Sowat 13% minder koring

 
Koring in die Vrystaat. Foto: LBW
Koring in die Vrystaat. Foto: LBW

Sowat 13% minder koring sal na verwagting dié seisoen geproduseer word, sê die Nasionale Oesskattingskomitee in sy hersiene oppervlakte- en eerste produksieskatting van wintergewasse vir 2010.

Die verwagte produksie vir koring is 1,695 miljoen ton, wat 13,44% minder is as die vorige siesoen se oes van 1,958 miljoen ton. Die verwagte produksie in die Wes-Kaap is 649 250 ton (9% minder as die finale oes in die vorige seisoen), in die Vrystaat beloop dit 492 200 ton (11% laer as die vorige oes) en in die Noord-Kaap 262 200 ton (5% laer as die vorige oes). Die verwagte oes in Mpumalanga is 24 750 ton, of 40% minder as die vorige oes.

Die nasionale gemiddelde opbrengs sal na verwagting 2,98 t/ha beloop.

Luidens die komitee se verklaring is die oppervlakteskatting vir koring aangepas tot 568 100 ha, wat 0,3% minder is as die 570 000 ha van die vorige skatting. Die beraamde oppervlakte geplant in die Wes-Kaap is 265 000 ha of 47% van die totaal, vir die Vrystaat is dit 214 000 ha (38% van die totaal) en 38 000 ha (7%) in die Noord-Kaap.

Ander gewasse:
Die produksieskatting vir moutgars is 239 116 ton. Die oppervlakte beplant is beraam op 83 670 ha, terwyl die verwagte opbrengs 2,86 t/ha beloop.

Die verwagte kanola-oes is 42 000 ton. Die oppervlakteskatting vir kanola is 35 000 ha, met ʼn verwagte opbrengs van 1,20 t/ha.

Somergewasse:
In die komitee se sewende produksieskatting vir somergewasse is die verwagte grootte van die kommersiële mielie-oes op 13,094 miljoen ton gestel, wat 1,68% of 223 450 ton laer is as die vorige skatting van 13,3 miljoen ton. Die hoofrede vir hierdie afname is die laer as verwagte opbrengste. In hierdie stadium is sowat 80% van die oes gestroop.

Die produksieskatting vir sonneblomsaad is met 2,36% of 12 500 ton verlaag tot 516 265 ton.

Die oppervlakte beplant met mielies in die nie-kommersiële landbou-sektor word geskat op 520 940 ha, wat ‘n toename van 11,1 % verteenwoordig in vergelyking met die 468 683 ha van die vorige seisoen. Weens gunstige produksie toestande, is die verwagte mielie-oes van dié sektor 605 864 ton, wat 17,3 % hoër is as die 516 633 ton van die vorige seisoen.

25 Augustus 2010

0
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.