Tuis
Gevorderde soek
  • Tuis
  • Nuus
  • Bedrywe
    • Diere
    • Akkerbou
    • Tuinbou
    • Meganisasie
    • Bedryfsake
    • Tegnologie
    • Wiele
  • Die weer
    • Vandag se weer
    • Weervoorspelling
    • Weerberigte
    • Gesels saam oor die weer
  • Markte
    • Safex-pryse
    • Aandeelpryse
    • Agri-weekliks
    • Veilingspryse
    • Finansies
    • Varsprodukte
  • Vra die kundiges
    • Vra vir Faffa
    • Dierevoeding
    • Finansies
    • Chemikalieë
    • Regskenner
  • Stoeterye
    • Beeste
    • Skape
  • Jou mening
    • Forums
    • Gespreksforum
    • Boereblogs
    • Peiling
  • Multimedia
    • Foto-albums
    • Video's
    • E-pos foto’s aan ons
  • Potpourri
    • Kos en resepte
    • Boer soek 'n vrou
    • Pretkalender
    • Kalender
    • Jag en gewere
    • Jongste Landbouweekblad
    • Bloktoetse
    • Kompetisies
    • Boeke
  • Geklassifiseerde advertensies
Jy is hier: Bedrywe / Akkerbou / Ander / Graan-kyk-ook-na-lang-termyn

Nuus

Grond: Onteiening dalk oorweeg

Onteiening sonder vergoeding kan nie algeheel verwerp word nie, want sekere omstandighede noop ’n regering om hierdie pad te volg.

  • JSE beplan voordeel vir boere
  • Landbou.com vertoef by Nampo
  • Top-amptenare uit Parlement gejaag
  • Moenie boere kritiseer – Agri SA
  • Nampo-Oesdag begin op hoë noot
  • Veeartse: Blade bekyk toelating
  • Helfte van SA mense ly honger - DA
meer...

Lekkerlees

  • Bewerkingstoer na Argentinië
  • Titelaktes van familieplaas
  • Eis teen Transnet nadat plaas afgebrand het?
  • Wie smous met BK’s?
  • Verlore transport-akte
  • Beleggingsopsies op 14 ha-plasie?

My Weer

  • Voorspelling
  • Vandag
  • My ligging

Kaapstad

  • Donderdag
  • Mis
  • Hoog:19 C
  • Laag:11 C
  • Vrydag
  • Reën
  • Hoog:16 C
  • Laag:9 C
  • Saterdag
  • Gedeeltelik bewolk
  • Hoog:15 C
  • Laag:10 C
Sonsopkoms: 7:32
Sonsondergang: 17:51

Kaapstad

Bygewerk:17 May 04:00 IDT
Temp:
Druk:
Doupunt:
Humiditeit:87%
Wind:

Kaapstad

Peiling

Sal die Minister van Landbou haar opwagting maak by die land se grootse landbou-gebeurtenis, die Nampo-Oesdae?:

Graan: Kyk ook na lang termyn

 
CHARL VAN ROOYEN (cvanrooy@landbou.com)

Graanboere se grootste behoefte is om op kort termyn oplossings vir die krisis in hul bedryf te kry. Diekrisis is grootliks te wyte aan 'n mielie-oorskot en graanpryse wat in die algemeen laag is. Maar wat kan boere op lang termyn doen om 'n herhaling van hierdie somer se fiasko te voorkom? 'n Kenner gee raad.

Daar is geen twyfel dat boere te veel mielies geplant het en dat die prys nou só laag is dat min van hulle 'n wins gaan maak nie. Dit help ook nie om langer op ander moontlike redes vir boere se onbenydenswaardige posisie te hamer nie. Niemand kan meer op kort termyn salf aan hierdie seerplek smeer om dit gesond te maak nie.

Die uitdaging is om 'n soortgelyke krisis in die toekoms af te weer deur meer volhoubaar te boer. Dit sal onder meer 'n selfondersoek verg. Elke boer sal met nuwe oë na die bestaande boerdery-situasie op sy plaas moet kyk. Plaasbestuur, boerderymetodes, alternatiewe gewasse en nuwe inkomstebronne moet deeglik ondersoek word.

Mnr. Johan du Toit, Senwes se bestuurder van landboudienste, sê Suid-Afrika is 'n semi-ariede land met groot klimaatskommelinge. Daarom behoort graanverbouing op 'n veel kleiner skaal plaas te vind om dit volhoubaar te maak. Net 'n klein deel van die landbougrond — 14 % — is vir gewasverbouing op droëland geskik. Hiervan het net 3 % 'n hoë opbrengsvermoë. Gewasverbouing op droëland hou dus risiko's in.

Besproeiing uit boorgate hou ook 'n risiko in omdat die grondwater met onverantwoordelike gebruik uitgeput kan raak. Dit is 'n nasionale bate. Daarom vereis die Nasionale Waterwet van 1998 dat alle boorgate geregistreer moet word sodat die Regering 'n wakende oog kan hou. Op die platteland is talle mense van boorgate afhanklik vir water vir menslike gebruik. Vir gewasverbouing is hierdie bron nie volhoubaar nie.

Ondanks die vooruitgang in tegnologie en teling is die opbrengs per hektaar in die land aansienlik laer as in byvoorbeeld Amerika, waar boere danksy 'n hoë reënval gemiddeld 9 ton mielies per hektaar oes. In Suid-Afrika was die opbrengs die afgelope drie seisoene gemiddeld 3 ton mielies per hektaar.

Landbousubsidies in ontwikkelde lande en ondoeltreffende tariefbeskerming in Suid-Afrika is verdere faktore wat Suid-Afrikaanse boere se mededingendheid in die wêreldmark benadeel.

Volgens Du Toit verdien die prys van landbougrond ook aandag. Grondpryse het skerp gestyg en die gaping tussen die markwaarde en die produktiewe waarde vergroot. Mense wat plase wil koop, moet daarom onderskei tussen grond as 'n belegging en grond as 'n produksiefaktor.

Verder laat MIV/vigs sy merk op die landbou. Sommige raadgewers sê Suid-Afrika moet konsentreer op lande hoër op in Afrika vir die uitvoer van mielies, maar vigs het reeds sy tol begin eis. Die krimpende bevolkings se vermoë om kos te koop, sal kleiner word en hulle sal minder kos nodig hê. Meer as 30 miljoen mense in Afrika het reeds MIV/vigs. Afrika as 'n moontlike mark moet dus bevraagteken word.

Beplan produksie

Du Toit sê afgesien van die evaluering of ontleding van die geskiktheid van die hulpbronne, begin volhoubare graanverbouing by die verkryging van 'n afsetmark vir die produk.

Daarna moet die produksiekoste per ton bepaal word. Na gelang van die produksiegebied en die beplande opbrengs wissel dit tussen R518 en R808 per ton in Du Toit se maatskappy se gebied. Die tabel hierbo het meer besonderhede.

Sodra hierdie koste bereken is, moet die boer genoeg graan teen dieberekende koste verskans om minstens die regstreeks toedeelbare koste, soos saad, misstof, brandstof, chemiese middels en kalk, sowel as sekere noodsaaklike oorhoofse uitgawes te dek.

Dit is verder belangrik dat die boer fokus op die aspekte van sy boerdery waaroor hy beheer het. Hoewel hy nie volle beheer oor die prysdeel van sy inkomste het nie, kan hy met die nodige beheermaatreëls groter beheer oor alle aspekte van sy boerdery- en private uitgawes uitoefen.

Die boer moet produksiefaktore, soos grond, arbeid, kapitaal en bestuur, optimaliseer.

"Begin by die waardeketting van die boerdery en ondersoek elke aspek in diepte aan die hand van 'n diagnostiese tegniese en finansiële ontleding. Evalueer die prestasie aan die hand van bestaande maatstawwe vir doeltreffendheid en ontleed die risiko's," sê Du Toit.

Een moontlikheid wat 'n boer kan oorweeg om sy boerdery se volhoubaarheid te verbeter, is om kontantgewasse net op grond met 'n hoë opbrengsvermoë te plant. Aangeplante weiding kan op die lande met 'n middelmatige opbrengsvermoë gevestig word of hy kan dit deel maak van 'n wisselbouprogram op mediumtermyn deur gras daarop te plant.

Dit is wat mnr. Deon Bothma, Graanprodusent van die Jaar vir 2002, reeds meer as drie jaar doen. Hy plant borseltjiegras ná twee mielie-oeste en een sonneblomoes om die grond te laat herstel. Die gras word vir vyf jaar of langer bewei totdat die produktiwiteit afneem. Dan ploeg hy dit uit en begin weer met mielies.

Só 'n stelsel maak dit vir die boer moontlik om sy veestapel stelselmatig te vergroot.

Diversifikasie is 'n moontlikheid, mits dit markgerig is, die hulpbronne dit toelaat en die boer die nodige kundigheid het.

Du Toit sê die boer moet deeglike finansiële beplanning doen deur die opstel van volledige begrotings wat op konserwatiewe aannames gegrond is.

"Wanneer 'n mens kontantvloeiprojeksies doen, moet jy ook vooraf 'n 'wat as'-scenario ondersoek vir ingeval dinge drasties anders verloop, soos wat met vanjaar se mielieprys gebeur het. Met ander woorde, wat is die alternatief as die plan of begroting nie uitwerk nie?"

Stel vas hoe sensitief die boerdery se kontantvloei vir skommelinge in prys en opbrengs is om 'n plan B gereed te hê. Verdere raad is om vroegtydig van onproduktiewe bates ontslae te raak.

Moenie meer produksiemiddele in voorraad hou as wat in een seisoen nodig is nie. Dit verg onnodige kapitaal en rente. Diegeld kan eerder gebruik word om dringende skuld te betaal.

Daar is altyd ruimte vir 'n verbetering in produksiepraktyke.

Só is die nasionale gemiddelde speenpersentasie vir vleisbeeste 'n lae 60 %. Die rede is deels dat die tradisionele saaiboer wat ook vee aanhou, dikwels geneig is om minder bestuursaandag aan hierdie vertakking te gee. Hier is dus ruimte vir verbetering sonder dat dit noodwendig met 'n bykomende kapitaalbelegging gepaard hoef te gaan. Net so kan die boer dalk sy wisselbou- en oorlêstelsel verbeter.

Dit is noodsaaklik om soortgelyke boerderye se prestasie op 'n deurlopende grondslag met mekaar te vergelyk om te bepaal of daar verdere ruimte vir verbetering is. Dit kan egter net sinvol gedoen word as daar deeglike boekhouding is. Volgens Du Toit is sy maatskappy se ondervinding dat daar 'n groot variasie tussen verskillende saaiboere se kostestrukture is.

Die beleggingskapitaal wat nodig is vir toerusting vir presisieboerdery beloop nagenoeg R180 per hektaar vir 1 000 hektaar saaigrond. Nogtans hou diepraktyk groot voordele vir die boer in danksy verhoogde opbrengs en laer produksiekoste wat deur die individuele bestuur van homogene bestuursones moontlik gemaak word. Dit geld veral die produksiegebiede met 'n hoë opbrengsvermoë.

Jy hoef nie presisieboerdery te beperk tot saaiboerdery beperk te word nie. Dit het ook op veeboerdery betrekking, soos om reproduksie noukeurig aan te teken.

Du Toit beveel ook aan dat boere die surplusvermoë in hul boerdery benut deur kontrakwerk te doen, soos om ander boere se graan te stroop en algemene vervoerwerk te doen. Dit maak die werktuie meer produktief en lewer 'n inkomste.

Belê in goeie jare 'n deel van die boerderywins buite die boerdery in likiede bates, soos die geldmark, of in vaste bates wat in waarde toeneem, soos kommersiële en residensiële eiendom. In tye van nood kan hierdie bates taamlik maklik in kontant omgeskakel en weer as oorbruggingskapitaal in die boerdery gebruik word.

Moenie paniekerige besluite neem en voel dit is 'n móét om ander gewasse of fasette by die boerdery in te sluit nie. Spesialisasie is noodsaaklik, want dit is beter om jou te hou by die soort boerdery waarvan jy goeie kennis het. Dit is die moeite werd om eers seker te maak jy maak regtig die maksimum wins in jou bestaande boerdery voordat jy nuwe fasette inbring.

'n Doelgerigte bemarkingsplan is noodsaaklik vir enige boerdery. Produksie begin by afset. Die boer moet seker wees hy gaan 'n winsgewende prys kry vir die produk wat hy wil produseer, anders moet hy nie eens met die produksie begin nie.

Ten slotte kan graanprysbestuur aansienlik verbeter word. In 'n opname van die maatskappy was daar byvoorbeeld in die 2003/04-seisoen bloot in terme van prysbestuur 'n verskil van tot R1,25 miljoen in die inkomste van twee boerdery-eenhede wat albei 1 000 hektaar groot is.

Presisieboerdery se waarde

Die hoeveelheid water in die grond en die grond se vermoë om water aan die gewas op die land te verskaf, is van die belangrikste aspekte wat 'n suksesvolle oes bepaal, sê mnr. Neil du Sautoy, senior hulpbronspesialis van Senwes.

Presisieboerdery se voordeel is dat dit aan die boer kennis verskaf oor sy lande, dit wil sê waar die beste grond in elke land is. Hy kan dus eerder sy aandag en geld op diedele toespits waar hy weet hy 'n goeie kans op sukses het. Dit sal sy produksiekoste en risiko verminder.

Daarom is dit noodsaaklik om die lande deeglik te karteer en die grond te laat ontleed. As die boer weet wat elke deel se opbrengsvermoë is, kan hy die gewas op die land daarvolgens bemes en kalk toedien om die grond se voedingstatus optimaal te bestuur.

Raad met pryskrisis

Wat kan boere doen om hulself uit die krisis met die graanprys te boer? Dit is die onderwerp van die laaste artikel in 'n reeks van vier oor die afskaling van mielie-aanplantings.

Die artikels is geskryf na aanleiding van 'n besoek van Landbouweekblad aan mnr. Deon Bothma, Graan Suid-Afrika se Graanprodusent van die Jaar vir 2002. Hy het al 'n paar jaar gelede begin om sy mielie-aanplantings te verminder en sy veevertakking te vergroot.

Ná die kuiertjie op Bothma se plaas in die distrik Mareetsane, Noordwes, is by die landboumaatskappy Senwes in Klerksdorp ingeloer om met sy landboubestuurder te gesels oor stappe wat boere op lang termyn kan doen om uit die krisis te kom.
1 April 2005

0
 
 
  • 1817 keer gelees

Geborgde skakels


Plaassilo's - 'n Blink Gedagte

Kwaliteit Saad

Die toekoms is in jou land

In lyn met die boer

MSD Animal Health

Our brand new website

Daaglikse nuusbrief

Weeklikse nuusbrief

Teken In

  • Registreer as gebruiker
  • Wagwoord vergeet?

E-pos forum

  • Soek Atchar in Malelane/Komatipoort area.
  • Hoe meet jy as melkboer jou melk, per kg of liter
  • Boom Lusern en siektes
  • Nekklamp vir beeste
  • verpakking soos bokse en sakke
meer...

Gewildste stories

Vandag

  • Grond: Onteiening dalk oorweeg
  • Top-amptenare uit Parlement gejaag

Immergroen stories

  • RSS-voere
  • E-pos foto's aan ons

Pas gelees

  • Kaap Agri kyk noord
  • Landbouweekblad, 8 Julie 2011
  • Wie is ons?
  • Kontak ons
  • Gebruiksvoorwaardes
  • SMS-diens
  • RSS-voere
  • Teken in op LBW
  • LBW-argiewe
  • Vennote

Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24

Web Development by FormFunction