Swartlandse boere is ongelukkig met die resultate wat hulle verlede jaar met die koringkultivar SST047 behaal het. Klagtes is ontvang oor opbrengs wat nie te waffers was nie en korrels wat uitgewaai of uitgeloop het. Die proteïeninhoud van die kultivar was egter goed.
Dr. Francois Koekemoer, Sensako se direkteur van navorsing en ontwikkeling, sê daar moet in gedagte gehou word dat verlede jaar ‘n buitengewone jaar was, met baie reën en lang bewolkte periodes wat verwering op kaffies verhoog het en dus meer probleme met uitwaai tot gevolg gehad het.
Koekemoer sê uitloopproewe wat vanaf 2009 deur die landbounavorsingsraad (LNR) in die Swartland gedoen word, se data word eers na twee jaar bekendgestel. Koekemoer sê Sensako het SST047 “nog altyd” bemark as ‘n kultivar wat ‘n oplossing bied aan produsente in lae proteïen-gebiede.
“Ons het nie die kultivar bemark as ‘n kultivar wat opbrengsgewys beter is as die kultivars wat nou beskikbaar is nie. SST047 is deur baie produsente gebruik om hul swak graad reg te stel wat hulle die afgelope seisoen gekry het. Ons glo dat dit ‘n uitstekende mengkoring kan wees om jou graad reg te stel op ‘n jaarlikse basis, veral aangesien graad die afgelope paar seisoene oor die algemeen die grootste kopseer van Kaapse produsente was.”
23 Februarie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)