Die ongunstige koringprys is die rede vir ‘n afname van meer as 11% in die oppervlakte waarop dié kontantgewas vanjaar geplant is, sê die Nasionale Oesskattingskomitee in ‘n verklaring.
‘n Voorlopige skatting van die oppervlakte onder koring beloop 570 000 ha, wat 11,3% of 72 500 ha minder is as die 642 500 ha wat verlede seisoen aangeplant is.
Volgens produsente kan die afname in die verwagte aanplantings van koring hoofsaaklik toegeskryf word aan ongunstige pryse vir dié gewas.
Die beraamde oppervlakte beplant in die Wes-Kaap is 268 000 ha, wat 32 000 ha minder is as die 300 000 ha wat verlede seisoen geplant is. Vir die Vrystaat beloop die aanplantings 214 000 ha, wat 21 000 ha minder is as die 235 000 ha wat verlede seisoen geplant is. In die Noord-Kaap het aanplantings van koring met 7 500 ha afgeneem tot 36 500 ha.
Ander gewasse: Die voorlopige oppervlakskatting vir moutgars is 84 670 ha, wat 13,3% of 9 910 ha meer is as die 74 760 ha van verlede seisoen. Die oppervlakte onder kanola is 33 500 ha, wat 4,4% minder is as die 35 060 ha wat verlede seisoen aangeplant is.
Sesde produksieskatting vir somergewasse
Die verwagte kommersiële mielie-oes is onveranderd gelaat op 13,3 miljoen ton omdat selgs meer as 50% van die mielie-oes gestroop is weens laat reëns, wat die oesproses vertraag het. Die skatting van die oppervlakte onder mielies is ook onveranderd gelaat op 2,742 miljoen ha, met ‘n verwagte gemiddelde opbrengs van 4,86 t/ha.
Die oppervlak onder witmielies is 1,720 miljoen ha en vir geelmielies is dit 1,023 miljoen ha. Die produksieskatting van witmielies is 7,999 miljoen ton en die verwagte opbrengs is 4,65 t/ha. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 5,318 miljoen ton en die verwagte opbrengs is 5,20 t/ha.
Sonneblomsaad: Die produksieskatting vir sonneblomsaad is onveranderd gelaat op 528 765 ton. Die geskatte oppervlakte onder sonneblomsaad is 397 700 ha en die verwagte opbrengs is 1,33 t/ha.
Ander somergraan
Die produksieskatting van sojabone is onveranderd gelaat op 567 200 ton, terwyl die verwagte oppervlakte onder dié gewas 311 450 ha is. Die verwagte opbrengs is 1,82 t/ha.
Die verwagte grondbone-oes is onveranderd gelaat op 87 880 ton, met ‘n oppervlakte van 57 450 ha en ‘n verwagte opbrengs van 1,53 t/ha.
Die produksieskatting van sorghum is onveranderd gelaat op 241 593 ton. Die oppervlakteskatting vir sorghum is 86 675 ha en die verwagte opbrengs is 2,79 t/ha.
In die geval van droëbone is die produksieskatting onveranderd gelaat op 52 255 ton. Die oppervlakte beplant is 44 100 ha, met ‘n verwagte opbrengs van 1,18 t/ha.
23 Julie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)