|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Nadat hy gesien het hoe goed die sonneblom-baster PAN 7033 in proewe vaar, was dit vir hom 'n uitgemaakte saak dat hy dit as sy hoofaanplanting moes gebruik. Dit het hom geensins teleurgestel nie, vertel hierdie graanboer van Noordwes.
Veral die laaste helfte van die 2005/2006-groeityd was besonder nat toe baie meer reën as normaalweg in Noordwes geval het. In teenstelling was 2006/2007 weer 'n moeilike produksiejaar deurdat net sowat 60% van die normale reënval aangeteken is. Nogtans het die sonneblombaster PAN 7033 in albei jare besondere en beter as gemiddelde opbrengste opgelewer, sê mnr. Ferdie du Plessis, graanboer van die plaas Bethlehem, naby Lichtenburg in Noordwes.
Du Plessis het PAN 7033 die afgelope jaar die tweede keer in sy wisselboustelsel met mielies en sonneblom, waar ruim van oorlêlande gebruik gemaak word, geplant. Deur lande te laat oorlê, kan hy goeie vogbewaringspraktyke toepas. Dit stel hom in staat om aansienlik beter opbrengste te behaal.
Vandat hy PAN 7033 die eerste keer gesien het in proewe wat op sy plaas geplant is, het diebaster hom só beïndruk dat hy besluit het om dit as hoofaanplanting vir sy sonneblomproduksie te gebruik. In die proewe het PAN 7033 'n gemiddelde opbrengs van 2,21 t/ha gegee, terwyl die gemiddelde opbrengs van die totale proef met talle kultivars 1,88 t/ha was.
Die studiegroep Soetmelksvallei van Lichtenburg waarvan hy 'n lid is, doen al hul sonneblomproewe reeds vir vyf jaar op sy plaas. Hierdie proewe speel 'n belangrike rol in Du Plessis se besluit oor welke kultivar hy kies om te plant.
In 2006, die eerste jaar dat hy PAN 7033 gebruik het, het hy 'n gemiddelde opbrengs van 1,9 t/ha daarvan gestroop. Vir diebaie nat jaar jaar was dit 'n puik oes, want die gemiddelde opbrengs vir sy omgewing wat toe behaal is, het beswaarlik een ton/ha beloop.
Vanjaar, met die 40 % minder reën wat aangeteken is, het hy nog beter gevaar deurdat PAN 7033hom gemiddeld 2,4 t/ha gegee het. Op van die beste lande is selfs opbrengste van 3 t/ha gestroop, sê hy.
"Die eienskappe van PAN 7033 waarvan ek besonder baie hou, is dat dit goed ontkiem en 'n mooi stand gee. Swak opkoms is dikwels 'n probleem met sonneblom-aanplantings, maar metPAN 7033 ondervind ek dit nie. Daarby het die baster 'n uitstekende staanvermoë en 'n goeie weerstand teen bruinroes. Ek hou van plantestand wat, na gelang van die seisoen, tussen30 000 plante en 35 000 plante wissel," aldus Du Plessis.
Hy plant sy sonneblomme jaarliks teen die einde van Oktober en kan dit dan teen einde Maart stroop. Omdat hy kompetisie deur onkruid so goed moontlik probeer vermy en dit terselfdertyd skoffelkoste laag hou, plant Du Plessis sy sonneblomme in rye wat 840 mm uit mekaar is. Die gewas maak dan vinnig oor die tussenry toe en onkruid word onderdruk.
Hoofaanplanting vir alle gebiede
Die sonneblombaster PAN 7033 is die toppresteerder in die Landbounavorsingsraad (LNR) se nasionale proewe vir 2005/'06. PAN 7033 is in die klas met 'n mediumlaat groeityd en is dus 'n volseisoenbaster wat deur Pannar as die hoofaanplanting vir sonneblomboere in alle produksiestreke aanbeveel word. 'n Kenmerk van PAN 7033 is dat dit goeie weerstand teen bruinroes (Puccinia helianthi) bied en daarom ook aanbeveel word vir gebiede waar hoë druk van die siekte ondervind word. Die baster bereik fisiologiese rypheid op ongeveer 130 dae nadat dit geplant is en is ná 150 dae tot 155 dae stroopgereed. PAN 7033 is 'n baie egalige groeier, het 'n uitstekende staanvermoë en 'n gemiddelde olie-inhoud van 41%.
Landbouweekblad, 24 Augustus 2007
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24