Doeltreffende onkruidbestryding in wintergraan vereis 'n strategie van verskillende metodes wat reeds maande voor planttyd moet begin.
Die foto in Landbouweekblad van 2006 se Graanboer van die Jaar in 'n kamp geil koring - en ewe geil raaigras - is seker een van die onrusbarendste uitbeeldings van die probleem wat boere in die wintergraanstreke met onkruid ondervind.
Graanboere wat vind dat onkruiddoders nie meer hond haaraf maak teen raaigras (Lolium spp.) nie, sê hulle is bekommerd oor die probleme wat hulle toenemend daarmee en met wildehawer (Avena fatua) en predikantsluis (Bromus diandrus) het.
Boonop waarsku dr. P.J. Pieterse van die Universiteit Stellenbosch se agronomie-departement in 'n onlangse uitgawe van SA Graan dat breëblaaronkruide soos ramenas (Raphanus raphanistrum) en stinkkruid (Pentzia suffruticosa) ook begin weerstand toon. "Weerstandbiedendheid van ramenas teen sulfoniel-ureas kom al wydverspreid voor, maar dit kon nog altyd met 'n mengsel van MCPA en bromoksinil beheer word. Verlede jaar het ons vir die eerste keer waargeneem dat ramenasplante diemengsel ook kan oorleef."
Pieterse sê daar is ook onbevestigde berigte oor weerstand in breëblaarspesies soos wildemosterd (Rapistrum rugosum), gans-kos (Cotula spp), dubbeltjie (Emex australis) en turknaels (Erodium moschatum).
Volgens Pieterse raak dit noodsaaklik dat boere die bestuur van onkruiddoderweerstand by hul normale boerderybestuursprogramme insluit.
Die eerste stap is om vas te stel wat die weerstandstatus op die plaas en in verskillende graankampe is. "Die beste is om in Februarie in verskillende kampe en op verskillende plekke in 'n kamp grond te skep en dit in verskillende potte te gooi en nat te maak. Onkruid wat opkom, moet met die aanbevole dosis van die geregistreerde onkruiddoder bespuit word om te bepaal of dit weerstand teen die middel het."
Boere kan ook hul grondmonsters met onkruidsaad wat tydens oestyd versamel word, vir Pieterse of me. Hestia de Wet by die Landbounavorsingsraad se Kleingraaninstituut op Bethlehem stuur.
Hul spuite is akkurater, maar proewe deur boere het die voordeel dat dit in werklike plaastoestande gedoen word.
Pieterse sê dis belangrik dat boere oor 'n tyd boek hou van onkruidstande, bespuiting, ander bestrydingsmetodes vir elke kamp en die doeltreffendheid van die middels.
Waar daar wel weerstand is, moet boere strategieë volg wat die onkruid-saadbank sal verklein en die hoeveelheid saad wat na die volgende jaar oorgedra word, verminder.
Die geheim van suksesvolle onkruidbeheer is om nie net op een bestrydingsmetode staat te maak nie, maar 'n groep verskillende chemiese en nie-chemiese metodes in te span in 'n geïntegreerde onkruidbeheerprogram.
In Australië, waar die gedagte van geïntegreerde onkruidbeheer ontstaan het en uitgebou is, is mettertyd wisselbou-, bewerkings-, beweidings- en chemiese praktyke ontwikkel wat in verskillende kombinasies met mekaar in wisselboustelsels en geenbewerkingsboerderye gebruik kan word. Die meeste van die metodes word ook deur die plaaslike aksiekomitee vir onkruiddoderweerstand (HRAC) as riglyne aan boere verskaf.
Wisselboupraktyke wat teen onkruide ingespan kan word, is:
Kies gewasse só dat chemiese middels met verskillende metodes van werking gebruik kan word, bv. bensamied op weiding en kanola, en triasien op lupiene en kanola.
Bespuit grasse in die weidingsfase met 'n sub-letale dosis van nie-selektiewe onkruiddoder in die lente om onkruidsaad te steriliseer ("spraytopping" of "pasture topping").
Maak hooi. Plant hawer vir kuilvoer of hooi wat groen gesny of as groenbemesting ingewerk kan word voordat die onkruid sade vorm.
Pas drukbeweiding toe.
Gebruik 'n sub-letale dosis van 'n nie-selektiewe onkruiddoder op lupiene in die lente om te voorkom dat onkruidplante kiemkragtige saad vorm ("croptopping"). Dit kan egter die lupiene-oes met tot 15 % verlaag.
Bewerkingspraktyke wat onkruidbestryding in die hand werk, is:
Plant probleemkampe later. Stel planttyd met tot drie weke uit om die chemiese bestryding van 'n groter onkruidpopulasie voor planttyd moontlik te maak.
Hoë plantdigtheid. Plant koring teen 120 kg of meer per hektaar om beter mededinging van die graan met onkruid te verseker.
Plant kiemkragtige, onkruidvrye saad.
Stroop kampe met onkruidweerstand laaste sodat die probleem nie na ander dele van die plaas versprei nie.
Spuit hardnekkige "onkruidkolle" in lande dood, of verwyder die onkruid met die hand.
Vang grassade agter die stroper op en verbrand dit.
Plant graan in rye wat nader aan mekaar staan of plant kultivars wat beter stoel om tussenry-mededinging te verhoog.
As chemiese onkruiddoders gebruik word, moet die verskillende groepe - nie handelsname nie - afgewissel word. Die HRAC stel voor dat onkruiddoders uit dieselfde groep nie meer as een maal per seisoen in 'n kamp of op 'n stuk weiding toegedien word nie.
Onkruiddoders uit dieselfde groep moet ook nie in die daaropvolgende seisoen in dieselfde kamp gebruik word nie. Dit is nogal moeilik omdat die onkruiddodergroepe wat in wintergraanstelsels gebruik kan word, erg beperk is.
Moenie hoër dosisse spuit as wat op die etiket van die onkruiddoder aangedui word nie. Dit verhoog seleksiedruk vir alle tipes weerstand.
Waar laer dosisse gespuit word, lei dit vinnig tot metaboliese weerstand.
Metodes wat die Wes-Australiese inisiatief vir onkruiddoder-weerstand (Wahri) ook voorstel, is die volgende:
Dubbele toediening voor planttyd ("doubleknock"). Bespuiting met 'n nie-selektiewe glifosaat-onkruiddoder, gevolg deur die toediening van 'n nie-selektiewe parakwat-onkruiddoder voor planttyd.
Groen- of bruinbemesting: Dit is 'n drastiese nie-chemiese praktyk wat behels dat boere 'n groeiende graangewas of weiding inploeg. Dit voorkom dat onkruid saad vorm en hou ook voordele in soos verhoogde beskikbaarheid van voedingstowwe en meer organiese materiaal in die grond.
Die welslae van die verskillende metodes om onkruidsaad te verwyder, word in die tabel hierbo aangedui. Daarvolgens is groen- of bruinbemesting en hooi maak verreweg die doeltreffendste metodes.

Maar, soos met die meeste boerderybestuurspraktyke, is daar nie 'n vaste resep nie. "Uiteindelik moet elke boer kyk wat in sy boerdery werk," sê Pieterse.
Natuur se manier
Boere se chemiese beweegruimte in die onkruiddoderkraal krimp vinnig, dog nie-chemiese metodes om onkruid in bedwang te hou, is dikwels nie so doeltreffend nie of verg 'n langtermynsiening.
Onkruid is 'n aanduiding dat daar 'n wanbalans in die grond is, glo mnr. Gary Zimmer, Amerikaanse boer en skrywer van The Biological Farmer, die boek wat dikwels Suid-Afrikaanse boere se eerste kennismaking met biologiese boerderypraktyke is. "Sekere onkruidspesies floreer in harde, verdigte grond met 'n tekort aan kalsium of swawel en min of geen lewende mikro-organismes."
Zimmer sê onkruid is die natuur se manier om versteurde grond "reg te stel", maar dit kan 50 tot 100 jaar duur. Geen boer kan so lank wag nie en sal moet stappe doen om balans in die grond te herstel. Die feit dat dit drie tot vyf jaar duur om grondstruktuur reg te stel, verg 'n langtermyn-benadering tot onkruidbestryding en die bestuur van grondvrugbaarheid.
Hoewel wingerdboere, wat al geruime tyd biologiese praktyke soos die gebruik van kompos, komposekstrak en dekgewasse toepas, mettertyd merkbaar minder probleme met onkruidmededinging het, is dit tot dusver moeiliker om soortgelyke resultate by eenjarige gewasse te kry.
Boere van Malmesbury wat die afgelope twee jaar met kompos en komposekstrak eksperimenteer, sê biologiese graanboerdery moet die lesse van biologiese wingerdboerdery aansienlik aanpas.
Graan het nie so 'n hoëwaarde-opbrengs soos druiwe of vrugte nie, en die oppervlakke wat met kompos of kompos-ekstrak bedek moet word, is aansienlik groter. Verder moet hulle nog 'n doeltreffende manier kry om die kompos te strooi. Komposekstrak wat toediening kan vergemaklik, gebruik baie water. Die voordele wat hulle tot dusver uit meer biologiese boerderymetodes kry, is egter genoeg om hulle daarmee te laat voortgaan.
Een van die opwindendste, nie-chemiese moontlikhede uit Australië is die vrystelling van besonder groeikragtige koringkultivars. Dieeksperimentele kultivars groei vroeg in die seisoen baie vinnig en kan in sommige gevalle onkruid sodanig onderdruk dat chemiese of meganiese bestryding nie nodig is nie. "Koring met 'n hoë groeikrag kan betekenisvolle kostebesparings en voordele vir die omgewing inhou," sê dr. Greg Rebetzke, navorser van die Statebond se Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsorganisasie (CSIRO - Commonwealth Scientific & Industrial Research Organisation) se plantbedryf.
In 'n e-posonderhoud met Landbouweekblad skryf hy hulle evalueer sowat 6 000 koringlyne wat groot genetiese verskeidenheid verteenwoordig. Dit sal egter nog 'n paar jaar duur voordat saad kommersieel beskikbaar is.
Weeg koste en voordele
'n Stelsel van geïntegreerde onkruidbestryding bring op kort termyn koste, terwyl voordele meestal eers ná 'n paar jaar waargeneem word.
Volgens die Australiese navorsers mnr. Randall Jones en dr. Marta Monjardino wat onlangs die ekonomiese voordele van geïntegreerde onkruidbeheer ondersoek het, daag onkruidbeheer boere uit om die langtermynvoordele te besef en te bepaal, eerder as om bloot op die korttermynkoste te fokus.
Daarom is dit beter om inkomste oor 'n tydperk van tien jaar te bereken wanneer hulle die werklike waarde of ekonomiese voordele van geïntegreerde onkruidbeheer wil bepaal.
In die studie wat hulle in Augustus 2006 voltooi het, het hulle netto huidige waarde gebruik om toekomstige inkomste na huidige waardes te verdiskonteer.
Van die belangrikste bevindinge van hul studie was die volgende:
Vanweë die belangrikheid van die grootte van die onkruid-"saadbank" in die grond het elke besluit wat oor onkruidbestryding geneem word, 'n uitwerking op die huidige oes, maar ook op toekomstige opbrengste en die koste van onkruidbestuur in die jare wat kom.
Selektiewe gebruik van vooropkomsonkruiddoders was die koste-doeltreffendste opsie wat ook die betroubaarste onkruidbestryding gegee het.
Hoe groter die onkruiddoderweerstand, hoe sinvoller is dit om nie-chemiese bestrydingsmetodes by die strategie in te sluit.
In gevalle van akute weerstand is jare nodig waarin geen graan geplant word nie, maar byvoorbeeld eerder hawer vir hooi of groenbemesting.
'n Strategie wat ses verskillende onkruidbestrydingspraktyke insluit, het die hoogste huidige waarde gegee. Elemente van diestrategie is die toediening van glifosaat voor planttyd, die gebruik van simasien op lupiene, hoër plantdigtheid vir koring en lupiene, lupiene wat met parakwat bespuit word voor rypwording om te voorkom dat onkruid saad vorm, lupiene en koring is platgesny, en windrye is in die herfs verbrand.
Oor 'n tydperk van 20 jaar oortref die gemiddelde ekonomiese voordeel van geïntegreerde onkruidbestryding dievan nie-geïntegreerde onkruidbeheer. Dit is hoofsaaklik te danke aan die kleiner onkruidsaadbanke in geïntegreerde stelsels.
Lees die volledige verslag op die CRC Weed Management se webtuiste by www.weeds.crc.org.au.
Landbouweekblad, 2 Februarie 2007