|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Die verbouing van dekgewasse in wingerde is 'n omstrede praktyk. Nogtans begin ál meer wynboere "vuilbewerking" toepas, veral na aanleiding van die toenemende welslae wat daarmee behaal word.
Die "skoonhou" van wingerde word deur talle mense beskryf as 'n onnatuurlike praktyk wat oor tyd tot die agteruitgang van die grond se vrugbaarheid en struktuur lei. Daarenteen kan die regte keuse van dekgewasse 'n tussenry-verbouingspraktyk daarstel wat tot die voordeel van die grond se produksievermoë op die lange duur lei.
Diepraktyk kan die gehalte van druiwe verbeter sonder om opbrengs in te boet. Wynboere wat 'n geruime tyd lank dekgewasverbouing toepas, het al toenames in hul opbrengs getoon.
Die suksesvolle verbouing van dekgewasse is egter nie so eenvoudig as wat dikwels aanvaar word nie. Onkunde in dieverband het al tot menige teleurstellings gelei.
As 'n boer die kweek van dekgewasse oorweeg, moet hy deeglik navorsing doen voordat hy diestap doen. Hy moet kyk na aspekte soos die beskikbare gewassoorte en kultivars, asook die regte verbouingstegnieke.
Al staan diepraktyk nog in sy kinderskoene, is daar genoeg plaaslike kennis om aanbevelings te kan doen vir bykans elke plaas se eiesoortige toestande, hetsy 'n wingerd of vrugteboord.
Die wynplaas Faure, naby Somerset-Wes, produseer omgewingsvriendelike wyn sonder om gehalte en produksie in te boet. In die verlede het die verkeerde verbouingspraktyke die voortbestaan van diegeskiedkundige plaas bedreig.
Mnr. Adrian von Tuburgh, bestuurder van Faure, sê dekgewasse is sentraal in hierdie nuwe strewe en word nou as 'n standaardpraktyk beoefen. Hiermee is verrassende resultate binne 'n taamlik kort tyd behaal. Hy was opnuut verwonderd oor die grond se ongelooflike vermoë om vinnig te herstel as dit die geleentheid kry.
Volgens hom het dekgewasse, benewens 'n verhoging in grondvrugbaarheid, ook 'n besliste invloed op die mikroklimaat in die wingerd gehad deur byvoorbeeld toestande te "versag". Die relatiewe humiditeit tussen die loof van die wingerdstokke word daardeur verhoog.
Anders as by wingerde wat gewoonweg bewerk word, ervaar wingerde met dekgewasse minder stres in warm en droë tye. Fotosintese word gevolglik min benadeel. Selfs die jonger wingerde vind baat daarby.
Die plaas het 'n Adcon-weerstasie waarmee mikroklimaatstoestande by skoonbewerkte wingerde en dekgewas-wingerde gemonitor word. Die resultate is gevolglik op wetenskaplike metings eerder as misleidende waarnemings gegrond, sê mnr. Von Tuburgh.
Met behulp van vogmeters het hulle vasgestel dat dekgewasse nie die groei van wingerdstokke noemenswaardig beïnvloed nie - iets wat dikwels as 'n nadeel van dekgewasse voorgehou word.
Met die keuse van geskikte dekgewasse, soos kropaargras, is hulle in staat om vroeër toegang tot wingerde in nat dele te verkry. "Sulke dekgewasse dien as waterpompe waar die watertafel hoog is. Só word die boonste grondlae gouer toeganklik gemaak vir die wingerdstok se wortels. Die voorsprong wat verkry word, is vroeër bot."
Nog 'n groot voordeel van die gebruik van dekgewasse op Faure is dat die voorkomende bespuiting van chemiese onkruiddoder in die tweede jaar bykans onnodig is. Slegs besmette kolle word behandel.
Chemiese onkruiddoders is vroeër gebruik om bankies onkruidvry te hou, maar deesdae word die bankies met kaf as deklaag toegepak. Sodoende word grootliks verhoed dat onkruidsade ontkiem. Daarbenewens groei die wingerdstok se wortels nou ook in die vlakker grond wat deur die kaf vogtig en onkruidvry gehou is. Met skoonbewerking in die verlede was diedeel van die bogrond te hard en droog om deur die wingerd se wortelstelsel benut te word.
Ook die dekgewasse word bevoordeel deur die kaf se vermoë om grondvog langer te bewaar. Dit is slegs die smal strokie dekgewasse in die middel wat in die droë somer swaar kry.
Die standaardpraktyk met dekgewasse op laerliggende, nat grond, is om korog of hawer saam met 'n mengsel van kropaargras en serradella in die eerste jaar te vestig. Die korog of hawer dien as pleegouers deur die winter-onkruid te onderdruk terwyl die twee permanente dekgewasse gevestig raak.
Dekgewaskeuse vir die wingerde in gewone toestande in die eerste twee jaar word gekies uit óf korog óf hawer, gemeng met lupiene of weiwieke. Die gedagte is om grondtoestande te verbeter deur soveel moontlik plantmateriaal te produseer. In die derde jaar word 'n permanente dekgewas (meestal dwergswenkgras) gevestig as genoeg besproeiingswater beskikbaar is.
Op Faure word die dekgewasse nie met 'n bossiekapper fyn gekap of platgesny nie (die algemene gebruik). 'n Spesiale roller knak die gewasse. Sodoende word die plante toegelaat om steeds saad vir die volgende jaar se vestiging te produseer. Die saad word met 'n skotteleg ingewerk, wat 'n goeie stand die volgende jaar verseker. Dit verlaag saadkoste beduidend.
Volgens mnr. Von Tuburgh veroorsaak die platrol van dekgewasse dat meer plantreste vir bedekking van die grondoppervlakte beskikbaar is. Dit onderdruk die ontkieming van someronkruid, bevorder vogbewaring en verkoel die grond. Voorts word verdigting teengewerk aangesien trekkerwiele nie regstreeks met die grond kontak maak nie. Die platrol van dekgewasse verminder ook brandgevaar.
Danksy die inskakeling van dekgewasse het Faure vanjaar reeds 'n blok wingerd wat volkome vry van chemiese gifstowwe is. Volgens mnr. Von Tuburgh is dit die eerste ligpunt in hul strewe na gesonder boerderymetodes.
Gebruik regte mengsel, plantestand
Die keuse van die regte dekgewassoorte en kultivars het 'n groot invloed op die suksesvolle verbouing van dekgewasse. Dr. Nick Kotzevan Agricol beveel die volgende algemene riglyne aan.
Op onbesproeide kleigrond, waar dekgewasse in
alternatiewe rye gevestig word, kan een ry graan, soos korog, hawer of rog, met
'n ry medics afgewissel word. Die aanbevole saaidigtheid is:
In soortgelyke toestande waar boere verkies om dekgewasse
nie in alternatiewe rye nie, maar bepaalde mengsels van 'n graan- en peulgewas
in alle rye te vestig, kan uit hawer plus weiwieke of lupiene, rog plus weiwieke
of lupiene of korog plus weiwieke of lupiene gekies word. Dr. Kotzebeveel die
volgende saaidigthede aan:
In gevalle waar die wingerd in droëlandtoestande op
sanderige grond verbou word, kan Saia (swarthawer), hawer, rog of korog in
alternatiewe rye met serradella of lupiene gevestig word. Die saaidigtheid wat
aanbeveel word, is:
Dr. Kotzese persoonlike keuse vir sanderige grond in
droëlandtoestande waar dekgewasse in alle rye geplant word, is rog of korog saam
met 'n peulgewas soos lupiene of serradella. Nogtans kan ander graansoorte, soos
Saia of hawer en weiwieke, as 'n alternatiewe peulgewas gebruik word. Die
saaidigtheid wat hy in diegeval aanbeveel, is:
Waar grassoorte as permanente dekgewasse gebruik word, beveel dr. Kotze'n mengsel van dwergswenkgras (soos Grande en Houndog) teen 10 kg/ha en kropaargras (soos Hera) teen 5 kg/ha aan.
Dieselfde grassoorte kan ook in 'n gras- of klawermengsel saam met Palestynse aarbei-klawer en assegaaiklawer gebruik word. In sulke gevalle word dwergswenkgrasse teen 8 kg/ha, kropaargras teen 4 kg/ha en aarbeiklawer en assegaaiklawer teen onderskeidelik 2 kg/ha en 3 kg/ha gesaai.
Onder die eenjarige peulgewasse is die bekende Crimson en assegaaiklawer. Crimson word teen 'n digtheid van 10 kg/ha tot 15kg/ha met 'n planter of 15 kg/ha tot 20 kg/ha breedwerpig gesaai. Assegaaiklawer se saaidigtheid met 'n planter is 7 kg/ha tot 10kg/ha en 10 kg/ha tot 12 kg/ha as dit uitgestrooi word.
As peulgewasse gesaai word, moet die regte entstof bygevoeg word om voldoende stikstofbinding te laat plaasvind. Dr. Kotzesê 50 kg tot 200 kg stikstof word só beskikbaar gestel. Die hoeveelheid sal afhang van die plantestand en of die peulgewasse vooraf behoorlik ingeënt was. Sulke wingerde moet egter deurlopend gemonitor word om te verseker dat stikstofvlakke nie te hoog styg nie.
Planter vul leemte
'n Geskikte planter is een van die sleutels tot
suksesvolle dekgewasverbouing in wingerde en boorde.
Só iets was nie plaaslik beskikbaar nie totdat mnr. Jacques Augustyn, wingerdbestuurder van Backsberg, 'n wynplaas naby die Paarl, een ontwerp en gebou het.
Dieboerdery wou permanente dekgewasse in sy wingerde vestig, maar daar was nie geskikte planters beskikbaar nie. Daar is maniere om sonder 'n planter klaar te kom, "maar dan het jy probleme met saadvermorsing, saad wat te diep begrawe is en swak opkoms - veral in swaarder grond". Die uitstrooi en toekrap van saad word algemeen gebruik, maar diemetode bied geen beheer oor saaidigtheid nie en die saad kan enige plek beland, selfs op die bankies.
Die planter wat mnr. Augustyn gebou het, bied verskeie voordele. Dit is lig en sterk, en kan die saad op presies die regte diepte plant. Drukwiele bied goeie saad- en grondkontak, wat vinniger ontkieming en opkoms verseker. Die voortjies wat deur die tande en drukwiel gelaat word, versamel vog in die omgewing van die saad.
Dit pas ook in by minimumbewerking en beperk kompaktering én die onnodige versteuring van die grond.
Met die planter kan die verskillende soorte saad van die dekgewasmengsel gemeng en gelyktydig geplant word. Omdat die werktuig uit 'n aantal onafhanklike eenhede bestaan, kan dit maklik by plantwydtes van 1 m tot 1,8 m aangepas word. Elke planteenheid het 'n tand wat tussen 'n snywiel voor en drukwiel agter geplaas is. Danksy die onafhanklike werking van elke eenheid klim net daardie bepaalde eenheid uit wanneer 'n klip getref word, en nie die planter in sy geheel nie.
Volgens mnr. Augustyn is daar meestal net 'n beperkte tyd vir die vestiging van dekgewasse. Dit kan so kort as twee weke wees. Een van die oogmerke is om so gou moontlik soveel plantmateriaal moontlik in die grond te kry.
Hy gaan hom nie voortaan op die bou van planters toespits nie, maar boere is welkom om te kom kyk wat hy vermag het en hy sal raad gee as hulle self só 'n werktuig wil bou.
Lesers kan met mnr. Jacques Augustyn in
verbinding tree by tel. 021 875 5141.
18 Julie 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24