|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Die strategiese toediening van stikstof op gras-klawerweiding kan dieweiding se produksie verbeter. Te veel stikstof kan dit egter benadeel. 'n Navorser verduidelik hoe dit werk.
Die algemene toediening van stikstof op meerjarige raaigras-witklawerweidings om droëmateriaalproduksie te verhoog, is nie 'n algemene praktyk nie. Dit word gewoonlik aanvaar dat die klawerkomponent, wat in staat is om lugstikstof te bind, genoeg stikstof deur hersirkulasie aan die graskomponent beskikbaar stel om hoë produksie te handhaaf.
Gedurende die somer, wanneer die temperatuur gunstig is, behoort die proses van simbiotiese stikstofbinding, hersirkulasie van stikstof deur die weidende dier asook verhoogde mineralisering van grondstikstof wel in die stikstofbehoeftes van die weiding te kan voorsien.
'n Probleem ontstaan egter wanneer die temperatuur daal en die stikstofbindende bakterieë minder aktief raak, tesame met 'n verlaging in die stikstof-mineraliseringstempo in die grond. Dit is dus nie net 'n geval van minder beskikbare stikstof nie, maar ook van stadiger groei weens die laer temperatuur. Die nadele hiervan vir die produksietempo van droë materiaal plaas kwaai druk op voervloeibeplanning. Voertekorte kom soms voor.
Hierdie probleem kan oorkom word met 'n strategiese toediening van stikstof. Dit moet egter oordeelkundig gedoen word omdat die onoordeelkundige stikstofbemesting van gras-klawerweidings kan veroorsaak dat die klawer verdwyn, of dat die klawerinhoud van die weiding só afneem dat die voordeel daarvan in 'n mengsel verdwyn.
Dit is bekend dat stikstofbemesting die klawer in weiding laat verdwyn. Boere vra dus dikwels met reg hoeveel en wanneer stikstof toegedien moet word sodat die voordele die nadele van hierdie bemesting oortref.
Navorsing aan die Landbou-ontwikkelingsentrum Elsenburg het getoon dat hierdie vrae nie lukraak beantwoord kan word nie.
Eers moet seker gemaak word dat die toegediende stikstof deur die wortels opgeneem word of minstens in die wortelgebied beskikbaar is - en ook nie in hoeveelhede wat die weiding se opnamevermoë oorskry nie. Die wortelstelsel van die weiding is baie vlak - meer as 90 % van die wortels is in die boonste 100 mm van die grond.
Omdat strategiese stikstofbemesting meestal in die koeler maande hoort, moet ook in ag geneem word dat plantaktiwiteit laer is as in die somer en stikstof stadiger opgeneem word. Deur dus te veel stikstof te gee, kan 'n groot persentasie daarvan uit die wortelgebied gewas word en tot buite bereik van die wortels beweeg.
As die stikstof dieper as die wortelsone beweeg, vergroot die moontlikheid van besoedeling van natuurlike hulpbronne.
'n Verdere nadeel is die gepaardgaande verlaging in die stikstofverbruiksdoeltreffendheid namate meer stikstof uit die wortelgebied loog, en nie bydra om meer droë materiaal te produseer nie. Hoewel die klei-inhoud van grond op Elsenburg toeneem van 10 % by die oppervlak tot 30 % op 'n diepte van 500 mm, is stikstofbeweging in sekere toestande al tot in die gebied 400 mm tot 500 mm binne een week waargeneem.
Baie stikstof kan weens uitloging verlore gaan as dit koud en nat is, soos in die Wes-Kaapse winters.
Op Elsenburg is die effek van 50 kg, 100 kg en 150 kg stikstof per hektaar as enkeltoediening in die vroeë winter, laat winter, vroeë lente of laat lente op die produksie van droë materiaal, die klawerinhoud en sekere gehalteriglyne van 'n meerjarige raaigras-witklawerweiding ondersoek.
Redelik baie stikstof is gebruik om gedeeltelik te vergoed vir die beperkte hersirkulasie van stikstof omdat die weiding net sowat vier maande lank bewei is.
Die toediening van meer stikstof het die droëmateriaalproduksie in alle seisoene geleidelik verhoog tot 'n maksimum by 150 kg/ha. Dit kan egter nie sonder meer aanbeveel word dat 150 kg stikstof per hektaar die beste resultaat sal lewer nie.
Hoewel die droëmateriaal-produksieverskil groter is met 150 kg/ha, sal die 50 kg/ha doeltreffender bykomende droëmateriaalproduksie tot gevolg hê. Dus sal 50 kg/ha meer droë materiaal produseer vir elke kilogram stikstof toegedien in vergelyking met die toedienings van 100 kg en 150 kg.
In geval van die toediening van 150 kg/ha het die klawerkomponent die meeste gely. Die klawerinhoud van die mengsel het tot minder as 30 % gedaal. Dit is die minimum inhoud wat nodig is om die voordeel van die klawerkomponent te behou.
Die stikstofpeil is egter nie die enigste veranderlike wat hier 'n rol speel nie. Die seisoen wanneer dit toegedien word, moet ook in ag geneem word. In hierdie verband moet boere bepaal wanneer die bykomende weiding nodig gaan wees. Omdat geen twee opeenvolgende jare identies is nie, is die tyd van toediening só gekies dat herfs, winter en lente ingesluit is.
In die navorsing is bevind dat die stikstoftoediening in die vroeë en laat lente die hoogste droëmateriaalproduksie gelewer het.
Die laatlente-toediening se effek op die wintergaping is klein omdat natuurlike toestande die produksie van droë materiaal van weiding verhoog namate temperature in die lente styg. Volgens die syfers het die seisoen wanneer stikstof toegedien word, nie 'n duidelike effek op die klawerpersentasie nie.
'n Eenvoudige besluit
Om te besluit wanneer stikstof aan gras-klawerweiding toegedien moet word, is redelik eenvoudig, sê mnr. Johan Labuschagne. Stikstof sal gewoonlik binne die eerste hergroeisiklus (vier tot vyf weke) ná stikstoftoediening deur die plant opgeneem en die effek in verhoogde droëmateriaalproduksie waargeneem word.
Die bepaling van die hoeveelheid stikstof wat toegedien moet word, is egter ingewikkelder. Dit word deur verskeie faktore bepaal, onder meer:
Voorlopig kan dus afgelei word dat toediening van 25 kg tot 50 kg stikstof per hektaar onder volle beweiding die gewenste uitwerking behoort te hê mits 'n klawerinhoud van sowat 45 % tot 50 % bestaan wanneer dit toegedien word.
In koue, nat toestande behoort eerder nader aan 25 kg/ha stikstof gegee te word. In warmer toestande behoort 50 kg/ha beter resultate te lewer, sê Labuschagne.
29 Julie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24