Hoe kan ‘n mens die verwagte mielie-oes vasstel sonder om te wag dat die mielies ryp word, vra ‘n lid van die gespreksforum.
Gerdie Landman skryf:
Help my asseblief met voorskrifte oor hoe ‘n mens die verwagte graan-oes kan vasstel sonder om te wag dat die mielies ryp word? Ek het byvoorbeeld vanoggend mieliepitte van ‘n kop afgebreek en die vog bepaal - dit was nog op 30% vog. Kon daardie pitte nie verder stysel gemaak het as ek die mielies tot by stooptyd aan die plant gelos het nie? Die manne wat skade op mielies takseer, behoort mos ‘n formule te ken?
Schalk skryf uit Namibië:
Dis maklik om die aantal koppe per ha vas te stel. (Tel die aantal koppe op 10m en x die gemiddelde aantal/m met die rylengte van ‘n ha - 3 voet rye het 11111m per ha). Dis ook maklik om die aantal pitte/kop vas te stel = aantal rye/kop x aantal pitte in ’n ry - sê maar 12 x 40 = 480 pitte/kop.
Die truuk nou is om pitgewig te voorspel. In die harde deegstadium, wanneer jy seker inkuil, is die pitgrootte reeds dié van uiteindelike pitgrootte by strooptyd maar nie pitmassa nie, soos jy tereg opmerk.
Uit ondervinding kan ek jou nou slegs relatiewe pitmassa-aanduidings gee: Vir groot pitte (soos my wysvinger duimnael) werk ek op 1,5pitte/gram. Vir klein pitjies (kleiner as my pinkienael) 3 pitte/gram. Breek die kop in die middel deur en haal paar van daai pitte af, dit gee jou idee van die gemiddelde pitgrootte. Na agterkant van kop raak pitte groter en na voor raak dit kleiner.
Graandigtheid speel ook 'n rol en dit is baie kultivar-verwant. CRN 3505 se pitte is swaar en hy’t ook ’n lekker dun stronk. Ander weer het vreeslike dik hd koppe maar as jy hom deurbreek is dit net stronk en klein pitjies. Die 480 pitte kop kan dus of 160g of 320g weeg. As jy nou gemiddeld 6 koppe/m getel het, sit jy met 66666 koppe/ha en jou kopgewig op hd populasie behoort in die orde van 150g te wees, dan gaan jou werklike droë graanopbrengs frikken naby aan 10ton/ha wees sou jou vingernaels van dieself de ordegrootte as myne is!
Gerdie skryf:
Dankie aan Schalk vir die raad met die oesskatting van mielies. Ek het reeds gaan tel en die koppe het 16 rye en 42 pitte in die ry, maar as ek daardie som maal met die 105 000 plante per hektaar (Maar ek vat dit net op 90 000 koppe) dan is die graanopbrengs steeds onrealisties hoog op 19 ton graan per ha.
Schalk skryf:
As jou gem kopgrootte wel 16 x 42 pitte is en al is pitgrootte 3 pitte/g, sit jy met 'n moewiese oespotensiaal. 'n Gemiddelde kopgrootte van 224g op genoemde populasie klink wel rof. ‘n Mens verwag 'n kopmassa van om en by 120g by hd populasie. As jy die koppe oor tien meter tel, vat fisies aan elke kop soos jy tel, sodat aan die einde vd telling jy kan terugloop oor die afstand en 'n gemiddelde grootte kop of twee kan pluk vir ooptrek en bestudering. As jou bemesting en besproeiing nie te kort geskiet het nie, moet dan nie jou oes gering skat nie.
* Geskryf op die Gespreksforum.
14 Februarie 2012