Agriwiki

Trekkerwerf

Hunter & Jagter

Farming SA

Bemark saam, vra graanboere

 
koring plastsny. Foto: ROGER SEDRES
koring plastsny. Foto: ROGER SEDRES

Graan SA is versoek om met die vyf landboubesighede in die Wes-Kaap te gesels oor die moontlikheid van gesamentlike bemarking van graan.

Dié besluit is tydens die algemene jaarvergadering van Graan SA se winterreëngebied (streke 26 en 27) te Rietpoel in die Overberg geneem.

Mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA, het op die vergadering gesê eenheid in die landbou moet ten alle koste bewerkstellig word tot voordeel van die produsent op grondvlak. Graan SA sal sy bes probeer om dié mylpaal te haal.

Ferreira het gesê die fokus behoort altyd op volhoubare landbou te wees. Indien daar soos met vorige onderhandelings drie groeperings (Agri SA, die TLU en NAFU) is, sal die Regering luister na die een wat hom pas. Eenheid in die landbou moet ten alle koste bewerkstellig word tot voordeel van die produsent op grondvlak. "Graan SA, as lid van Agri SA, sal sy uiterste probeer om te versoen met die TLU en NAFU hoewel dit nie maklik sal wees nie”.

Goedkoop kos vir die massas
Ferreira het voorts genoem dat “goedkoop voedsel vir die massas” die Regering se weg tot politieke oorlewing sal wees. Hy het ook genoem dat die vrye mark soms ongenadig kan wees. “Niemand kan koring of mielies teen die huidige pryse winsgewend verbou nie. Die goeie nuus is dat daar ‘n goeie verhouding met die nuwe Minister van Landbou bestaan”. Hy het boere genoop om betrokke te raak by georganiseerde landbou: “Maak ‘n verskil! Reik uit! Lig mense in! Dra ‘n positiewe boodskap uit! Ons kan Suid-Afrika maak werk! Ons gaan nie ‘n tweede Zimbabwe word nie!”

Volgens mnr. Schalk Viljoen, Graan SA se verteenwoordiger vir streek 27, gaan die koringbedryf tans deur sy swakste tydperk sedert deregulering - hoofsaaklik vanweë swak pryse en nie noodwendig as gevolg van klimaat of weersomstandighede nie. “Die koringbedryf sal moet saamstaan om voedselsekuriteit in die toekoms te verseker. Dit is nodig dat die Regering oortuig moet word van die belangrikheid van volhoubare koringproduksie,” het Viljoen by navraag gesê.

Winsgewende boerdery
Dr. Kobus Laubscher, hoofbestuurder van Graan SA, het by Viljoen en Ferreira aangesluit en genoem dat winsgewende boerdery die beste manier is om landelike ontwikkeling te stimuleer. Ingevoerde koring belemmer plaaslike produsente se vermoë om ‘n bydrae te maak tot landelike ontwikkeling. “Die toekomstige vraag na voedsel lyk baie goed, maar dit is belangrik dat die huidige produksiefasiliteite in Suid-Afrika intussen in stand gehou moet word. ‘n Invoertarief is nou nodig om volhoubare koringproduksie te verseker” het Laubscher gesê.

Nadat bogenoemde sprekers hul redes gelewer het, het die vergadering tot debatvoering oorgegaan. Onder meer is voorgestel dat Graan SA in gesprek moet gaan met die vyf plaaslike landboubesighede in die Wes-Kaap om die moontlikheid van gesamentlike bemarking te oorweeg en te bewerkstellig.

10 Februarie 2010

0
 
 

Kommentaar

Butch

Gesamentlike bemarking is die taal wat boere graag wil hoor en dit was van die hoofredes hoekom Kooperasies destyds gestig was. Ek het ernstige bedenkings oor of die huidige strukture ingevolge die Mededindingswet gemagtig sal wees "om saam te bemark" As hierdie aksie nie reg aangepak gaan word nie, gaan wie-ever daarby betrokke is lelik seerkry! - ala Pioneer, Senwes, Sasol etc. Samespanning is 'n vloekwoord ingevolge die bepalings van die Wet op Mededinging. Gelukkig praat Graan SA darem nog net daarvan en het hul nie reeds daarin getrap nie., maar hulle sal hul huiswerk uiters goed moet doen.

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.