|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Die Overberg beleef een van sy beste graanoeste in die geskiedenis en die silo’s in die gebied is barstensvol.
Die bestuurders van twee landboumaatskappye se produkte-afdelings sê hulle sukkel om voor te bly met maatreëls om plek te maak vir alle graan in die silo’s.
Overberg Agri en Sentraal-Suid-Koöperasie (SSK) doen hul bes om alle graan te huisves deur die bestaande siloruimte aan te vul met silosakke.
Mnr. André Uys van Overberg Agri op Caledon sê met ’n groot deel van die oes wat nog ingesamel moet word, oortref die oesskatting hul silokapasiteit verreweg.
Stoorplek op AgriMega-terrein
(Leensie Streicher van die Agrimega-groep het die meegaande foto geneem van graan wat in die BKB-Sentrum by die AgriMega-skouterein by Bredasdorp afgelaai is. Die gebou se oppervlakte is 6000 vk m, en twee derdes van die gebou is tans onder koring.)
Mnr. Henk de Beer van SSK op Swellendam meen SSK se totale inname kan vanjaar op 180 000 ton te staan kom − amper dubbel die gemiddelde van 100 000 ton op lang termyn. Hy sê die silo op die dorp Ashton, waar deesdae feitlik uitsluitlik met wingerd en vrugte geboer word, is reeds vol. Die terrein om daardie silo is gepak met silosakke vol graan.
Uys en De Beer sê die groot oeste kan toegeskryf word aan rekordopbrengste wat in talle gevalle dubbel soveel is as die gemiddelde opbrengste van die afgelope paar jaar.
Mnr. Schalk Viljoen van die plaas Van der Wattskraal buite Riviersonderend sê garsopbrengste van meer as 4 ton per hektaar is vanjaar nie vreemd nie, terwyl bogemiddelde koringopbrengste ook behaal word.
Oes is aansienlik groter
Hy glo die goeie oeste behoort voordelig vir die ekonomie van die streek te wees. Buiten dat individuele boere groot opbrengste behaal, is die totale oes aansienlik groter.
Viljoen sê ten spyte van die toegewing van 20 000 ton gars wat SAB Miller se vermoutingsaanleg gemaak het (bykomend tot die 160 000 ton moutgars wat hulle gewoonlik inneem), sal daar ’n oorskot moutgars wees.
Mnr. Abrie de Wet van die GVA-boerdery buite Caledon het sy grootste garsopbrengs nóg − 4,5 t/ha − behaal. Die koring skiet meer as 3 t/ha.
Grootste oeste
Buite Heidelberg sê mnr. Michel Gildenhuys van die plaas Duinerug hulle het ’n garsopbrengs van gemiddeld 5 t/ha behaal en ’n koringopbrengs van 4,8 t/ha – die grootste wat sy pa in meer as 30 jaar daar gesien het.
Gildenhuys sê al sou boere in sy omgewing gou klaar oes, sal die vragmotors wat die koring uit die pakskure na die silo’s ry, nog lank loop.
Terwyl boere in die suidelike deel van die Wes-Kaap sê hulle beleef ’n besonder geseënde oestyd sonder te veel oponthoude deur reën, maak aanhoudende reënweer dit vir boere in die Swartland moeilik om vordering te maak.
14 November 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
4.8 ton/Ha droe land koring sit nie in elke een se broek nie....Groot prestasie manne....en dank julle Skepper vir daai reen. Baie bly vir julle.....
ek is bly vir daardie boere,maar ek wonder wanneer kry namaqwaland sy jaar.
Dankie Jesus! Die Overberg was werklik 'n plesier hierdie jaar om te boer.
Ek is bly vir die boere! Hulle het 'n paar rowwe jare agter die rug!
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)