|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Inleiding
Graansorghum is een van die belangrikste graanprodukte in Suid-Afrika, saam met mielies, koring, sonneblomme en sojabone. Dit is in Amerika op twee na die derde graanproduk en internasionaal is dit op vier na die belangrikste.
Die lande waar die meeste graansorghum verbou word, is Amerika, Indië en Nigerië. In China, sommige Suid-Amerikaanse en ander Afrika-lande word ook heelwat graansorghum verbou.
Graansorghum word vir menslike en dierlike verbruik benut. In Afrika word dit meestal vir menslike gebruik benut, maar in Amerika hoofsaaklik as dierevoedsel.
Vir menslike verbruik word dit as heel pitte gekook, tot ’n gruis gestamp of tot ’n meel gemaal waarvan pap, brood en koekies gemaak word. Nog ’n belangrike produk is bier wat daarvan gebrou word. As dierevoeding word dit dikwels saam met ander produkte, soos mielies, gemeng.
Oppervlakte
In Suid-Afrika het die oppervlakte onder graansorghum heelwat gewissel met ’n gemiddeld van net meer as 80 000 hektaar die afgelope tien jaar. In 2004 is die meeste graansorghum nog aangeplant, naamlik 130 000 hektaar.
Die minste aanplantings was in 2006 toe net 37 000 hektaar aangeplant is. (Aangedui deur die blou stafies in grafiek 1 – lees af regs op die grafiek.)
Die oppervlakte aangeplant vanjaar is volgens die jongste oesskatting 20% minder as in die vorige jaar en die skatting is tans sowat 69 000 hektaar. Hiervan is 43 000 hektaar in die Vrystaat, 18 000 hektaar in Mpumalanga, 9 000 hektaar in Limpopo en 5 000 hektaar in Noordwes beplant.
Grafiek 1
.jpg)
Produksie
Produksie volg grootliks dieselfde patroon as die oppervlakte aangeplant. Die grootste oes – 449 000 ton – is in 2004 gelewer. Die swakste oes – 210 000 ton – is in 2006 gelewer.
Die gemiddelde oes die afgelope tien jaar was 263 000 ton waarvan ongeveer 225 000 ton deur kommersiële boere geproduseer is en die balans van sowat 38 000 ton deur bestaansboeres. (Volg die rooi lyn in grafiek 1 – lees af van die linkerkant van die grafiek).
Die jongste oesskatting toon egter dat die oes 233 000 ton sal wees wat sowat 3% meer is as die 226 000 ton van verlede jaar.
Die Vrystaat het die afgelope tien jaar byna die helfte van die sorghumoes opgelewer, naamlik 47%. Mpumalanga het byna ’n kwart van die oes geproduseer, naamlik 23%.
Ander provinsies wat ’n redelik goeie bydrae gelewer het, was Limpopo 8%, Noordwes 5% en Gauteng 3%. Die ander provinsies asook nie-kommersiële landbou het gesamentlik sowat 14% gelewer. (Sien grafiek 2 hieronder)
Grafiek 2

Opbrengs per hektaar
Die gemiddelde opbrengs die afgelope dekade was net meer as 3 ton/ha. Die jongste oesskatting toon ’n verwagte opbrengs van 3,4 ton/ha wat heelwat beter is as die 2,6 ton/ha van verlede jaar. Gauteng en Mpumalanga het die beste opbrengste die dekade gehad met 3,4 ton/ha en 3,3 ton/ha onderskeidelik.
Die Vrystaat en Noordwes se opbrengs was baie dieselfde met 2,6 ton/ha en 2,5 ton/ha, terwyl Limpopo ietwat swakker gevaar het met 2,2 ton/ha. Die huidige oesskatting toon ‘n verbetering in al die provinsies met Mpumalanga wat ’n uitsonderlik hoë 3,9 ton/ha verwag.
Verbruik
Die afgelope tien jaar is ongeveer 77% van Suid Afrika se sorghumproduksie vir menslike verbruik benut. Slegs sowat 5% is vir dierlike verbruik benut en sowat 18% is uitgevoer.
Uit grafiek 3 blyk dit dat daar betreklik min wisseling was in die menslike verbruik van sorghum die afgelope dekade. Dierlike verbruik sowel as uitvoer toon ‘n geleidelike afname in dieselfde tydperk.
Volgens die jongste Maandelikse Voedselsekuriteitsbulletin (Maart 2011) was die totale vraag na sorghum in die tydperk April 2010 tot Maart 2011 soos volg:
Menslike verbruik: 181 000 ton
Veevoer: 8 000 ton
Direkte lewerings/terughou op plase: 21 000 ton
Uitvoer: 29 000 ton
Grafiek 3.jpg)
Inkomste
Tussen 2002 en 2004 bemarkingsjare het die bruto inkomste verdien uit graansorghum gewissel tussen R350 miljoen en R400 miljoen per jaar. In die daaropvolgende twee jaar het dit drasties verswak tot net meer as R100 miljoen per jaar.
In 2007 het dit weer verbeter tot meer as R300 miljoen en in 2008 is ’n rekord-inkomste van R520 miljoen behaal. Daarna het dit weer begin afneem en in 2009 is R475 miljoen en in 2010 R314 miljoen behaal. Die gemiddelde prys die dekade was R1 240/ton. Die laagste prys, R450/ton, was in 2005 en die hoogste prys van R1 774/ton in 2008.
Opsomming
Graansorghum is wêreldwyd ‘n belangrike produk in die voedselketting vir mens en dier. Dit word soms in mededinging met en soms aanvullend tot ander produkte gebruik. In Suid-Afrika het die oppervlakte aangeplant ietwat gedaal die afgelope tien jaar en is die totale produksie hierdie seisoen ook ietwat onder die gemiddeld.
Die Vrystaat en Mpumalanga is die grootste produksiegebiede. ‘n Mens wonder of ’n provinsie soos Noordwes nie kan verbeter nie aangesien sorghum droër en warmer toestande verkies. Daar is binnelands en in die buiteland ’n goeie vraag na die produk en pryse is baie goed vergeleke met ander produkte, soos mielies.
Die produksiekoste van sorghum en ander grane verskil nie wesenlik van mekaar nie. Die vraag ontstaan dus hoekom boere nie meer graansorghum aanplant nie in die lig van die knaende oorproduksie van mielies.
Bronne:
• Kortbegrip van Landboustatistiek - 2011
• Direktoraat landboustatistiek van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye
• Nasionale Oesskattingskomittee
• Maandelikse Voedselsekuriteitsbulletin (Maart 2011)
• Alternative Field Crops Manual: University of Wisconsin: USA
• NASS, USA Department of Agriculture.
26 April 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)