|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Toe mnr. Thom Steyn, landboukundige
by Monsanto op Bethlehem,
onlangs op 'n boeredag vra
"hoeveel mielieboere het hulself al
die vraag gevra hoeveel minder geld hulle
in die komende seisoen in hul sak gaan
steek", kon jy 'n speld hoor val.
Steyn het op 'n Sentrum van Uitnemendheid-boeredag van Monsanto op die
plaas van die Rossouw-groep naby Delmas
gesê stygende produksiekoste, veral brandstof
en kunsmis, dwing boere as't ware om
wéér 'n slag te kyk na Roundup Ready gedrewe
tegnologie én na die sinergie tussen
verminderde bewerking en geneties gemodifiseerde mielies. In die praktyk beteken
dit dat dit nie meer nodig is om vir stronkboorder
te spuit nie, terwyl dit nuwe alternatiewe
vir meganisasie (bewerking) bied.
Die onkruiddodertegnologie pak die
probleem van onkruidbestryding in verminderde
bewerking. Die bedekking van
die grond met plantmateriaal benadeel
kontak met die grond en loging in die
grond in. Formulasies vir onkruiddoders
wat glifosaat bevat, die aktiewe bestanddeel
van Roundup® Ready Plus, word op
die onkruid self gespuit en het nie grondkontak
nodig nie.
Breëspektrumbestryding en die potensiaal
van tenkmengsels is ongeëwenaard ten
opsigte van doeltreffende onkruidbestryding.
Met Roundup Ready-gewasse kan die
onkruiddoder enige tyd toegedien word.
Regstellende bespuitings is dus moontlik,
dit het die potensiaal van wisselbou (of oorplant)
met ander gewasse én dit het geen
nawerking in die grond nie. Daarby verlaag
dit meganisasiekoste terwyl opbrengs
gehandhaaf word, sê Steyn.
Onder die besware wat dikwels teen
verminderde bewerking geopper word, is
die inwerk van voedingstowwe, soos kalk,
natuurlike grondverdigting, waterinfiltrasie,
oesreste as voedingsbron, die opbou
van siekte-innokulum in die grond, winderosie
en opslag.
Met verminderde bewerking is die biologiese
aktiwiteit in die grond soms genoeg
om kalk en ander voedingstowwe in die
grond in te werk. Op sandgrond kan hierdie
voedingstowwe ingewerk word wanneer
die situasie diepbewerking vereis.
Steyn sê die beweiding van oesreste op
lande kan grondverdigting veroorsaak en
dit verwyder uiteraard ook die plantmateriaal.
As 'n alternatief kan drukbeweiding
('n hoë veelading vir 'n kort tydperk) oorweeg word
omdat die hoë voedingswaarde
van die plantmateriaal benut word terwyl
die minimum kompaksie plaasvind.
Om siekteprobleme teen te werk, kan
wisselbou met sonneblomme, sojabone en
grondbone oorweeg word. Dit is belangrik
dat die regte teelmateriaal gekies word,
soos kultivars wat weerstand bied teen diplodia
en fusarium. "Wanneer die situasie
dit vereis, begrawe of verbrand die innokulum,"
beveel Steyn aan.
Steyn sê boere is waarskynlik reeds
bewus van prysstygings van produksiemiddele,
soos 'n skottelegbewerking wat
R145,43/ha per keer in 2006 gekos het
teenoor die R210/ha per keer wat dit in die
komende seisoen gaan kos. Dan is daar die
prysstygings van saad, soos CRN3505 wat
van R948/ha in 2006 gestyg het tot R1 114/
ha vanjaar.
Maar die grootste prysskokke is waarskynlik
dievan bemesting en brandstof.
Die eenheidskoste van stikstof (N) het van
2006 tot 2008 toegeneem van R7/ha tot R13/ha, van fosfaat (P) van R13/ha tot R40/ha en
dievan kalium(K) van R6,50/ha tot R13/ha.
Die bygaande tabel toon die volledige vergelyking
van die koste van produksiemiddele
vir 2006 met dievan 2008.
![]() |
Kyk 'n mens net na die styging van bewerkingskoste
per hektaar, het dit vir geenbewerkingslande
gestyg van R143 in 1999
tot R220 in 2006 en tot R283 in 2008. Dieselfde
syfers vir konvensioneel bewerkte lande
was R280 in 1999. Dit het gestyg tot R768
in 2006 en 'n geskatte R1 025 wat vir 2008
bereken word.
Steyn sê as jy die 2006-seisoen se somme
en 2008 se berekeninge gemaak het, sien
jy dat die wins per hektaar in 2006 bó die
gespesifiseerde koste vir konvensionele bewerking
R8 298 was teenoor die R6 165 wat
vir 2008 voorsien word.
Die winssyfers vir geenbewerkte lande
was R8 851/ha vir 2006 en sal 'n geskatte
R6 625/ha vir 2008 wees. Dit kom neer op 'n
kleiner wins van R2 133/ha vir konvensioneel
bewerkte lande en R2 226/ha vir geenbewerkte
lande. "En dit is hierdie drasties
kleiner winssyfers waarop boere hulle vir
die 2008-seisoen moet voorberei," waarsku
Steyn.
Landbouweekblad, 2 Mei 2008
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24