|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Wynmakers produseer vir ’n wispelturige mark wat voortdurend op soek is na iets nuuts. Ongelukkig kan wingerde en kwekerye nie “aan- of afgeskakel” word na gelang van diegiere nie. Trouens, dit kan tot agt jaar duur vandat wingerdmateriaal ingevoer is totdat stokkies aan die bedryf beskikbaar gestel word.
Vititec, die maatskappy wat uit die KWV se afdeling vir plantverbetering ontwikkel is, doen steeds die “duur” en gespesialiseerde werk van plantverbetering vir die wynbedryf. Die maatskappy het verskeie samewerkingsooreenkomste met ander maatskappye en instansies hier en oorsee om te verseker dat Suid-Afrikaanse wynprodusente saam met hul buitelandse eweknieë aan die voorpunt van vernuwing bly.
Landbouweekblad het onlangs die maat-skappy se laboratoriums, kweekhuise en entingskamer op sy Picardi-plaas in die Paarl besoek. Op die spoor van die maat-skappy se gewaarborgde wingerdstokkies is moederblokke op afgesonderde plase in die uithoeke van die Wes-Kaap, waar wingerdstokkies hul laaste siektevrye stadium deurbring, ook besoek.
“Wat gewoonlik gebeur, is dat wynmakers ’n wyn êrens proe en dan versoek dat ons diemateriaal in die hande kry en stokkies kweek,” sê mnr. Dirk Visser, produksiebestuurder van plase by Vititec, en me. Loren Phillips, wingerdboukundige by die maatskappy.
Deesdae is stokkies van veral bekende witwynkultivars, soos Sauvignon blanc, Chardonnay en Chenin blanc, maar ook Muscat D’Alexandrie en Pinot gris, baie gewild. Dikwels is hierdie materiaal reeds by Infruitec-Nietvoorbij, die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Vrugte, Wingerd en Wyn, beskikbaar. Ander kere moet klone ingevoer word.
Verskeie toetse, evaluasies en registrasies moet gedoen word voordat Vititec aan boere ’n waarborg kan gee dat die mate-riaal vry is van skadelike virusse en dat dit die drag- en geureienskappe van die kultivar weerspieël. Ingevoerde klone word dus eers ’n jaar lank by die kwarantynstasie in Stellenbosch vir vreemde virusse getoets voordat die maatskappy met sy toetse begin.
In sy laboratorium onderwerp die maatskappy alle nuwe klone aan ’n reeks fitosanitêre toetse om bekende virusse op te spoor en uit te skakel. Hy evalueer hierdie klone ook om te bepaal of die materiaal die kenmerke van die betrokke kultivar en tipe weerspieël voordat hy dit by die Wyndruifverbeteringsvereniging (WVV) registreer. Eers ná registrasie kan die maatskappy ’n kloon sertifiseer en vir kommersiële doeleindes vermeerder. Gelukkig kan die evaluering van die wingerd- en wynkundige eienskappe en die fitosanitêre toetse gelyktydig plaasvind, sê Phillips en Visser.
Om plantmateriaal vry van skadelike virusse te maak, kry dit hittebehandeling. Die materiaal word 100 dae lank teen ’n temperatuur van 38 grade Celsius gehou. Dit groei só vinnig dat dit “onder die virus uitgroei”. Virusvrye materiaal word verkry deur ’n stukkie 0,24 mm van die groeipunt af in steriele toestande te verwyder en in ’n groeimedium tot ’n plantjie te laat ontwikkel. Diemetode is 99,9 % doeltreffend.
Die maatskappy doen verdere toetse om te bepaal of die “nuwe” plantjies virusvry is. Die lang metode, wat sowat drie jaar duur, is om dit op ’n indikatorplant te ent. Diemetode is nie foutloos nie, want dit toets vir siektesimptome, nie vir virusse nie.
Terselfdertyd word somatiese embriogenese gedoen deur materiaal van die helmknop te verwyder en te vermeerder, maar met diemetode kan mutasies voorkom.
Die Elisa-toets, wat sowat R30 per toets kos en dus ’n aardige gaping in enige begroting kan laat as 50 000 monsters getoets moet word, kan binne twee dae resultate lewer. Die polimerase-kettingreaksietoets (PKR) is 10 000 keer sensitiewer, maar baie duurder as Elisa.
Volgens mnr. Nico Spreeth, bestuurder van KWV-Vititec, het die maatskappy ’n ooreenkoms met Waite Diagnostics in Australië, ’n maatskappy wat vir 13 verskillende virusse kan toets. “Ons is egter seker ons kernplante is skoon,” sê hy.
Benewens die toetse om virusse uit te skakel, word ingevoerde klone ook teen bestaande klone in Suid-Afrika geëvalueer ten opsigte van siektebestandheid, mutasies (veral in die Pinot-groepe) en korrelgrootte. Die Universiteit van Stellenbosch se wynkundedepartement maak selfs op ’n kon-trakgrondslag wyne van klone om te toets of die wyn eie is aan die betrokke kultivar.
Nadat ’n kloon “skoongemaak” en geregistreer is, volg drie fases van vermeerdering, sê Spreeth.
Die maatskappy hou kernwingerdstokke van elke geregistreerde kloon in insekvrye kweekhuise op Picardi. Hierdie stokke word vir toekomstige vermeerdering en evaluering gebruik. Onderstokke en geënte stokkies van diekernmateriaal word in grondveskwekerye gevestig. Ente en onderstokke uit diekwekerye word op Picardi geënt en in grondvesblokke van 220 hektaar in siektevrye gebiede gekweek.
In ’n stadium ent die maatskappy stokkies uit die grondvesblokke en stuur dit na plase in nie-tradisionele wingerdgebiede, soos Piketberg, Clanwilliam en Graafwater. Daar versorg skaap-, rooibos- en vrugteboere hulle met groot toewyding in grondveskwekerye totdat hulle gereed is om aan moederblokprodusente verkoop te word.
Vititec se belangrikste kliënte is stokkiekwekers, wat húl geënte stokkies aan produsente verkoop. Op die Vredendal-plaas het die maatskappy 400 ent-onderstokkombinasies en 1,6 miljoen kwekerystokkies.
Volgens Visser en Phillips word 80 % van alle wingerdstokke op aanvraag deur produsente geënt. “Produsente wil dikwels verskillende klone van dieselfde kultivar hê om in nuwe gebiede te toets.”
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24