Kan kanola koring klop?

 
Kanola. Foto: AMELIA GENIS
Kanola. Foto: AMELIA GENIS

‘n Omvattende kanola-produksiehandleiding en –kalender gaan tydens Agri Megaweek 2010 bekend gestel word.

Dit gaan gepaard met ‘n kanola-promosiedag, waar verskeie sprekers sal optree en besoekers die geleentheid sal hê om kanolaproewe op die terrein te besigtig. Die Proteïennavorsingstigting (PNS) gaan ook by die kanola-promosiedag betrokke wees.

Die redes vir dié betrokkenheid word weergegee as ‘n voortvloeisel van die doelstellings van die PNS. Die belangrikste doelstelling is om ingevoerde proteïen vir diereverbruik te vervang met plaaslik geproduseerde proteïen.

Die aanvanklike groei in die kanolabedryf was baie bemoedigend, maar stagnering oor die afgelope aantal jare het die PNS voor die keuse gestel om alle navorsingsfinansiering aan kanola te staak, of om ‘n enorme poging aan te wend om kanola sy regmatige plek te laat inneem in die akkerbou van die Wes-Kaap.

Die PNS het deur sy eie navorsing geïdentifiseer dat die verhoging van ‘n paar honderd kilogram per ha in die opbrengs van kanola, tot gevolg sal hê dat kanola koring as kontantgewas kan klop.

Die PNS glo dat indien die projek suksesvol is om kanolaproduksie in die volgende 5 jaar te verdubbel, die PNS sal aan die een kant in sy doel slaag om meer proteïen plaaslik te laat produseer om ‘n ingevoerde proteïen te vervang andersyds sal ook meegehelp word om die produsente van die Wes-Kaap ‘n groter geleentheid te bied om groter stabiliteit in die akkerboubedryf daar  te stel.

‘n Suksesvolle groeiende kanolabedryf sal tot gevolg hê dat eetbare olie in groter hoeveelhede beskikbaar sal wees in die Wes-Kaap en so sal die voedselsekerheid ten opsigte van die Wes-Kaap ook ‘n groot hupstoot kry.

Mnr. Gerhard Scholtemeijer is die voorsitter van die Porteïennavorsingstigting.

25 Augustus 2010

3
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.