|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Niemand wil in moeilike tye mielieproduksie aanmoedig nie, maar dieboer se verhaal kan as les dien vir beter tye wanneer die oorskot verdwyn en pryse verbeter het. Dan sal boere sekerlik weer méér mielies kan plant, maar hulle sal goeie verbouingmetodes, lae produksiekoste en goeie bemarking in gedagte moet hou.
Hoe maak 'n boer nou geld met mielies? Die antwoord is met 'n hoë opbrengs, wat die koste per ton verlaag en die gelykspeelpunt haalbaar maak, sê mnr. Willie de Klerk van die plaas Driefontein, by Middelburg in Mpumalanga, wat ondanks die lae mielieprys steeds 'n wins maak.
In hierdie tyd van mielie-oorskotte en lae pryse is 'n hoë opbrengs seker nie noodwendig goeie nuus nie, want dan word die oorskot mos groter. Of hoe?
Die antwoord is ja en nee. Dit is almal se plig om minder mielies te plant en te sorg dat die oorskot verdwyn. Dan sal die prys mos regkom.
Intussen is daar egter boere wat 'n inkomste nodig het en nog mielies moet plant (hopelik almal minder as hierdie seisoen). Vir hulle is die enigste uitweg om geld uit mielies te maak om die produksiekoste te verlaag en 'n hoër opbrengs per hektaar te kry.
De Klerk sê hy maak nog geld uit mielies, selfs al kry hy net R520/ton. Dit is danksy sy gemiddelde opbrengs van 7,7 ton/ha wat hy hierdie seisoen op 4 400 ha gekry het - alles droëland. Sy produksiekoste bedra R4 000/ha.
Sy groot nuus is egter dat hy 'n allemintige 12 ton/ha van 'n 30 ha blok wit mielies afgehaal het, natuurlik ook droëland! Dit was met die baster Phb 30D05 van Pioneer.
Mnr. Willem Engelbrecht, hoofbestuurder van Pioneer Hi-Bred in Suid-Afrika, sê dit is een van hul uitmuntende nuwe mediumseisoen-basters. In verlede jaar se nasionale kultivarproewe van die Landbounavorsingsraad was diekultivar in die oostelike produksiegebied eerste onder die wit mielies in die eenjarige proewe (gemiddeld 8,17 ton/ha) en tweede in die proewe oor drie jaar (7,29 ton/ha).
In die besproeiingsproewe was die kultivar derde oor drie jaar (9,89 ton/ha) en tweede oor een jaar (11,5 ton/ha). Dit is dus 'n baster wat in alle streke en toestande puik presteer.
Phb 30D05 neem ongeveer 74 dae tot blomtyd en 135 dae totdat dit fisiologies ryp is (in die koeler gebiede), het 'n uitstekende staanvermoë en weerstand teen blaarsiektes, is goed droogteverdraagsaam en lewer hoë opbrengste.
De Klerk het Phb 30D05 teen 45 000 sade per hektaar geplant, wat baie hoog vir droëland is.
Só 'n prestasie - albei gemiddeld 7,7 t/ha vir die hele boerdery en 12 t/ha vir die bepaalde blok - kom egter nie vanself nie, maak nie saak hoe goed die baster is nie. De Klerk vertel van voor af.
Hy het in 1977 saam met sy pa, Willie, en broer, Gideon, by Middelburg begin boer. Sedert 1996 krap hy sy eie potjie. Hy het op 300 ha begin. Sy vordering was dus baie goed, as 'n mens in aanmerking neem dat hy hierdie seisoen 4 400 ha mielies verbou het.
De Klerk maak altyd seker sy grond het nie 'n ploeglaag wat die indringing van die mielies se wortels en dus die verkryging van water en plantvoedsel beperk nie. Voordat hy mielies plant, maak hy al die lande diep los met 'n beitelploeg en doen ook 'n skottelbewerking. "Daar moet geen ploegblad wees nie, anders kan die mielies nie goed groei nie," sê De Klerk. Sy lande bestaan hoofsaaklik uit Hutton- en Avalongrond met 20 % tot 25 % klei.
Dan volg die toediening van onkruiddoder om seker te maak die mielies hoef nie met onkruide om kos en water mee te ding nie.
Met planttyd gee hy 'n kunsmismengsel wat gegrond is op die grondontleding wat hy elke jaar laat doen om vas te stel of daar tekorte aan bepaalde voedingstowwe is en hoeveel residue daar van die ander plantvoedsels is wat ná die vorige oes in die grond oorgebly het.
'n Groot rede vir sy sukses as mielieboer is die topbemesting (stikstof in die vorm van KAN) wat hy net ná planttyd op die ry toedien. Hy het baie proewe met die hoeveelheid stikstof gedoen om seker te maak hy dien die korrekte hoeveelheid toe sonder om die plantjies te brand wanneer hulle opkom. Die afsnypunt wanneer dit gevaarlik raak, is by hom 800 kg stikstof/ha.
Sodoende lei die mielies nooit 'n stikstofgebrek nie, want wanneer die mielies opkom, is die stikstof danksy die topbemesting dadelik binne die wortels se bereik. Baie belangrik: Die nat dele van sy mielielande het ook genoeg stikstof vir die tye wanneer hy nie in hierdie dele kan inbeweeg nie. As hy nie soveel stikstof aan die begin bandplaas nie, kan dit maklik gebeur dat die nat dele waar 'n trekker soms ná baie reën nie kan ry nie, 'n stikstofgebrek ly. De Klerk het dus nie 'n probleem met mielies wat geel word nie.
Dieboer se opbrengs op lang termyn is 5 ton/ha. Hy het dieseisoen vir 6 ton/ha bemes. Alle lande het dieselfde behandeling gekry, ook die land wat 12 ton/ha gelewer het.
Nog 'n deel van sy sukses is die gereelde toediening van kalk om die grond se pH vir mielieproduksie reg te hou. Hy probeer elke land elke vier jaar kalk gee. Hy neem egter elke jaar grondmonsters en as 'n land gouer versuur, dien hy vroeër kalk toe.
Die aanvanklike chemiese onkruidbestryding (voor opkoms) word op die vierblaarstadium met nóg 'n bespuiting opgevolg om seker te maak die onkruide kry nie vog en voedingstowwe wat die mielies toekom nie. Sodoende voltooi hy sy program vir onkruidbestryding en bemesting terwyl dit nog moontlik is om met 'n trekker en werktuie tussen die mielies te beweeg.
De Klerk doen dus alles in sy vermoë om te sorg dat die grond reg is en die plantvoedingstowwe beskikbaar is wanneer die mielies dit nodig het. Hy plant ook die regte basters vir sy omgewing.
Hy erken egter ruiterlik dat die natuur hierdie keer ten volle sy kant gebring het. Dit het baie gereën (822 mm), wat heelwat meer as die gemiddelde van 620 mm/jaar op lang termyn is. Dit was ook nie te veel soos die jaar toe hy 981 mm gehad en van die mielies versuip het nie. Die reën was hierdie somer goed verspreid en die mielies het nooit te min of te veel reën gehad nie.
Boonop het Middelburg genoeg hitte-eenhede gekry om te sorg dat die mielies volgens hul volle potensiaal groei. Die gemiddelde dagtemperatuur was nie so hoog dat die mielies skade gekry het nie.
Hoewel hy hoofsaaklik 'n mielieboer is, het hy weens die mieliekrisis ook 'n veefaktor ingebring deur 800 kommer-siële Bonsmarabeeste aan te skaf. Hy gaan speenkalwers produseer en verkoop. Daarvoor wil hy 'n voerkraal vestig waar die speenkalwers afgerond sal word.
De Klerk het sy eie graansilo's op die plaas waar hy 3 000 ton mielies kan opberg. Hy oes die mielies wanneer dit nog baie nat is (sowat 20 % vog) en maak dit dan in sy eie droër droog om dit binne die vereiste 14 % vog te bring. As sy silo's vol is, gaan die res van die mielies na die naaste koöperasiesilo's, wat net 3 km van die hoofplaas is. Sy vervoerkoste is dus laag.
Hy verkoop minstens die helfte van die mielies met voorafkontrakte. Die res verhandel hy op Safex wanneer die prys gunstig is en verskans sy risiko's met die gebruiklike middele wat graanverhandeling bied.
Gaan hy gehoor gee aan die pleidooie om minder mielies te plant? "Ja, ek gaan met 20 % tot 30 % afskaal," sê De Klerk. Hy het hierdie seisoen 4 400 ha mielies geplant en gaan sy aanplantings dus tot sowat 3 300 ha afskaal.
Wat van ander gewasse? Hy plant wel 100 ha aartappels in vennootskap onder besproeiing - die helfte is vir verwerking en die res vir moere - maar oorweeg nie alternatiewe gewasse nie. "Ek is 'n mielieboer. Ek hou van mielies. Ek is ingerig om mielies te verbou. Ek gaan dus nie na 'n ander gewas oorskakel nie," sê De Klerk.
Dit gaan hom in elk geval baie geld kos om toerusting en werktuie te koop wat vir 'n ander gewas geskik is.
Hy gaan volgende seisoen probeer om sy produksiekoste so laag moontlik te hou. Daarvoor gaan hy onder meer die plantestand verlaag, een skottelbewerking uitsny om diesel te bespaar, nie teen brand en hael verseker nie en kalk vir minstens 'n jaar los. "Ek sien donker tye vir minstens twee jaar vir die mielieboere en ons sal alles in ons vermoë moet doen om te oorleef," sê hy. Daarom is dit noodsaaklik dat almal minder mielies plant.
Boere moet ook hul arbeidskoste in toom hou. De Klerk het al lank gelede op groot skaal gemeganiseer en het min werkers. Hy het ook net een plaasbestuurder, mnr. Wimpie Prinsloo, om hom en W.A., wat 'n graad B.Sc. Agric. het, by te staan. Dus is die boerdery se bestuurskoste laag.
Boere sal ook baie goed moet begroot vir die donker tye wat voorlê. Hierin speel sy vrou, Mandi, 'n belangrike rol. Sy het 'n B.Com.-graad en doen die boekhouding vrou-alleen. Sy speel 'n belangrike rol aan die einde van elke seisoen wanneer hulle die uitgawes krities beoordeel en vir die volgende seisoen begroot.
26 Augustus 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24