Katoenbedryf hét toekoms

 
Katoen. Foto: CHARL VAN ROOYEN
Katoen. Foto: CHARL VAN ROOYEN

Die Suid-Afrikaanse katoenbedryf bevind hom in ’n benarde posisie. Vanjaar se skamele verwagte oes van 8 500 ton vesel is 90% minder as die rekord-oes van 20 jaar gelede. Veral droëlandkatoen het drasties afgeneem.

Tien jaar gelede het dit nog die grondslag van die bedryf gevorm met twee derdes van die land se katoen (67 000 ha) wat op droëland verbou is. Vanjaar sal waarskynlik minder as 2 000 ha op droëland verbou word.

Mnr. Hennie Bruwer, uitvoerende direkteur van Katoen SA, sê as dit nie vir die bekendstelling van geneties gemodifiseerde (GM) katoen tien jaar gelede was nie, sou katoen onder besproeiing waarskynlik dieselfde pad geloop het. Weens die GM katoen kon besproeiingsboere hul opbrengste met bykans 50% verhoog.

Die afname in produksie is die gevolg van verskeie faktore:

•    Wêreldwyd bestaan die indruk dat katoenboerdery, weens ander mededingende somergewasse se gunstige pryse, nie meer ’n haalbare keuse is nie.
•    Wêreldwyd het katoenpryse nie in dieselfde mate gestyg as dié van ander somergewasse nie.
•    Katoen ondervind sterk mededinging van gewasse, soos mielies en sonneblom me, omdat dit winsgewender verbou kan word en minder bestuursinsette verg.
•    Hoë produksiekoste veroorsaak dat dit ’n groot waagstuk vir boere is om teen die huidige prys katoen op droëland te plant.
•    Die lae internasionale pryse was deels die gevolg van subsidies deur die regerings van groot katoenproduserende lande aan hul eie bedrywe.
•    Die rand wat betreklik sterk teenoor die Amerikaanse dollar gebly het, het die situasie vererger.

Te midde van hierdie donker prentjie, meen Katoen SA egter dat nie alles vir die bedryf verlore is nie. Katoen is ’n gewas wat hoogs geskik is vir kleinskaalse boerderye omdat dit droogteverdraagsaam en niebederfbaar is.

Daarom meen Katoen SA dat dié gewas steeds ’n toekoms in die land het. Produksie kan uitgebrei word sonder dat dit oorskotte sal veroorsaak, sê Bruwer.

19 Januarie 2010

0
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.