Die grootte van die mielie-oes is opwaarts aangepas om die beter opbrengste te weerspieël, sê die Oesskattingskomitee in sy oppervlakte- en finale produksieskatting vir somergewasse.
Gebaseer op die fisiese produsentelewerings van mielies by silo’s, soos gemonitor deur SAGIS, die verwagte terughoudings op plase en die feit dat die seisoen beter blyk te gewees het as wat aanvanklik verwag is, is die grootte van die mielie-oes opwaarts aangepas om die beter opbrengste te weerspieël, aldus die komitee.
Kommersiële mielies: Die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes is op 11,495 miljoen ton gestel, wat 2,70% of 302 700 ton hoër is as die vorige skatting van 11,192 miljoen ton. Die skatting van die oppervlakte onder mielies beloop 2,699 miljoen ha, terwyl die verwagte opbrengs 4,26 t/ha is.
Die oppervlak onder witmielies is 1,636 miljoen ha en vir geelmielies beloop dit 1,063 miljoen ha.
Die produksieskatting van witmielies is 6,506 miljoen ton, of 143 500 ton meer as die 6,362 miljoen ton van die vorige skatting. Die opbrengs van witmielies is 3,98 t/ha. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 4,989 miljoen ton, wat 159 200 ton meer is as die 4,830 miljoen ton van die vorige skatting. Die opbrengs van geelmielies is 4,69 t/ha.
Sonneblomsaad: Die produksieskatting vir sonneblomsaad is onveranderd gelaat op 527 110. Die oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 453 350 ha, met ‘n verwagte opbrengs van 1,16 t/ha.
Ander gewasse: Die produksieskatting van sojabone is ook onveranderd gelaat op 646 950 ton. Die geskatte oppervlakte beplant met sojabone is 472 000 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,37 t/ha is.
Die verwagte grondbone-oes is onveranderd op 60 290 ton. Vir grondbone is die oppervlakteskatting 45 450 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,33 t/ha is.
Die produksieskatting van sorghum is ook onveranderd op 137 150 ton. Die oppervlakteskatting vir sorghum is 48 550 ha. Die verwagte opbrengs is 2,82 t/ha.
In die geval van droëbone is die produksieskatting ook onveranderd gelaat op 47 695 ton. Vir droëbone is die oppervlakte beplant 39 750 ha en die verwagte opbrengs is 1,20 t/ha.