Sowat 90% van die bewerkbare grond in Argentinië is onder geenbewerking, en dit is die tema van ’n landboutoer einde September na dié land.
Die doel van die landboutoer is om Suid-Afrikaanse boere die geleentheid te gee om Argentinië se boerdery op sy beste te sien, maar ook om die dele van Argentinië te sien wat met Suid-Afrika vergelykbaar is.
Die toer word in Afrikaans aangebied en is een van die min geleenthede om Argentinië in Afrikaans te ervaar.
Geenbewerking het reeds groot byval in Argentinië gevind. Sowat 90%, oftewel 24 miljoen hektaar, van die bewerkbare grond in dié land is onder geenbewerking. Dit is hoekom die toergroep veral plase besoek in die San Luis-omgewing in Wes-Argentinië, waar geenbewerking al jare lank in droër toestande gebruik word.
Geneig na somergewasse te plant
Die reënval in die San Luis-omgewing is omtrent 650 mm per jaar. Die grond is diep, maar sanderig in die ooste en suide, maar swaarder in die weste. In jare met goeie reënval probeer sommige boere drie oeste in twee jaar kry, maar aangesien die meeste reën gedurende die somer val, is boere meer geneig om somergewasse te plant.
Volgens die Argentynse kamer van landboumasjinerievervaardigers, Cafma, wat ’n uitstaller op die pas afgelope Nampo-Oesdag was, het geenbewerking dit moontlik gemaak om graanproduksie in dié land binne ’n dekade van 43 miljoen ton per jaar tot 93 miljoen ton per jaar te verdubbel.
Cafma sê voorts die toepassing van geenbewerking het ’n “wins” van 100 mm reënwater vir die land beteken in gebiede waar die neerslag 600 mm tot 650 mm per jaar is. Dié wins is deur die vermindering van verdamping bewerkstellig.
Die toerdatums is van Sondag 19 September tot Woensdag 29 September. Die retoervlug uit Suid-Afrika is regstreeks na Buenos Aires.
Een van die eerste besoekplekke is die geenbewerkingsvereniging van Argentinië, of Aapresid (www.aapresid.com.ar), in die rivierhawestad, Rosario, op die oewer van die Paranarivier, waar die beginsels en welslae van dié metode ter sprake sal kom.
Graanhantering in Rosario
Ander besoekpunte is die graanhanteringsgeriewe in Rosario, waarvandaan ’n groot gedeelte van Argentinië se graan uitgevoer word, asook ’n besoek aan die Agrometal-fabriek wat werktuie vir geenbewerking vervaardig. Daarna volg die plaasbesoeke.
Benewens graan is Argentinië natuurlik bekend vir sy beesvleis, en toerlede sal ’n veiling in die Liniers-beesmark in Buenos Aires, waar tot 10 000 beeste per dag onder die hamer kom, eerstehands kan ervaar. Die nasionale beeskudde is 49 miljoen beeste.
Van die hoofsentra wat die toergeselskap gaan aandoen, is Buenos Aires, Rosario en San Luis. Daarvandaan gaan die groep terug na Buenos Aires. Vandaar vlieg die groep na die Iguazu-waterval (een van die sewe wonders van die Antieke Wêreld) tussen Argentinië en Brasilië voordat die geselskap weer terugkeer na Buenos Aires om die vlug na Suid-Afrika te haal.
Die toerleier is Hendrik Jordaan van Laurik International, ’n konsultasie-onderneming vir sakebelange in Argentinië. Al die reisreëlings word deur Boland Travel in die Paarl gehanteer.
Koste:
Die Argentynse deel van die toer kos VSA$2 260 per persoon wat ’n kamer deel, plus die retoervlugkaartjie van R7 450. Deposito’s moet teen 15 Julie betaal wees. Die volledige reisprogram en koste is in die PDF-dokument onder aan hierdie artikel, en op www.laurik.com.ar beskikbaar.
Navrae: Rianette Coetzee by Boland Travel, tel. 021 872 1581 of e-pos: rianette@bolandtravel.net.
Lees ook oor planters in Suid-Amerika.
30 Junie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)