|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Om die volle voordeel van bewarings- of geenbewerking te benut, is fyn bestuur nodig om onkruid en siektes doeltreffend te bekamp. Geneties gemodifiseerde gewasse maak dit nou vir die boer nóg makliker.
Die kostebesparing met bewaringsbewerking en die voordele wat dit vir volhoubare produksie inhou, maak diepraktyk al hoe gewilder. Die uitdagings om dit te laat slaag, is goeie onkruid- en siektebestryding iets wat fyn bestuur vereis, sê mnr. Thom Steyn, landboukundige van Monsanto op Bethlehem.
Dramatiese kostebesparing van tot 40 % word ten opsigte van meganisasie en brandstofverbruik bewerkstellig. Maar, waarsku hy, boere wat die beginsels van bewarings- of geenbewerking nie verstaan of nie daarby aanklank vind nie, moet dit beslis los.
Die meeste mense verstaan dat geenbewerking beteken dat daar nooit weer 'n tand of skaar van 'n werktuig in die grond gesteek gaan word nie en dat ál die meganiese grondbewerkingsaksies naas plant met chemiese bespuitings vervang word.
Hy verkies egter om van bewaringsbewerking te praat, want ál die grondsoorte gaan die een of ander tyd verdigtingslae ontwikkel wat meganies opgehef sal moet word.
Die tabel wys dat in sandgrond met 1 % tot 8 % klei, dit net een seisoen duur voordat verdigtingslae verwag kan word met konvensionele bewerking, terwyl in grond met 'n klei-inhoud van meer as 41 %, dit in droëlandtoestande tot 32 seisoene kan duur voordat verdigtingslae moontlik kan begin voorkom.
Onder besproeiing, waar twee oeste per seisoen geproduseer word, meer werktuigverkeer oor die grond is en die besproeiingswater die fyn gronddeeltjies ook vinniger in verdigtingslae laat vasdryf, is die proses vinniger.
Mnr. Steyn sê dat geen navorsing nog gedoen is om te bepaal hoe lank dit sal duur vir verdigtingslae om te vorm in geval van bewarings- of geenbewerking nie, veral as daar al heelwat erdwurms teenwoordig is. Nog 'n vraag is of sonneblomme of kanola in 'n wisselbouprogram verdigting kan teenwerk as bewaringsbewerking gedoen word.
Maar selfs as elke seisoen geploeg word, kan probleem-onkruid of onkruid wat 'n weerstand teen die konvensionele onkruiddoders opgebou het, die gebruik van geneties gemodifiseerde gewasse regverdig. Roundup Ready-onkruiddoder (reg.no. L6702) kan ál die onkruid bestry sonder om die Roundup Ready-gewas (RR-gewas) te beskadig.
As die probleem opgeklaar is, kan die boer weer na sy normale bewerkingspraktyke en bestrydingsprogramme terugkeer.
Maar, sê mnr. Steyn, as die boer eers sy vrees oorkom het dat die ekstra bespuitings hom bankrot gaan maak en sy bestuur aangepas het om die volle voordeel van bewaringsbewerking te ondervind, haak hy die werktuie af, skakel oor na ligter trekkers en laat weet die brandstofverskaffer hy kan minder aflewerings doen.
Dit is omdat die onkruiddoders hom niks ekstra kos nie. Die besparing wat hy net met diesel kry, vergoed ruimskoots vir die ekstra bespuitings. Een doeltreffende bespuiting vervang twee tot drie meganiese bewerkings, sê mnr. Steyn.
Die ander groot besparing is ten opsigte van die onderhouds- en herstelkoste van werktuie. Boere wat na bewaringsbewerking oorgeskakel het, het gemiddeld R275 per hektaar minder hieraan bestee.
Gewoonlik sal 'n boer wat met trekkers van 120 kW werk, trekkers van net 70 kW of selfs 55 kW nodig hê as hy na bewaringsbewerking oorskakel.
'n Groot boer van Senekal wat 4 000 ha bewerk waarop hy mielies, koring, sonneblomme en sojabone verbou, en wat na bewaringsbewerking oorgeskakel het, het gemiddeld 75 liter diesel per hektaar bespaar (dit sluit stroop en die vervoer van graan na die silo's in) en sy herstel- en onderhoudskoste het met R300/ha gedaal. Verder is daar verskeie onregstreekse voordele wat moeilik in geldwaarde meetbaar is, soos vogbewaring en tydsbesparings.
Voor 'n boer kan oorweeg om van konvensionele na bewaringsbewerking oor te skakel, moet hy seker maak alle verdigtingslae in sy lande is heeltemal opgebreek en dat die suurheid van sy grond in orde is die pH (KCl) moet 4,5 tot 5 wees.
Die boer moet ook weet wat die klei-inhoud van sy grond is en hoe dit wissel van land tot land, want dít gaan die tempo bepaal waarteen hy kan verwag dat verdigtingslae kan vorm.
'n Ander kwelling vir boere wat bewaringsbewerking oorweeg, is dat grondgedraagde siektes kan opbou. Dit kan met wisselboustelsels hokgeslaan word.
Die ideale gewas hiervoor is hawer, maar daar is nie altyd 'n goeie mark daarvoor nie. Sojabone werk goed omdat dit die siekte-siklusse breek wat by graansoorte voorkom en terselfdertyd stikstof in die grond vaslê, sê mnr. Steyn.
Onkruid moet vasgevat word
Onkruidbestryding is diefaktor wat bewarings- of geenbewerking kan maak of breek. In dieopsig maak die nuwe geneties gemodifiseerde mieliebasters en ook die gemodifiseerde sojaboon- en -katoenkultivars dit vir die boer makliker. Só sê mnr. Thom Steyn, landboukundige van Monsanto op Bethlehem.
Die Roundup-Ready-onkruiddoder (RR-onkruiddoder), 'n glifosaat-middel, is die enigste geregistreerde produk vir gebruik saam met die Roundup-Ready-gewasse. Ál die bestaande glifosaat-onkruiddoders word saam met 'n benatter op onkruid toegedien. Die benatter breek die plant se selwande sodat die middel kan indring om sy werk te doen. Dit beteken dat 'n geneties gemodifiseerde gewas (vir gebruik saam met RR-onkruiddoder) ook onder stremming geplaas word as enige ander glifosaat-middel gebruik word.
Die middel bevat die Transorb-tegnologie wat die versnelde opname en vervoer van die glifosaat tot gevolg het, sonder om die gewas onder stremming te plaas. Dieonkruiddoder werk op enige groen plant wat fotosintetiseer. Om te kan fotosintetiseer, gebruik die plant die ensiem EPSPS, wat dit moontlik maak om proteïene en koolhidrate te produseer wat die plant laat groei.
Die onkruiddoder inhibeer dieensiem en verhoed sodoende die vloei van die proteïene en koolhidrate, en die plant vrek weens 'n tekort aan voedsel.
In die geneties gemodifiseerde gewasse is (met genetiese ingryping) 'n geen ingebou wat 'n ander ensiem, CP4-EPS PS, in die plante produseer wat byna soos 'n hartomleiding by mense werk. As die vloei van proteïene en koolhidrate deur die inhibering van die natuurlike ensiem afgesny word, gebruik die plant dienuwe ensiem om die noodsaaklike voedingstowwe vir groei te produseer.
Die RR-onkruiddoder kan dus op RR-mielies, -sojabone en -katoen gespuit word. Dit sal die onkruid doodmaak, maar nie die gewasse beskadig nie. Wanneer die RR-mielies agt blare volledig ontwikkel het, moet RR-onkruiddoder egter nie meer op die plante toegedien word nie. Die afloop van die blare konsentreer die middel in die plante se kelke, wat dan skade kan aanrig.
As mielies verder as die agtblaar-stadium gegroei het, moet valarms gebruik word wat die middel onder die plante toedien, wat terselfdertyd verseker dat die onkruid daar beter benat word.
Om te slaag, vereis egter fyner bestuur. Die boer móét die onkruidsoorte ken waarmee hy te doen het. Om 'n vasgestelde, voorgeskrewe bespuitingsprogram blindelings te volg, werk nie altyd nie.
As daar probleem-onkruid, soos kweekgras, purperwinde, en wandelende Jood, in die landerye voorkom, sal hoër dosisse en ekstra bespuitings nodig wees. Raadpleeg die etiket vir volledige instruksies.
Die meeste onkruid (60 % tot 80 %) wat in 'n seisoen gaan opkom, het gewoonlik drie weke ná planttyd ontkiem. Sowat agt weke tot tien weke ná planttyd is daar weer 'n hoogtepunt wanneer onkruidsoorte, soos kankerroos en kruisvingergrasse, opkom.
Tradisioneel is die onkruid met voor- en ná-opkoms-onkruiddoders en skoffelbewerkings bekamp. Dieonkruiddoders kan nog steeds saam met RR-gewasse gebruik word. Die voordeel van dieonkruiddoders is dat dit vanaf planttyd vir agt tot tien weke goeie onkruidbestryding gee en ook as 'n tenkmengsel tydens die laaste bespuiting toegedien kan word om laat ontkiemende onkruid te bestry.
Die nadeel is dat dit R250 tot R300 per hektaar kan kos. Daarby is baie van dieonkruiddoders onkruidspesifiek en het onkruid al weerstand teen van diemiddels begin opbou.
Waar RR-produkte gebruik word, word die eerste onkruid sowat drie tot vier weke nadat die mielies opgekom het, algeheel met RR-onkruiddoder bespuit. Dit is egter van deurslaggewende belang dat die eerste bespuiting moet plaasvind voordat die onkruid 10 mm hoog word.
'n Tweede bespuiting met dieonkruiddoder, bo-oor die RR-mielies, kan volg nadat laat ontkiemende onkruid opgekom het, maar weer voordat die onkruid 'n hoogte van 100 mm bereik het.
As die mielies die negeblaar-stadium bereik het, moet die bespuiting gerig plaasvind en nie bo-oor die RR-mielies nie. Die geheim vir welslae is dat onkruid vroeg bestry moet word. Hoe groter die onkruid is, hoe duurder en moeiliker word dit om te bestry.
Waar probleem-onkruid voorkom, moet die dosis per toediening opgestoot word, of is opvolgbespuitings die antwoord.
Vir wandelende Jood word aanbeveel dat 2,5 liter Roundup-Ready per hektaar toegedien word wanneer dieonkruid die twee- tot drieblaarstadium bereik. Dit moet 10 dae tot 20 dae later opgevolg word met 'n bespuiting van nóg 2,5 liter per hektaar.
Om purperwinde te bestry, word die eerste bespuiting van 2,5 liter per hektaar op die vier- tot vyfblaar-stadium gedoen en ook opgevolg met nog 'n bespuiting van 2,5 liter per hektaar, 10 dae tot 20 dae later.
Die breëblaar-onkruidsoorte, soos gewone porselein en duwweltjies, word bestry met 'n bespuiting van 2,5 liter per hektaar voordat die onkruid blom.
Eenjarige grasse kan uitgewis word met 'n bespuiting van 2 liter per hektaar voordat die grasse 100 mm hoog gegroei het, of 2,5 liter per hektaar as dit 100 mm tot 200 mm hoog is.
Uintjies word bestry met 'n toediening van 2,5 liter RR per hektaar op die drie- tot vierblaar-stadium, wat opgevolg word met 'n bespuiting van 2,5 liter per hektaar 10 dae tot 20 dae later. Dit kos sowat R70/ha om 2,5 liter RR toe te dien.
Daar is egter nie 'n vaste resep nie, sê mnr. Steyn. Die onkruid moet reg bestuur word en as 'n boer twyfel, moet hy kundige hulp gebruik.
Die geneties gemodifiseerde gewasse het ook 'n goeie opbrengspotensiaal. Navorsers probeer nou ook siekteweerstand én droogteverdraagsaamheid inbou.
Diegewasse is dus geoormerk vir gebiede met 'n hoë opbrengspotensiaal en/of waar spesifieke bewerkingspraktyke, soos bewarings- of geenbewerking, gebruik word. Dit kan egter ook gebruik word om onkruidprobleme op te los wat na aanleiding van konvensionele bestrydingsmetodes handuit geruk het.
In al die gevalle maak die kostebesparings van dienuwe bestrydingsmetode dit die moeite werd vir die boer.
5 Desember 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24