|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Hoogs winsgewende oeste kan geproduseer word met baie minder stikstof as wat nou die norm is.
Die Rodale-instituut, Pennsilvanië, Amerika, het een van die grootste en oudste biologiese boerderyproewe ter wêreld. Dieproef is in 1981 van stapel gestuur en word nog op produksieskaal bedryf. Ál die persele word met standaard-plaastoerusting bewerk en geoes.
In die proef word konvensionele stikstofbemesting opgeweeg teenoor die aanwending van mis of peulplante. Gedurende die afgelope 15 jaar is die opbrengste van die mis- en peulplantbehandelings net so goed en in sommige jare selfs beter as dievan konvensionele stikstofbemesting.
Dít is 'n klinkklare bewys dat 'n mens winsgewend kan boer sonder stikstof. Maar dit is nie al voordeel nie. Wat volgens my oordeel van groter waarde is, en ek glo dat die meeste lesers sal saamstem, is die feit dat die persele waarop mis en peulplante gebruik is, in droë jare aansienlik beter gevaar het as die konvensionele persele.
'n Mens hoef nie ver vir die rede hiervoor te gaan soek nie. Die mis- en peulplantbehandeling het 'n verbetering in die grond se vermoë om water op te neem en te huisves tot gevolg gehad. Metings het aan die lig gebring dat die infiltrasietempo van water in die grond van die biologiese boerdery-persele meer as twee keer vinniger is as dievan konvensionele persele.
Vir Suid-Afrikaanse boere is dieinligting van groot belang, want 'n groot hap van die min reën wat ons wel ontvang, loop weg die grond kan dit nie vinnig genoeg opneem nie. Dit behoort duidelik te wees dat risikoverlaging 'n bewese voordeel van biologiese boerdery is.
Mnr. Neil MacGregor van die plaas Glenlyon, Nieuwoudtville, is een van Suid-Afrika se voorlopers op die gebied van biologiese boerdery. Hy het al diep voetspore in ons jammergronde getrap. Baie boere is deur hom geïnspireer om hul boerdery uit 'n doodloopstraat tot 'n volhoubare boerdery om te swaai.
MacGregor het Glenlyon in 1958 gekoop. In daardie stadium is sowat
1 000 ha bewerk vir koring op die rusoes-stelsel een jaar braak, een jaar koring. Wat biologiese vrugbaarheid betref, is dit 'n vernietigende praktyk. Soos hy dit stel: "Ek plaas 'n groot vraagteken agter die intensiewe verbouing van kontantgewasse in marginale reënvalstreke."
Hy het te make gehad met uitgeputte lande waarop hy sy boerdery moes begin. Wat sake nog verder bemoeilik het, is dat sy 6 000 ha grond in drie duidelike klimaatstreke afgebaken kon word. Binne 'n afstand van slegs 20 km wissel die reënval van 200 mm tot 500 mm per jaar. Grondtipes wissel aansienlik van ligte sand tot swaar klei. Hy moes dus drie afsonderlike biologiese boerderystelsels bedink en ontwikkel.
Om dít te doen, het hy baie proewe aangepak om gepaste peulplante vir die verskillende reënvalsyfers en grondtipes te vind. Dit is noemenswaardig dat hy dit nie vingeralleen probeer doen het nie. Bo en behalwe deurlopende kontak met weidingkundiges in Suid-Afrika, het hy 'n paar besoeke aan Australië gebring en hul kundiges genooi om op Glenlyon te kom kuier.
Soos afgelei kan word, het MacGregor opgehou met die verbouing van koring en in plaas daarvan peulplant- en kleingraanweiding gevestig. Sy fokus was op peulplante, juis met die herstel van die biologiese vrugbaarheid van die grond in gedagte.
Vir die eerste 10 jaar het hy stikstofkunsmis gebruik, maar vir die laaste 35 jaar het hy geen kunsmatige stikstof aangekoop nie. Verder het hy ook geen insek- of swamdoders in hierdie tydperk aangewend nie. Daar word wel op 'n beperkte skaal van onkruiddoders gebruik gemaak. Hy het dus 'n boerdery met 'n lae onkoste, waarop tot 3 500 Merino's aangehou word.
'n Besonder suksesvolle proef met ondergrondse klawer is uitgevoer op diedeel van die plaas wat 500 mm reën kry. Die klawer is 'n selfsaaiende eenjarige weiding. Hy het een hektaar daarvan gevestig en dit dwarsdeur die jaar met hamels bewei. Die groenweiding is in die winter benut en die drakrag was daarop ingestel om te sorg dat 'n redelike massa onbenutte materiaal die somer ingedra is.
Die weiding het voldoende saad gemaak om hergroei te verseker. Op diewyse is 10 hamels per hektaar gedra, vir 365 dae per jaar oor 'n tydperk van drie jaar. Van die hamels is gemiddeld 9,6 kg wol stuk geskeer 'n totaal van 96 kg/ha. Die koste van die weiding was beperk tot die vestiging daarvan in die eerste jaar. Hy het slegs 100 kg superfosfaat per jaar toegedien. 'n Mens kan die sommetjie maak soos jy wil, maar die gevolgtrekking moet wees dat die boerdery hoogs winsgewend is.
Oor die jare heen het erdwurms hul verskyning op Glenlyon gemaak. Dit het in só 'n mate gebeur dat Glenlyon vrugbare terrein was vir erdwurmnavorsing deur die Universiteit van Stellenbosch. MacGregor se boerdery is inderdaad 'n ware model van 'n suksesvolle biologiese boerdery.
Mnr. Jack Human van die plaas Eerstekop, Heidelberg, is ook 'n boer wat besig is om 'n baie groot bydrae tot die totstandkoming van biologiese boerdery in Suid-Afrika te maak. Die waarheid is dat Human nie met die einde in sig begin het nie, soos wat Stephen R. Covey in sy boek The Seven Habits of Highly Effective People aanbeveel. Hy het 'n ander einde in sig gehad om grondverspoeling te keer.
Met die groot reën in 1981 tydens die Laingsburg-ramp het een van sy lande gruwelik verspoel in só 'n mate dat dit 'n suipdam aan die onderkant van die land heeltemal toegeslik het. Toe hy dít gesien het, het hy vir homself gesê: "As dit nog twee keer in my lewe gebeur, sal daar niks wees vir my kinders om te erf nie."
Hy het daar en dan besluit om sy grondbewerkingspraktyke wat as standaard vir die gebied gegeld het te verander. Die verwydering van stoppels en die bewerking van die lande met skottelploeë is vervang met bewaringsbewerkingpraktyke. Deur die jare is 'n gesonde wisselboupraktyk ontwikkel. Lusern is op die helfte van die lande gevestig vir 'n tydperk van vyf jaar. Op die ander helfte van die lande word kleingrane en kanola in rotasie vir vyf jaar verbou. Human vind dat die ondersaai van kanola met lusern heel goed werk en sodoende sorg hy dat 'n land nie vir 'n seisoen braak lê nie.
Ná ongeveer tien jaar het erdwurms hul verskyning gemaak. Tans wemel die lande letterlik van hierdie gronddeurlugters en grondvoeders. Daar is nie 'n enkele plek op die lande van 2 000 ha waar jy hulle nie maklik sal vind nie.
Sowat vier jaar gelede het Human begin agterkom dat die koring al langs die kant van die land beter are vorm as dievan die res van die land. Hy het dieverskynsel met sy kunsmisraadgewers en medeboere bespreek, maar niemand het 'n verklaring daarvoor gehad nie.
Vroeg op 'n Sondagoggend het Human op die bult agter sy huis gaan stap. Met sy lande in sig, het hy die raaisel bepeins. Toe gaan daar vir hom 'n lig op. Die kant van die lande kry die helfte minder van die stikstof as die res van die land weens die feit dat hulle 'n kunsmisstrooier gebruik. Om egalige toediening te verseker, word daar dubbeld oorvleuel die oorvleueling gebeur natuurlik nie aan die kant van die land nie.
Voordat Human dieoplossing gekry het, het hy 60 kg stikstof per hektaar toegedien. Met die opbou van biologiese vrugbaarheid het die hoeveelheid stikstof duidelik te veel geword. Die oormatige stikstof het veroorsaak dat die koring "bevange" of te welig gegroei het. Die gevolg was die vorming van klein are, wat "oulike" aartjies genoem word.
Human het die LNR versoek om stikstofproewe op sy plaas te kom uitvoer. Die eerste jaar se resultate word in die tabel aangegee. In die proewe is bevind dat net 8 kg stikstof per hektaar die optimum bemestingspeil was. Dieinligting toon bo alle twyfel aan dat biologiese boerderymetodes uitstekende oeste kan produseer met baie min aangekoopte stikstof.
Human reken hy sal vorentoe 'n punt bereik waar hy geen stikstof hoef toe te dien nie. In die praktyk dien hy steeds 12 kg tot 15 kg stikstof per hektaar met planttyd toe. Addisionele stikstof sal net gegee word as dit baie reën en die toestande dit vereis.
Kursus oor biologiese melkboerdery
Stel jy daarin belang om die winsgewendheid van jou melkboerdery te verhoog? Indien wel, kan jy nie bekostig om mnr. Gary Zimmer se eendagkursus oor biologiese melkboerdery mis te loop nie.
Zimmer, van Mid-West Bio-ag raadgewende diens, Wisconsin, Amerika, bied vier eendagkursusse oor biologiese melkboerdery aan. Hy fokus op die produksie van weiding en ruvoer van hoë gehalte. Melkboere wat van volledige rantsoene gebruik maak, asook boere wat van weiding af melk, gaan almal baat vind by diekursus, aangesien Zimmer 'n spesialis op die gebied van albei produksiestelsels is. Hy voer self volledige rantsoene vir sewe maande van die jaar en melk van weiding af gedurende die kort somers in Wisconsin.
Twee van Zimmer se kragtige stellings is; "Jy koop nie stikstof nie jy verbou dit" en "Jy koop jou veearts-rekening by jou kunsmismaatskappy". Hy steun hierdie stellings met betroubare feite wat verkry is uit sy jare lange ondervinding van boerdery. Wat ook van belang is, is dat hy self geen kragvoer koop nie en steeds 'n stalgemiddeld van 30 liter per koei per dag handhaaf.
Zimmer gaan beslis inligting beskikbaar stel wat jou in staat sal stel om nie net melk meer winsgewend te produseer nie, maar ook om 'n gesonde kudde te hê.
Kursusse word aangebied in Stellenbosch (11 Maart), Port Elizabeth (15 Maart), Pietermaritzburg (17 Maart) en Kempton Park (19 Maart). Tree in verbinding met Annet McLardy by tel. 058 622 3585 en sel 082 562 8568, of Robert Fair by sel 083 226 2750.
16 Januarie 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24