|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Ten spyte van teenstrydige berigte in die media is winsgewende graanproduksie onder huidige mark- en produksie-omstandighede onmoontlik, sê mnr. Neels Ferreira, die voorsitter van Graan SA.
Hy sê die jaar-op-jaar styging in insetkoste is so dramaties dat dit nou amper 80% meer kos om somergraanoeste in te sit as in die vorige seisoen. "Prysvooruitsigte gemeet aan die verskillende Safex kontrakte van mielies, sojabone en sonneblomsaad vir lewering in mei en Julie volgende jaar is tans van so 'n aard dat produksiekoste teen selfs bo-gemiddelde opbrengste moeilik verhaal kan word," voeg hy by.
Die prys van kunsmis het met tussen 141% en 244% gestyg, landbou-chemikalieë kos gemiddeld 65% meer, diesel is sowat 50% duurder en die pryse van landboumasjinerie is gemiddeld 20% hoër.
Die pryse van mielies vir lewering in Julie 2009 het vandeesweek tot onder R1 925 per ton gedaal. Dit is laer as die R2 000 per ton wat in Julie 2008 behaal is. Die pryse van sonneblomsaad en sojabone vir lewering in Mei 2009 het onderskeidelik met 21% tot R1 200 per ton en 17% tot R700 per ton gedaal.
Graan SA bereken dat negatiewe marge bo totale koste van sowat R110 per ton vir mielies teen 'n gemiddelde opbrengs van vier ton per ha kan realiseer. Sojabone en sonneblomsaad, teen 1,5 ton per ha, sal negatiewe marge van onderskeidelik R975 per ton en R369 per ton behaal.
Ferreira meen dit sal aanplantings laat krimp, maar as die klimaat saamspeel behoort voedselsekerheid nie ongunstig geraak word nie. Bemarking en doeltreffende produksie is nou belangriker as ooit, sê hy.
10 Oktober 2008
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24