Verskeie belanghebbendes in die koringbedryf het voorleggings oor Graan SA se aansoek vir ‘n verhoogde vlak van tariefbeskerming vir koring aan die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) gedoen.
Mnr. Nico Hawkins, hoof van bedryfsbediening by Graan SA, sê sy organisasie het vyf vrae in sy voorlegging beantwoord.
Graan SA hoop dat sy aansoek om ‘n hoër intreevlak vir ‘n invoertarief aanvaar sal word. Die heersende vasgestelde vlak waaronder ‘n invoertarief in werking tree, is ‘n wêreld-koringprys van $157 per ton vir VSA-harde rooi winterkoring-nr.2, terwyl dié produk internasionaal tans $200 tot $220 per ton kos. Dit beteken Suid-Afrikaanse boere geniet in effek geen beskerming teen invoere nie.
Graan SA vra dat die internasionale prysvlak waaronder ‘n invoertarief moet begin geld, tot $260 verhoog word.
Die werklike tarief, as die Graan SA-voorstel aanvaar sou word, sal dan gelyk wees aan die verskil tussen die voorgestelde $260/ton en die heersende wêreldprys.
“Die voorstel hou talle voordele vir boere in. Dit sal beteken dat dit duurder sal wees om koring in te voer. Dit sal lei tot ‘n groter vraag na plaaslik verboude koring en hoër pryse aan boere beteken,” het Hawkins gesê.
Aanbeveling
Hy sê hulle hoop die kommissie sal so vinnig moontlik ‘n aanbeveling aan dr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, maak. “Ons het reeds met hom daaroor gepraat en hy het ons verseker dat hy spoedig aan die saak aandag sal gee sodra hy ‘n aanbeveling van die Itac ontvang,” het Hawkins gesê.
Volgens Hawkins is daar nie ‘n aanduiding van hoe lank dit sal duur om ‘n aanbeveling te maak nie.
Graan SA moes aan die komitee verduidelik wat sy siening oor voedselsekerheid is, asook wat hy meen tot die internasionale ooraanbod van koring gelei het. Die komitee wou ook weet wat die vooruitsigte in die internasionale koringbedryf oor die volgende twee jaar is en vir hoe lank Suid-Afrika al ‘n invoerder van koring is. Die kommissie wou ‘n gedetailleerde uiteensetting van die koste verbonde aan koringproduksie gehad het en wou weet waarom koringproduksie (gebaseer op verlede jaar se data) so hoog is.
11 Maart 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)