|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Suid-Kaapse dekriet is besig om besonder gewild te word - in
Suid-Afrika én oorsee. 'n Aantal boere vestig dit op groot skaal en het 'n
lonende bedryf met heelwat uitvoermoontlikhede op die been gebring.
Die meeste mense sal dalk hoogstens aan luukse grasdakhuise en lapas vir braaivleisvure dink as dekriet ter sprake kom. Min besef waarskynlik dat dekriet uit die Suid-Kaap besig is om 'n stewige landboubedryf te word en dat aansienlike hoeveelhede al uitgevoer word.
Mnre. Pierre Taljaard, 'n sakeman-boer van Mosselbaai, en Nico Malan van die plaas Neliesgif by die Gouritsriviermond, is egter besig om in die pragtige Suid-Kaapse kuslandskap 'n lonende bedryf met dekriet te vestig wat dalk kan bydra daartoe dat Suid-Afrika hom moontlik as een van diedekrietproduserende lande van die wêreld kan vestig.
Dekriet uit die gebied om Albertinia en tot aan die kus is al jare lank in Suid-Afrika bekend vir sy gehalte en geskiktheid vir dakke. Afgesien van die groeiende binnelandse mark daarvoor, het buitelanders dit nou ook ontdek, veral in die lande om die Middellandse See.
Mnre. Malan en Taljaard het begin om heuningbostee te kweek, maar omdat soveel dekriet daar groei, het hulle aan die moontlikheid begin dink om dit op groot skaal te begin kweek. Dekriet aard uitstekend op die grond net langs die kuslyn, en kom natuurlik daar voor.
Die besluit om dekriet te kweek, is geneem om "'n pad sáám met die natuur te loop pleks van daarteen". Die gebied is die enigste in Suid-Afrika waar sulke goeie dekriet natuurlik voorkom. Die klimaat is ideaal daarvoor.
Dekriet groei stadig en is dus 'n langtermyngewas. As dit vandag geplant word, is dit eers oor vier tot vyf jaar gereed om gesny te word. 'n Pol het daarna weer vier tot vyf jaar nodig om 'n oes te lewer.
Mnr. Malan sê daar was 'n aantal ou saailande langs die see waar mense baie jare tevore allerlei gewasse onsuksesvol probeer kweek het. Die oorspronklike kusgewasse wat destyds uitgehaal is om plek te maak vir ander gewasse groei nie weer nie, al word die grond 25 jaar of langer met rus gelaat.
Hulle het besluit om dieou en onooglike kaal saailande met dekriet te beplant - omdat hulle gemeen het dat dit maklik sal groei en dit die grond teen erosie en aftakeling sal beskerm. Só kan waarde ook geskep word vir andersins waardelose grond.
Hulle het ook aangeneem dat die grond nie vooraf gepamperlang hoef te word nie - ál wat nodig was, was om die riet te vermeerder en in die grond te kry.
Daarna is die belangrikste vereiste geduld, sê mnr. Malan. Die dekriet groei stadig en kan nie "aangejaag" word nie. Dit is juis diestadige groei waaraan die uitstekende gehalte van die Albertinia-dekriet toegeskryf word - dit word as van die beste ter wêreld gereken. Die riet is besonder hard en hou 30 tot 40 jaar op 'n dak. As die groei kunsmatig versnel sou word, sou dit die tekstuur beduidend verswak.
Dit is juis diebesonderse eienskap wat die Albertinia-riet so gesog maak en mense bereid maak om heelwat meer daarvoor te betaal as vir ander soorte dekriet wat soms minder as tien jaar hou.
Sowat 100 000 bossies word van 'n hektaar geoes. Elke pol gee 8 tot 10 bossies, en gemiddeld 7 000 tot 10 000 polle word per hektaar geplant.
Teen R2 per bossie kan 'n hektaar grond elke vier jaar gemiddeld R150 000 lewer. En die enigste koste is dievan die vestiging en oes. Wat meer is, dit is grond wat andersins 'n lae vlak van produktiwiteit sou hê
Heelwat riet word reeds na onder meer Spanje en Amerika uitgevoer. Daarby het 'n aantal Suid-Afrikaners hul kennis en ervaring in die buiteland gaan bemark en huise se dakke daar gaan dek.
Mnre. Taljaard en Malan meen die uitvoer van riet stimuleer die binnelandse prys, want diewat uitgevoer word, word in dollar betaal. Omdat die aanvraag die aanbod oorskry, bly die prys goed en styg selfs. Redelik onlangs nog was die prys R1,30 per bossie. Tog word besef dat enige produk gekelder word as die prys daarvan te vinnig te veel styg.
'n Fyn balans is nodig, en daarom word teen buitensporige stygings gewaak. Die gevaar is dat, wanneer dit te duur word, 'n plaasvervanger kort voor lank op die toneel sal verskyn.
Mnr. Malan sê die plaas behoort aan 'n Duitse eienaar met wie hy nou in vennootskap is. Die hele natuurreservaat by die Gouritsriviermond, wat vroeër deur die Regering gebruik is, is 'n klompie jare gelede deur die Duitser gekoop. Dit is 1 000 ha groot. In diestadium is 15 ha tot 20 ha reeds onder dekriet en dit gaan in die volgende paar jaar tot 70 ha vermeerder word.
Oorproduksie nie 'n gevaar
Dekriet word in die winter geplant. Die grond word geploeg en voortjies daarin gemaak, waarna die plante sowat 2 m uitmekaar daarin geplant word. Geen besproeiing is nodig nie.
Mnr. Pierre Taljaard sê dekriet is nog nie vantevore op 'n georganiseerde manier gevestig nie. Tot nou is die bestaande polle in die veld geoes, maar die vraag het daarop gedui dat die riet wat natuurlik voorkom, gou nie meer genoeg sal wees nie.
Omdat daar nie 'n algemene metode bestaan om dekriet te vermeerder nie, het hulle aanvanklik met saad geëksperimenteer.
Pogings om die riet met saad te vermeerder, het nie eintlik gewerk nie, want die ontkieming is swak, gewoonlik minder as 5 %. Allerlei proewe is onder andere deur 'n bekende botanikus, dr. Hannes de Lange van Oudtshoorn, gedoen, maar dit was meestal taamlik onsuksesvol.
Die antwoord was uiteindelik ongelooflik eenvoudig: Hulle het van die polle uitgehaal en verdeel. Tot 50 klein plantjies kan uit 'n enkele pol gemaak word. Die slaagsyfer is presies 100 %, sê mnr. Taljaard.
In diestadium lyk dit nie of die polle ná 'n sekere aantal jare vervang hoef te word nie. Dit sal egter eers oor 'n paar jaar finaal bepaal kan word. 'n Metode is ontwikkel om dit só op te sny dat daar altyd 'n paar strategiese spriete agterbly wat hergroei stimuleer.
Die produksie op die plaas Neliesgif by die Gouritsriviermond is sowat 230 000 bossies dekriet per jaar. Die aanplantings op die plaas is só beplan dat elke jaar 'n blok geoes kan word op 'n rotasiestelsel - só daar is elke jaar riet vir oes beskikbaar. Met die aangeplante riet kan nou fyner beplan word, want hulle weet presies hoeveel hektaar elke jaar geoes kan word.
Oorproduksie lyk onwaarskynlik. Die vraag is reeds só groot dat geen surplusriet bestaan nie - so vinnig soos dit beskikbaar raak, só vinnig word dit verkoop. àl meer rietdakhuise word gebou omdat dit bepaalde voordele het en esteties en prakties is.
10 Oktober
2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24