|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Bt-mielies, die gevolg van die genetiese modifisering van plante, het talle voordele vir die boer. Uit 'n omgewingsoogpunt is daar egter rede tot kommer wat nie geïgnoreer kan word nie, blyk uit die eerste impakstudie oor hierdie mielies in Afrika.
Geneties gemodifiseerde gewasse, in die besonder mielies wat met biotegnologie geskep is (bekend as Bt-mielies) neem jaarliks in Suid-Afrika toe. Sowat 15 % van ál die mielies wat hierdie seisoen geplant word, sal na verwagting Bt-mielies wees.
Die rede vir genetiese modifisering van gewasse is om hulle teen insekte te pantser sodat die boer nie chemiese middels hoef toe te dien nie. Sommige geneties gemodifiseerde gewasse het weer weerstand teen onkruiddoder.
In die geval van Bt-mielies met insekweerstand is die plaaslike plae waarop gefokus word die mieliestamrusper (Busseola fusca) en Chilo-boorder (Chilo partellus), wat reuse-skade kan aanrig.
Bt-gewasse is volgens saadmaatskappye teiken-spesifiek en bestry slegs die insekte wat vermeld word. Die eerste impakstudie op Bt-mielies in Afrika toon egter daar is minstens nege ander motsoorte waarvan die larwes ook mielies vreet en wat moontlik deur die betrokke Bt-geen beïnvloed kan word. Daaronder tel die bolwurm, valsbolwurm en snywurm.
Diebaanbrekerswerk is gedoen deur me. Annemie van Wyk, wat die studie vir haar meestersgraad gedoen het onder toesig van prof. Johnnie van den Berg, 'n entomoloog by die skool vir omgewingswetenskappe en ontwikkeling aan die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom,. Van Wyk, wat op 'n mielieplaas in Wolmaransstad grootgeword het, sit nou hierdie navorsing vir haar doktorsgraadstudie voort.
Geneties gemodifiseerde gewasse kry soms skerp kritiek uit sekere oorde. Baie mense is bekommerd dat hierdie gewasse nadelig vir mens en natuur kan wees. Aan die ander kant is chemiese middels nie altyd omgewingsvriendelik nie.
Soos met enige nuwe boerderypraktyk is dit nodig om die voor- en nadele van geneties gemodifiseerde gewasse te evalueer. Hulle het besluit om 'n onafhanklike evaluasie van Bt-mielies te doen wat deur die universiteit gefinansier is.
Die stelling dat nie-teiken-organismes moontlik ook deur die betrokke Bt-geen beïnvloed mag word, spruit uit Van Wyk se waarnemings dat daar tydens haar ondersoek altyd minder van sekere van die nie-teiken-organismes op gewone mielies was in teenstelling met die getalle op Bt-mielies.
Van den Berg sê nie ál nege soorte is voorrangsoorte nie omdat almal nie noodwendig mielieplae en van ekonomiese belang vir die mielieboer is nie. Diebevinding maak die veld egter nou oop vir verdere navorsing oor Bt se uitwerking op hierdie geïdentifiseerde soorte. Voorheen was daar nie juis inligting oor die uitwerking van Bt-mielies op ander insekte nie.
Die ekologiese risiko en die gevolge van die grootskaalse aanplanting van Bt-mielies op biodiversiteit het dringend aandag geverg. Geen monitering van nie-teiken-organismes is gedoen voordat Bt-mielies in Suid-Afrika vrygestel is nie en ook geen opvolgmonitering nie. Hul navorsing werp nou nuwe lig op watter soorte moontlik in impakstudies in ag geneem moet word.
Hulle het die afgelope twee jaar by die Noordwes-Universiteit 'n ekologiese model gebruik om mieliestamrusperspesies (Lepidoptera) te identifiseer wat as hoërisikospesies geklassifiseer kan word en verder bestudeer moet word. Drie van die ses motsoorte waarvan larwes wel op Bt-mielies kon oorleef, is as hoërisikospesies geïdentifiseer wat dalk deur Bt-mielies beïnvloed kan word en onder seleksiedruk kan verkeer om weerstand teen die toksien te ontwikkel, naamlik die Afrika-bolwurm (Helicoverpa armigera), valsbolwurm (Acantholeucanya loreyi) en snywurms (Agrotis spp.).
Veral die pienkstamrusper (Sesamia calamistis) is hoogs gevoelig vir Bt-mielies. Van Wyk het gevind dat geen larwes van hierdie stamrusper op Bt-mielies kan oorleef nie, al verskil die biologie en gedrag daarvan van dievan die twee teiken-stamruspersoorte.
Van den Berg sê hierdie inligting is vir die hele gebied suid van die Sahara belangrik, aangesien dieselfde mielieplae min of meer oor die hele streek voorkom.
Die voor- en nadele van Bt-mielies
Die huidige grootskaalse gebruik van breëspektrum-insekdoders benadeel die diversiteit in landbou-ekostelsels. Meer bepaald lei dit tot die vermindering van die natuurlike vyande van insekplae.
Dit is dus voordelig om plae eerder op ander maniere te beheer - in hierdie geval spesifiek die teiken-Lepidoptera-larwes deur middel van Bt-endotoksiene, sê prof. Johnnie van den Berg en me. Annemie van Wyk.
Die voordele is:
Bt-mielies het egter potensiële nadele:
"Dit is nie moontlik om te sê hoe vinnig weerstand teen die Bt-geen kan ontwikkel nie. Daarom moet boere streng by weerstandsbestuurstrategieë hou," sê Van den Berg en Van Wyk.
Dit behels die plant van toevlugsoorde met nie-Bt-mielies, wat sal lei tot die oorlewing van stamruspers waarvan die motte waarskynlik sal paar met diewat moontlik op B-mielies kan ontwikkel. Sodoende word die tempo van weerstandontwikkeling vertraag.
Landbouweekblad, 1 Desember 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24