Aarskroei by koring in kollig

 
Koring. Foto: ANDRIES GOUWS
Koring. Foto: ANDRIES GOUWS

Is aarskroei in besproeiingskoring steeds ’n bedreiging? Twee kundiges verduidelik.

Fusarium-aarskroei (FAS) is ’n kleingraansiekte wat in die hoëreënvalstreke en besproeiingsgebiede van Suid-Afrika voorkom. Reeds in 1995 is FAS deur die destydse Kleingraansentrum as ’n potensiële bedreiging vir koringproduksie onder besproeiing geïdentifiseer (Scott & Smith, 1995). FAS word hoofsaaklik deur Fusarium graminearum (teleomorph: Gibberella zeae) veroorsaak, maar F. crookwellense, F. culmorum, F. avenaceum en F. poae kan deel van die besmetting vorm. Fusarium spp. word ook met kopvrot by mielies vereenselwig en met kroonvrot en saailingverwelksiekte by koring (De Villiers, 2008). 
 
Die belangrikheid is dat FAS oesverliese en verlaagde graankwaliteit tot gevolg het. Opbrengsverliese as gevolg van FAS word deur die LNR-Kleingraaninstituut op 10% tot 30% geraam, terwyl hewige besmettings onder gunstige klimaatstoestande opbrengsverliese van tot 70% kan veroorsaak (De Villiers, 2008). Besmetting deur die patogeen het ’n verdere nadraai omdat ’n aantal mikotoksiene, wat uiters nadelig vir mens en dier is, ook gevorm word. Die bekendste van die toksiene is deoxynivalenol (DON), nivalenol (NIV) en zearalenone (Kriel, 2006). As besmette saad weer geplant word, gee die swam aanleiding tot swak opkoms en saailingverwelksiekte (Calpas et al., 2003). Dit word beraam dat as die saadbron 25% met Fusarium spp. besmet is, dit ’n verlaging van 67% in plantestand tot gevolg kan hê. 
 
As gevolg van die swam se belangrikheid word dit intensief deur plantpatoloë bestudeer. Verskeie studies het gevolg oor die besmettingspatrone, moontlike beheermaatreëls en verskillende kultivarreaksies teenoor die siekte. 
 
Lewensiklus 
Die patogeen se lewensiklus word deur die gewasproduksiesisteem beïnvloed, asook die gewasrotasie wat gevolg word. Die swam is ’n saprofiet, wat oorleef op dooie plantmateriaal tussen produksieseisoene – wat koring- en mieliestoppel insluit. Om hierdie rede is die bewerkingstelsel wat gevolg word en die beskikbaarheid van oesreste op die grondoppervlakte van belang vir die swam se oorlewing (Calpas et al., 2003).
 
Navorsing in Kanada het getoon dat die swam tot agt maande op oesreste ondergronds en tot drie jaar bogronds oorleef het. In Meksiko is ’n tendens opgemerk van tot veertien maande se oorlewing op die grondoppervlak en tot nege maande op reste wat 15 cm ingewerk was. Die voorkoms van FAS-epidemies in Argentinië word deels aan die uitbreiding van grondoppervlaktes onder bewaringsbewerking toegeskryf. Bewaringsbewerking verbeter gronde se biologiese gesondheid en grondstruktuur, maar gewasrotasie is krities belangrik. 
 
Mielies in rotasie met koring word as ’n hoë risiko met betrekking tot FAS en ander siekte-ontwikkeling gereken (HGCA, 2009). Die makrokonidia of spore word op die oesreste van die vorige gewas (mielies, koring of gras) geproduseer en dien as primêre inokulum (bron) vir infeksie. Spore of dele van die miselium of swamgroei op die saad dien ook as bron van inokulum.
 
Simptome
Onder gunstige omgewingstoestande, soos koel nagte met hoë humiditeit, besmet die swam koringplante se are deur spore tydens die blomstadium. Temperature van 15-31 grade C met ’n optimum van 25 grade C en ’n nat periode van meer as sestien uur is voordelig vir besmetting. Dit is híér waar oorhoofse besproeiing die optimale omgewing vir siekteontwikkeling skep, veral in die middel van spilpunte waar die siekte dikwels aangetref word. 
 
Die swam se verspreiding geskied deur spattende water (oorhoofse besproeiing en reën), wind en insekte. Aangrensende lande kan ook besmet word deur swamspore wat deur lugstrome vervoer word. Die periode rondom blomstadium is die kritieke stadium vir besmetting en simptome kan reeds na drie dae op die aar ontwikkel. 
 
FAS se eerste simptome word as ’n donkerbruin letsel op ’n enkele blompakkie sigbaar waar infeksie plaasgevind het, maar die siekte versprei in die aar, veroorsaak nekrose (dooie weefsel) en namate die besmetting versprei, verkleur die besmette blompakkies na strooikleur tot wit. Om hierdie rede is dit maklik om aarskroei uit te ken. Swamgroei kan ook in sommige gevalle waargeneem word as ’n pienkerige tot salmkleur op die blompakkies. Die siekte veroorsaak dat die korrels in die aar verkrimp en ook met swamgroei bedek word (Kriel, 2006). Hoewel die meeste van die verkrimpte saad deur die stroper uitgewaai word, bly daar nogtans besmette saad in saadmonsters agter. Indien hierdie saad weer aangeplant word, ontkiem die saad swak en saailingverwelksiekte kom algemeen voor. 
 
Ander simptome van FAS-besmetting sluit bruin verkleurings van die stambasisse van plante tydens die vroeë lente in wat, afhangende van gunstige omstandighede, verder opwaarts kan versprei en die onderste nodes kan verkleur. Onder gunstige toestande kan die stambasis totaal verbruin en verrot, die plante val om en vertoon witaarsimptome. 
 
Aarskroeisimptome moet nie met simptome van ander siektes soos vrotpootjie verwar word nie. Al twee siektes se simptome kan as wit are waargeneem word, maar daar is heelwat verskille. Plante met vrotpootjiebesmetting kan baie maklik uit die grond getrek word, die wortels is gewoonlik bros, breek maklik, is kort, swart en verdik. FAS, daarenteen, benadeel die plant se wortelkroon maar val nie die wortelstelsel aan nie.
 
Beheermaatreëls
Navorsing het die sterk verband tussen die risiko van FAS-besmetting, gewasrotasie en bewerkingsmetodes bevestig. Die risiko word verder verhoog in gebiede waar mielies algemeen in die rotasiestelsel gebruik word. Direkte saai saam met verminderde bewerkingspraktyke laat groot hoeveelhede oesreste op die grondoppervlakte wat as ’n bron van inokulum vir swamgroei dien, en hierdeur word die risiko vir FAS-besmetting verhoog. Koring-mielie-rotasies verhoog ook die risiko, veral weens die kort braakperiode tussen opeenvolgende gewasse onder besproeiing. Spore wat ná swamgroei op die oesreste op die grond vorm, spat met besproeiing en reëndruppels op tot in die blaredak en veroorsaak só besmetting.
 
Hieruit volg dat die omploeg van gronde wat die oesreste op die grondoppervlak verminder, die risiko van besmetting kan verminder. Tans is gewasrotasie en bewerkingspraktyke die enigste opsies wat die boer het om die risiko vir FAS te verminder. Omdat mielies en koring algemeen in die gewasrotasies onder besproeiing voorkom, kan brand en ploeg van oesreste gebruik word om inokulumvlakke te verminder, hoewel dié praktyke nie volhoubaar is nie. Besproeiingskedulering gedurende die kritieke tyd rondom blomstadium moet ook bestuur word om waar moontlik die periode waartydens die plante nat is so kort as moontlik te hou en sodoende minder gunstige omstandighede vir besmetting te skep (Kriel, 2006). 
 
Verder moet boere ook suiwer, siektevrye saad vir koringaanplantings gebruik. Saadbehandelingsmiddels beheer die spore wat buite op die saad mag voorkom, maar indien die saadbron van ’n FAS- besmette land afkomstig is, kan probleme met ontkieming en plantvestiging steeds voorkom (Calpas et al., 2003). Saadbehandelingsmiddels beskerm ook nie die plant teen FAS nie, omdat dié middels slegs vir ’n beperkte tydperk aktief is.
 
Chemiese beheer
Tans is geen middels in Suid-Afrika vir die beheer van FAS geregistreer nie. Die gebruik van chemiese middels vir algemene siektebeheer in koring kan die intensiteit van FAS-besmetting verlaag, maar hoë vlakke van beheer – selfs met bespuitings tydens die blomstadium – is onwaarskynlik. ’n Deel van die probleem is die uitgerekte periode waartydens die koring blom, tesame met die praktiese haakplek om goeie plant- en aarbedekking met lugbespuitings tydens hierdie stadium te verkry. Die residuele effek van chemiese middels, asook tyd van bespuitings, word steeds ondersoek om die optimale kombinasie vir doeltreffende beheer te verkry. Die beheer van die simptome kan nie opbrengs verhoog nie, maar slegs verdere verliese beperk.
 
Kultivarweerstand
Weerstand teen FAS wat in kultivars ingeteel word is die enigste doeltreffende metode van beheer. Saadmaatskappye is reeds geruime tyd besig met weerstandsteling. Tans is daar egter nog geen plaaslik beskikbare kommersiële kultivar wat weerstandbiedend teen aarskroei is nie. Vyf maniere van weerstand teen FAS word ondersoek, maar weens die poligeniese aard van die spesifieke plantweerstand is die genetiese vordering relatief stadig. Koringkultivars wat huidig beskikbaar is, word deurgaans vir vlakke van weerstand teen FAS geëvalueer en daar is relatiewe verskille in vlakke van besmetting met die siekte (Tabel 1 hieronder). Wisselende reaksie word egter tussen seisoene gesien omdat blomstadiums verskil en die verspreiding van siektespore en omgewingstoestande ook wissel.
 
’n Geïntegreerde beheerstelsel sal dus gevolg moet word om die siekte te beperk. Dit sal die volgende stappe insluit:
• Die verwydering van oesreste.
• Gebruik van geregistreerde saad wat behandel is en waarvan die kiemkragtigheid bevestig is.
• Die aanplanting van minder vatbare kultivars om risiko te verlaag.
• Die volg van ’n geskikte gewasrotasiestelsel. 
 
Samevatting
Om op te som: Wees bewus van die siekte in koringlande, volg die voorgestelde bewerkingspraktyke om oesreste in besmette mielie- en koringlande te verminder en oordraging na die volgende gewas te verminder en gebruik behandelde, gesertifiseerde saad. 
 
Bronnelys
Calpas J, Howard R, Turkington K, Clear R & Evans I, 2003. Fusarium head blight of barley and wheat. Agdex 110/632-1 (www.agric.gov.ab.ca). Alberta Ag-Info Centre, Edmonton, Alberta, Canada.
De Villiers C, 2008. Fusarium-aarskroei op koring en ander kleingrane. LNR-Kleingraaninstituut Boeredagboekie.
HGCA, 2009. Wheat seed health and seed-borne diseases – a guide (www.hgca.com). 
Kriel W, 2006. Fusarium head blight of wheat; A most challenging disease, SASPP congress abstracts.
Scott DB & Smith J, 1995. Aarskroei – ’n nuwe bedreiging vir koring onder spilpuntbesproeiing langs die Oranjerivier (Head blight – a new threat for wheat under centre pivot irrigation adjacent to the Orange river). In: Course in small grain production for agricultural advisors. Small Grain Institute, Bethlehem, South Africa. 109-110.
 
Tabel 1: Kultivarreaksie teenoor FAS-besmetting. 

Kultivar
FAS-reaksie
Kariega
MV
Duzi
MV
SST 843
MV
Olifants
MV
PAN 3434
MV
Baviaans
MV
Steenbras
V
SST 822
V
Krokodil
V
SST 806
HV
SST 876
HV
CRN 826
HV
SST 835
HV

V = vatbaar; MV = matig vatbaar; HV = hoogs vatbaar
(LNR-Kleingraaninstituut: Produksiehandleiding vir Kleingrane in die Somerreëngebied, 2009)
 
Geskryf deur dr. Willem Otto, NWK Landboubestuursdienste, en Cathy de Villiers, LNR-Kleingraaninstituut, Bethlehem
 
29 Junie 2010
0
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.