Die Internasionale Katoen-advieskomitee (ICAC) verwag 'n voortgesette styging in katoenpryse in 2008/09. Dit kan daartoe bydra dat meer katoen vanjaar ook plaaslik geplant word.
Die ICAC voorspel 'n gemiddelde Cotlook A-indeks ('n aanwyser van wêreldpryse) vir 2008/09 van 82 VSA c/lb, 'n styging van 12% teenoor 2007/08. Dit is die hoogste gemiddelde in 13 jaar.
Mnr. Hennie Bruwer, uitvoerende hoof van Katoen SA, sê hy verwag dat meer katoen geplant sal word, maar dat daar nie 'n dramatiese verhoging sal wees nie. Dit is nog baie vroeg om skattings te waag.
Hy sê dat aanplantings in die Noord-Kaap sal verdubbel en by die Loskop-besproeiingskema ook meer sal wees. "Op die Springbokvlakte, wat altyd die ruggraat van die katoenbedryf was, wil dit voorkom of boere nog nie op groot skaal 'n terugkeer na katoen gaan maak nie."
Hy sê katoen ondervind veral strawwe mededinging van gewasse soos mielies en sonneblom, waarvan pryse die hoogte ingeskiet het. Dit bied aan boere groter winste en vereis ook minder insette.
Ondanks die hoër prys vir katoen word 'n afname van 6% in wêreldproduksie verwag, hoofsaaklik weens die toenemende mededinging van alternatiewe gewasse. Volgens die jongste markverslag word die afname aangevuur deur 'n afname van sowat 1,2 miljoen ton in Amerika.
Landbouweekblad, 19 September 2008