|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Bewaringslandbou Wes-Kaap (BLWK) reël in Februarie ‘n geenbewerkingstoer na Brasilië en Paraguay.
Groot en klein plase en ‘n werktuigskou sal besoek word tydens die toer wat van Saterdag, 4 Februarie, tot Vrydag, 17 Februarie, plaasvind.
Dr. Johann Strauss, senior navorser by die Wes-Kaapse departement van landbou se plantproduksie-instituut, sê die ondervinding in die Wes-Kaap is dat geenbewerking nie net aan kommersiële boere voordele bied nie, maar ook in die wisselbouproewe van die departement van landbou. “Heelparty boere het egter ‘n plafon bereik en daar is ‘n behoefte om geenbewerking verder te neem om nader aan bewaringsboerdery te beweeg, met die bewaring van alle oesreste.”
Strauss meen die voorgenome besoek aan Brasilië en Paraguay sal hopelik hul vrae beantwoord. “Die lande is reeds deur die groeipyne wat ons nou ondervind. Ons beplan om nie net kommersiële boere te besoek nie, maar ook produsente wat op kleiner skaal boer. Ons woon ook ‘n werktuigskou by om te kyk of daar dalk moontlikhede is vir die ombouing van ons bestaande werktuie om meer stoppel te kan hanteer.”
Die ghoeroe gaan saam
Daarom gaan mnr. Rolf Derpsch, bewaringslandbou-ghoeroe van Paraguay, wie se kundigheid oor vier vastelande strek, die toer meemaak. Derpsch is bekend om sy beklemtoning van die belangrikheid van die behoud van stoppels en ander oesreste ná die oes. Hy het Wes- en Suid-Australië in 2004 op uitnodiging van die Wes-Australiese geenbewerkingsvereniging, graannavorsingsinstansie en die Australiese departement van landbou besoek. In die verslag wat hy ná sy besoek opgestel het, skryf hy dat onvoldoende grondbedekking en oesreste veral Wes-Australiese boere verhoed om alle voordele van geenbewerking te realiseer.
Hy het voorgestel dat daar groter diversiteit in Australiese wisselboustelsels nodig is, groenbemesting met dekgewasse as ‘n manier van diversifikasie oorweeg moet word en geenbewerkingstelsels met die volle behoud van stoppels en die gebruik van skyfplanters ontwikkel moet word ten einde die verdamping en afloop van water te verminder, watergebruiksdoeltreffendheid te verhoog en onkruiddruk te verlaag om uiteindelik die volhoubaarheid van die stelsel te verseker.
Strauss sê hy hoop dat daar ná die toer ‘n taakspan van kundiges en boere saamgestel kan word om geenbewerking vorentoe te neem.
Enigiemand wat meer inligting oor die toer verlang, kan dr. Johann Strauss kontak by tel.nr. 082 907 3109 of by e-pos johannst@elsenburg.com of Strauss.butch@telkomsa.net.
14 Desember 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)