|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Meeste produsente streef om hul lande onkruidvry te hou gedurende die somer, maar dit bring talle uitdagings wat dit moeilik maak om te verwesenlik.
Só skryf mnr. Chris Cumming in die jongse nuusbrief van Bewaringslandbou Wes-Kaap (BLWK). Dié organisasie is vroeër vanjaar gestig en fokus onder meer op bewaringspraktyke.
Someronkruide is baie keer houtagtig sodra hulle ‘n bietjie groter word, wat beheer deur glifosaat bemoeilik. Produsente met ‘n veefaktor wil ook bespuitings so lank moontlik uitstel, wat die moontlikheid van tydige bespuitings op jong, aktief-groeiende onkruide uitskakel.
In die Swartland, met sy baie warm en droë somers, brand baie plante dood en net die gehardste spesies oorleef. Een van hulle, goewermentsbossie, moet dus in ‘n vroeë stadium, vóór die blare harig raak en die plante houtagtig word, gespuit word om enige mate van sukses met glifosaat te kry.
Hou lande skoon
Wat die SWD betref, waar reën gedurende die somer\herfs kan voorkom, is die skoonhou van lande uit beide ‘n teenweerstand-strategie sowel as vir vogbewaringsredes, van kardinale belang. Twee of drie nie-selektiewe onkruiddoderbespuitings, afhangend van die gebied en hoeveelheid reën, is nodig.
Dit moet beklemtoon word dat, indien twee of meer bespuitings uitgevoer gaan word, dat daar afgewissel word tussen glifosaat en parakwat. Indien moeilik beheerbare onkruide sou voorkom, is die praktyk om ‘n hormoon-onkruiddoder, gewoonlik 2,4-D, saam te spuit. Onkruide, soos Kaapse khakibos, wilde appelliefie, wilde aartappel, karkoere en vaalskraalhans, is hier te sprake.
‘n Paar nuttige wenke:
Daar is opgelet dat Kaapse khakibos wat deur die trekkerwiel getrap is tydens ‘n besuiting, vinniger vrek as die ander. Die rede is dat die waslaag op die blare gebreek word as dit getrap word, wat opname van glifosaat verbeter. Die sleep van bande of ‘n yster oor die land voor spuit het dieselfde effek en verbeter bestryding.
Kweekgras, veral gevestigde polle, word moeilik beheer deur glifosaat. Deur die kweek met ‘n tand-implement te bewerk, m.a.w. om die stolons onder die grond in korter stukke op te breek, sal bespuiting van nuwe hergroei baie beter resultate lewer.
Grond wat opgebou is en die pH reggestel is het minder probleem-onkruide as ve-digte, arm gronde. Om goeie bewaringsboerdery praktykte toe te pas, sal jou op die langer duur baie pyn en lyding spaar.
Lees die BLWK se nuusbrief in die PDF-dokument hieronder.
1 Desember 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)