Twee nuwe stamroese, ‘n koringswam, wat vroeër in Uganda uitgeken is, is in Suid-Afrika gevind en kan moontlik ernstige gevolge inhou vir gewasse in ander wêrelddele.
Luidens ‘n berig op Business Day het plaaslike wetenskaplikes twee nuwe stamme van die betrokke swam ontdek. As die swam deur die land sou versprei, kan dit katastrofiese gevolge vir plaaslike koringproduksie inhou. ‘n Wêreldwye uitbreking kan die prys van koring opjaag, wat tot stygende broodpryse sal lei.
Die swam veroorsaak stamroes. Dit laat rooi vergroeisels op koringstamme, en beskadig die plant se aarweefsel en verhoed die vervoer van voedingstowwe.
Bou vinnig weerstand
Volgens die berig bou die swam vinnig weerstand op teen die teenmiddels wat oor die jare daarteen ontwikkel is. Die mees algemene teenmiddel is Sr31. Die swam het egter teen 1999 weerstand daarteen opgebou.
‘n Baie sterker variant van die swam het toe in Uganda voorgekom, Ug99, wat na Kenia, Ethiopië, Soedan, Jemen en Iran versprei het, en wat nou ook in Suid-Afrika aanwesig is.
Prof. Zak Pretorius, wetenskaplike aan die Universiteit van die Vrystaat, bestudeer gereeld die roes-vatbaarheid van koring wat in die Suid-Afrika aangeplant word. Hy het bevind dat veral jong koringplante vatbaar kan wees vir die swam. Resultate oor die vatbaarheid van volwasse plante sal in November beskikbaar wees.
Luidens die berig bestaan daar nie groot kommer onder wetenskaplikes oor skade aan plaaslike koringoeste wat die swam aanbeterf nie.
Voorkoms van die swam nog nie bevestig
Intussen sê dr. Kobus Laubscher, hoof-uitvoerende bestuurder van Graan SA, die voorkoms van stamroes is nog nie bevestig nie.
“As die swam enigsins bevestig word en ons dié inligting ontvang, sal ons stappe neem binne die normale en bestaande kringe wat ons reeds in plek het. Dit is moeilik met sulke swamme, veral ná al die abnormaliteite wat tydens die afgelope seisoen voorgekom het.”
13 Julie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)