry.
Die Da Costas het reeds bestuurders en 250 ander werkers in die boerdery. Van hul familielede is ook betrokke. Mnr. Manuel da Costa se vrou, Lyndsey, en mnr. Johnny da Costa se wederhelfte, Rita, het eers die boekhouding behartig, maar nou doen mnr. Manuel da Costa se seun, Tony, die boeke en sy broer, André, is in beheer van meelverkope.
Navrae: Manjoh Ranch, Posbus 1052, Nigel 1490; tel. 011 819 2882. Hul e-posadres is manjoh@iafrica.com.
Sowat 42 000 beeste afgerond
Die voerkraal van die broers Da Costa in die distrik Nigel het in 1990 met net 24 beeste die lig gesien. Vandag voer hulle sowat 14 000 beeste op 'n keer. Elke jaar maak hulle sowat 42 000 beeste gereed vir slag.
Met soveel beeste is grootskaalse meganisasie noodsaaklik. Die verskillende bestanddele van die rantsoene word met 'n laaigraaf in 'n voermenger gegooi, wat aan 'n elektroniese skaal en skerm gekoppel is. Dit dui in 'n bepaalde volgorde aan hoeveel van watter bestanddeel moet bykom en waarsku wanneer dit die verlangde hoeveelheid bereik. Hulle produseer 'n deel van die semels en 20 000 t kuilvoer per jaar self en koop die ander grondstowwe.
Sowat 40 % van die speenkalwers kom van die Noord-Kaap en net soveel van Noordwes, terwyl die res van Nigel en omliggende distrikte kom. Hulle koop kalwers van verskillende rasse en kruisings wat 200 kg tot 250 kg weeg en vervoer hulle met die boerdery se eie vragmotors plaas toe.
Die diere word by aankoms op die plaas ingeënt en kry 'n groeistimulant. Dan wei hulle twee tot drie weke op aangeplante weidings droëland in die somer, en sover moontlik, besproeide groenweiding in die winter om aan te pas. Dan is dit voerkraal toe vir 'n verdere week van aanpassing voordat die produksiefase van sowat sestig dae begin. Dit word deur 'n afrondingsfase van dertig dae gevolg, waarna hulle, danksy 'n gemiddelde daaglikse groei van nagenoeg 1,6 kg op 380 kg tot 440 kg na 'n slagplaas in Benoni gestuur word. Die broers bemark die karkasse self, hoewel hulle koeltrokke huur om die karkasse na slaghuise oral in Gauteng te bring.
14 November 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24