|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Vanjaar se katoenoes is die kleinste
in meer as 40 jaar, maar hierdie
prentjie kan in die komende seisoen
drasties verander. Peilings in
die Noord-Kaap en Noordwes toon dat die
katoenprys dermate verbeter het dat dit ander
gewasse, soos mielies, koring, sojabone
en sonneblomme, oortuigend op droëland
en onder besproeiing kan klop.
Mnre. Pieter Potgieter van die plaas Welgemoed
en Francois Cloete van Mooidam
in die distrik Stella is twee van die boere
wat hul somme gemaak het en vol vertroue
is oor katoen se potensiaal.
Dietwee het in die jare sedert die prys
in 2003/'04 ineengestort het, nooit opgehou
om katoen te plant nie. "Een ding van katoen
is dat dit jou nooit heeltemal in die
steek sal laat nie. Selfs in die droogste jaar
sien jy nie sommer 'n opbrengs van laer
as 500 kg/ha nie. Dit is omtrent die gelykspeelpunt.
Al gaan dit ook hoe sleg sal jy
waarskynlik altyd jou produksiekoste kan
verhaal," sê Potgieter. Op lang termyn is
die gemiddelde opbrengs van katoen in dié
droë gebied 1,4 ton/ha. "Hoe nader 'n mens
aan die afsnydatum van 10 November
plant, hoe slegter is die oesvooruitsig."
Hy is oortuig dat katoen deel van 'n wisselboustelsel
moet wees. "Ek het geen twyfel
nie dat my mielies beter presteer as daar
die vorige jaar katoen op die land was. Die
opbrengs is hoër en plante is minder geneig
om om te val."
Om te bewys dat katoen winsgewender
as ander gewasse kan wees, maak hulle 'n
sommetjie van hul produksiekoste per hektaar: Bemesting R660, bobemesting R280,
diesel R330, herstelkoste R165, onkruiddoder
R480, saadkoste R355, plukkoste R600,
vervoer R150, versekering R350 en rente
R255.Die totale produksiekoste per hektaar
is R3 570.
Die verwagte prys teen Junie volgende
jaar is R5 800/ton en teen 'n konserwatiewe
opbrengs van 1,2 ton/ha is die potensiële
marge R3 390/ha. 'n Soortgelyke som vir
mielies dui op 'n marge van R500/ha en vir
sonneblomme op 'n marge van R3 000/ha.
Dieprentjie stem ooreen met syfers uit
die GWK-gebied in die Noord-Kaap. Volgens
berekeninge van dielandboumaatskappy
kan net aartappelmoere katoen
vanjaar klop - en dít teen 'n katoenprys van
net R3 360/ton. (Die verwagte gemiddelde
prys vir volgende jaar is R5 800/ton).
Volgens GWK se berekenings is katoen
se netto-marge vanjaar R9 440/ha, mielies
se marge is R7 072/ha, vir grondbone is dit
R6 700/ha, vir lusern R7 735/ha, vir aartappels
R20 474/ha, vir koring R2 156/ha en vir
gars R2 655/ha.
Maar alles is nie maanskyn en rosegeur
nie. Tien jaar gelede is meer as 20 000 ha
katoen in die Stella-omgewing geplant.
Vanjaar is dit net 300 ha. Benewens die lae
pryse van die afgelope paar jare is katoen in
die verlede met die hand gepluk. Arbeidskoste
en minimumlone maak dat dit nie
meer haalbaar is nie.
Om dieprobleem te oorbrug, gaan Stella
se katoenboere en die pluismeule Vaalharts
Katoen saamspan om 'n nuwe soort kantoenstroper
(die eerste in die land) uit Amerika
in te voer. Die stroper borsel die vesel
en lobbe van die plant en het 'n eie skoonmaakaksie
om die plantmateriaal van die
vesel te skei. Dit is meer kostedoeltreffend
as andermeganiese stropers en is ideaal vir
droëlandomstandighede.
Nog 'n probleem wat katoenboere ondervind,
is toegang tot produksiekrediet.
"Landboumaatskappye bevorder eerder
graanverbouing omdat hulle daarna by die
graanhantering ook betrokke kan wees. Die
boere se eie pluismeulens het nie die vermoë
om krediet te verskaf nie. Al wat die
pluismeulens kan doen, is om vir die boere
uitstel op die betaling van produksiekoste
te beding," sê mnr. Stan Rudman, besturende
direkteur van Vaalharts Katoen.
Die groot probleem met droëlandverbouing
is dat 'n mens moeilik produksiekoste
kan verminder, sê Potgieter. " 'n
Mens moet soveel moontlik met bewerking
bespaar."Daarom pas hy minimumbewerking
toe. Hy laat oesreste op die land en
ploeg glad nie. Hy ontblaar ook nie sy katoen
nie en het sy eie werktuie ontwerp om
die plant van sy blare te stroop nadat die
eerste ryp toegeslaan het.
Cloete sê die feit dat boere toegang het
tot die stapelgeen vir katoen wat terselfdertyd
beskerming teen bolwurm bied en die
bestryding van onkruid vergemaklik,maak
die verbouing van katoen aansienlik makliker
en goedkoper as in die verlede.
Puik gewas vir
wisselbou
Besproeiingsboere wat katoen deel van
'n wisselboustelsel maak, kan meer geld verdien met drie gewasse
in twee jaar as om vier opeenvolgende gewasse te probeer
plant. Mnr. Pieter van der Walt, tegniese katoenraadgewer
en Bayagro-verteenwoordiger in die Vaalhartsskema, sê katoen
het 'n heilsame uitwerking binne die wisselboustelsel. As dit
deel van die stelsel vorm, kan dit die opbrengs van mielies met
2 ton/ha verhoog en 1 ton meer koring per hektaar beteken.
Hy sê mielies en koring benut net die boonste 30 cm van die
grondlaag en katoen tot 'n meter of meer. Die katoen help ook
om siektes by die ander gewasse teen te werk.
Mnr. Stan Rudman, besturende direkteur van Vaalharts
Katoen, sê die netto inkomste per hektaar wat uit drie oeste
verkry word, is sowat R18 382/ha. Bykomende produksiekoste
en verlaagde opbrengs veroorsaak dat die
netto inkomste met vier oeste in twee jaar
net R15 864/ha is.
"Die hoë ru-olieprys en die vraag na
grondstowwe vir biobrandstof het die landbou-omgewing op sy
kop gekeer. Pryse vir graan en katoen sal hoog bly en besproeiingsboere
het nou die kans om na 'n gesonder wisselboustelsel
oor te skakel."
Mnre. Paul en Rudolph Burger van Burgerbroers-boerdery
by Vaalharts is oortuig van die waarde van katoen binne 'n wisselboustelsel.
"Die afgelope paar jaar het ons koring en mielies
afgewissel met grondbone of katoen. Noudat die prys weer
beter lyk, sal ons bly by katoen.
"Ons betaal wel duur vir die stapelgeensaad en die tegnologie,
maar die verhoogde opbrengs maak dit die moeite werd."
Die Burgers plant 80 ha katoen waarvan 53 ha onder spilpunt-
en die res onder vloedbesproeiing is.
Eie pluismeulens gee boere beter pryse
Pluismeulens wat in boere se eie besit is, kan meer waarde op plaasvlak toevoeg en
'n leemte vul wat gelaat word deur die onttrekking van internasionale maatskappye,
soos Clark Cotton en Cargill, aan die Suid-Afrikaanse katoenbedryf.
Mnr. Stan Rudman, besturende direkteur van Vaalharts Katoen, sê boerepluismeulens
het die katoenbedryf radikaal verander. "Waar hulle voorheen van die internasionale
maatskappye en hul pryse afhanklik was, kan die rand en sent nou by die boer
uitkom. Hulle bly in besit van hul katoen tot dit by die spinproses kom en kan aansienlik
beter pryse vir hul produk kry. Die internasionale maatskappye het vir hul aandeelhouers
se sak gewerk. Ons beding vir die boere en die Suid-Afrikaanse bedryf."
Hy sê die pluismeulens lewer 'n alles-in-een-diens aan boere. Dit dien onder meer
as kommunikasiekanaal met die bedryf, bemarkingsarm en inligtingsentrum vir die
boer. "Geen boer produseer genoeg om manalleen sy oes sinvol te bemark nie. Die
meule kan die katoen oor 18 maande in 'n poel bemark na gelang van wisselkoersveranderinge
en prysskommelinge. Dit kan aansienlik beter pryse vir die boer realiseer.
Sowat 80% van die land se katoen word internasionaal verkoop en die res aan plaaslike
eindverbruikers."
Volgens Rudman kan die meule ook vir uitgestelde betaling by verskaffers reël en
kollektief vir gunstiger pryse van produksiemiddele beding. 'n Voorbeeld hiervan is premies
van oesversekering wat van 19,5% van die oeswaarde tot 6% verlaag is sedert
Vaalharts Katoen namens sy boere begin beding het.
Daarbenewens lewer die meule 'n voorligtingsdiens wat nie meer elders beskikbaar
is nie. Boere word van tegniese raad bedien en gehelp wanneer hulle hulp nodig het.
Vaalharts Katoen, waarvan 51 % deur boere besit word, benut in hierdie stadium
maar 33% van sy kapasiteit en pluis net drie maande van die jaar katoen. Sowat
3 000 ha se katoen kan hanteer word.
Landbouweekblad, 2 Mei 2008
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24