|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Die mielieboere wat in die toekoms geld gaan maak, is diewat aan die voorpunt bly met nuwe tegnologie om koste te verlaag, opbrengs te verhoog en só meer wins te maak. Die totale verbouings- en bemarkingsomgewing verander egter so vinnig dat gister se planne nie noodwendig môre nog werk nie.
Deel van baie mielieboere se probleem om 'n wins met diegewas te maak, is dat hulle nie weet wat die minimum prys is wat hulle moet realiseer om gelyk te speel nie. As hulle weet wat die mielies hulle per ton kos, weet hulle teen watter Safex-prys 'n wins gemaak kan word.
Mnr. Pieter van Zyl, landbou-ekonoom van Senwes se landboudiens op Klerksdorp, het al die gegewens van 23 mielieboere van 'n studiegroep in die Noord-Vrystaat ontleed.
Heelwat produsente het die afgelope seisoen goeie opbrengste (tot een ton hoër as die langtermyngemiddelde) behaal, maar graanpryse was veral teen oestyd laag. Die rand was sterk, maar die produksiekoste het hoog gebly. Dit laat die vraag ontstaan: Maak mielieboere nog geld?
In figuur 1 is die minimum Safex-prys bereken wat die23 boere vir hul mielies moet kry om gelyk te speel. Alle koste van saad tot skulddelging is in ag geneem om die totale koste per hektaar mielies in November 2003 (planttyd) te bereken.
Diekoste is gedeel deur die boer se gemiddelde langtermynopbrengs om die koste per ton te kry. Mnr. Van Zyl het aanvaar dat prysverskansing teen vastepryskontrakte vir Julie 2004 (strooptyd) gedoen is, wat nie aanbeveel word nie, maar die berekening vergemaklik.
Gelykspeelpryse is net só bereken en die verskansings- en vervoerkoste is bygetel om die koste per ton en gelykspeelprys op Safex te bereken soos in figuur 1 aangedui.
Volgens diesyfers moes Boer 23 minstens R693/ton op Safex realiseer om al sy koste te delg, terwyl Boer 1 minstens R1 198/ton moes kry - 'n beduidende verskil van R505/ton.
Teen November 2003 se gemiddelde Safex-prys van R984/ton vir kontrakte in Julie 2004 kon 16 (70 %) van die medewerkers 'n wins realiseer as hulle hul hele oes met planttyd verskans en hul gemiddelde langtermynopbrengs behaal het.
Niemand verskans waarskynlik sy hele oes met planttyd só nie, maar diesyfers wys nietemin dat mielies met planttyd verlede jaar 'n winsgewende opsie was, gegewe 'n normale reënseisoen.
Met oestyd vanjaar was die gemiddelde Safex-prys R881/ton vir wit mielies. Met geen vooraf verskansing nie sou net 6 (26 %) van die medewerkers 'n wins kon maak met 'n Safex-afgeleide prys in die kontantmark. Augustus se Safex-prys was R939/ton en 11 (48 %) van die medewerkers sou teen dieprys 'n wins maak.
Indien al die medewerkers 'n half ton minder mielies as hul langtermyngemiddelde geoes het, sou net twee (9 %) sonder vooraf verskansing 'n wins kon maak.
Uit diegegewens is dit duidelik dat net boere wat uitstekende opbrengste kry wat teen 'n lae koste per ton geproduseer word, dit kan bekostig om mielies sonder enige verskansing teen oestyd te verkoop.
Graanpryse neig normaalweg laer met strooptyd, wat vereis dat boere die prys van soveel van hul mielies moontlik voor strooptyd moet vasmaak. Studies in Amerika het gewys dat boere wat hul graan gereeld gedurende die seisoen verskans, op die lang duur hoër gemiddelde pryse realiseer. Só word die risiko oor die verskillende markfases versprei en word gepoog om die stygende neiging met planttyd te benut en so min as moontlik teen strooptydpryse te verkoop.
Van Zyl sê sy eie navorsing wys dat boere wat teen 'n gemiddelde netto mielieprys van R900/ton tot R1 000/ton 'n goeie opbrengs kry, 'n betreklik goeie wins kan maak nadat hul skuld betaal is.
In die algemeen is individuele boere prysnemers, maar dit beteken nie almal realiseer lae graanpryse nie. Volgens figuur 2 was die verskil tussen die hoogste en laagste netto pryse wat boere in 2002/03 gekry het, R611/ton. Die gemiddelde prys per ton wat elke medewerker ná aftrekkings gekry het, word ook aangedui.
Sedert die ontstaan van Safex het die pryse elke jaar aansienlik gewissel. Die kleinste prysverskil tussen die hoogste en laagste prys in 'n bepaalde seisoen was net meer as R300/ton.
Gewoonlik is die Safex-prys hoog in Februarie en vanjaar het dit op 2 Februarie op 'n hoogtepunt van R1 517/ton gedraai. Produsente sê maklik hulle kan diehoë pryse nie benut nie omdat daar dan nog nie 'n oes op die land is nie.
Maar, sê Van Zyl, onlangs het 'n boer hom vertel dat hy in die 50 jaar wat hy op sy plaas boer, nog elke jaar kon plant en hy het net twee keer nie 'n oes gekry nie.
"Is daar dan werklik 'n geldige verskoning hoekom minstens een derde of 'n kwart van die oes nie in Februarie verskans kan word nie? En as dit dan te riskant is, wat van Maart? Hoë pryse kan en moet benut word", sê Van Zyl.
'n Goeie mielieprys is dieprys wat al die koste dek en 'n bevredigende winsmarge bied. Elke boer moet daarna streef en daadwerklik planne maak om eerder elke jaar 'n hoë gemiddelde prys te realiseer as om elke jaar die hoogste prys te probeer tref.
Graanprysbestuur is eintlik niks anders as 'n rekenkundige oefening nie. Die boer moet voor planttyd presies bereken wat dit hom gaan kos om een ton mielies te produseer en diekosteberekening moet deur die seisoen elke maand aangepas word.
Deur die seisoen moet dieaangepaste koste per ton vergelyk word met die Safex-prys. Hy moet dus net verskans as die prys wat hy kan kry, meer is as sy koste en 'n aanvaarbare wins verseker.
"Vir van die medewerkers in die studiegroep is 'n hoë kostestruktuur 'n feit. Daarby is die potensiaal van hul grond laag, maar hulle weet dat as hulle die graanprys goed bestuur, hulle 'n wins maak," sê hy.
Huidige prys maak plant moeilik
As die huidige graanpryse nie noemenswaardig verbeter nie, gaan baie boere in die somersaaigebiede nie dieseisoen 'n wins maak nie.
In die provinsies Noordwes en Gauteng is die totale produksiekoste R2 117/ha vir 'n opbrengsmikpunt van 2 ton/ha. As die mikpunt behaal word, is die koste dus R1 059/ton. Die verskansingskoste is R62/ton en as die vervoerdifferensiaal van R100/ton bygereken word, moet 'n minimum prys van R1 220/ton vir Julie 2005 vasgemaak word om gelyk te speel.
As Julie 2005 se Safex-prys hoër as die berekende minimum prys is, kan die boer plant, maar as dit laer is, moet hy dit oorweeg om nie te plant nie, veral as die aanduidings goed is dat die prys nie gaan styg nie.
Op 1 Oktober was die Safex-prys vir wit mielies gelewer in Julie 2005 net R1 022/ton.
Watter strategie moet boere dieseisoen volg? Moet hulle hoegenaamd plant? Die volgende is van belang:
Die tabel beeld die beraamde produksiekoste uit van mielies vir die seisoen 2004/05 in die verskillende produksiegebiede binne Senwes se bedieningsgebied. Al die produksiekoste én skulddelging en private onttrekkings is in ag geneem om die totale produksiekoste per hektaar te kry.
Die verskansingskoste en vervoerdifferensiaal word bygereken om te bepaal wat Julie 2005 (strooptyd) se minimum Safex-prys moet wees om gelyk te speel. Dieaanname word gemaak sodat die boer hom volledig met termynkontrakte kan verskans. Dieselfde metode word gebruik as opsies pleks van termynkontrakte gebruik word.
In dietabel is net vir minimale skuld voorsiening gemaak. Oorlaatskuld moet ook in ag geneem word. Daar is aanvaar dat die jaarlikse huurkoop- en paaiemente op grondskuld (kapitaal en rente) onderskeidelik R250/ha en R50/ha is.
Waar geen huurkoopverpligtinge is nie, behoort die boer nogtans R200/ha tot R300/ha opsy te sit vir die toekomstige vervanging van werk- en voertuie. Die totale oorhoofse koste word deur die aantal hektare gedeel om die koste per hektaar te kry.
Hoewel boere met 'n lae produksiekoste teen die lae graanpryse 'n wins kan maak, is dit uit diegegewens duidelik dat veral boere wat heelwat skuld het, beswaarlik in die komende seisoen op 'n wins kan staatmaak.
'n Swak jaar gaan ook nie noodwendig die graanpryse laat styg nie, want daar is 'n groot oordragvoorraad mielies in die silo's. Boere moet onthou dat die mielieprys, weens verskeie faktore, eerder laer as hoër kan neig.
Die benadering moet wees om net op die beste beskikbare grond teen die laags moontlike koste te plant en met die beste tegnologie die hoogste opbrengs te probeer behaal. Goeie graanprysbestuur om prysstygings te benut, is ook 'n vereiste.
Diegegewens kan omsigtig op ander gebiede van toepassing gemaak word, maar elke boer moet sy eie berekenings doen, want elkeen se gegewens verskil onderling. Gebruik die tabel as 'n riglyn. Dieselfde metode kan vir ander gewasse gebruik word en boere kan by Senwes se landboudiens-kantore aanklop om inligting.
19 November 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24