Alle oë is gerig op die onderhandelinge tussen produsente, meulenaars en ander rolspelers wat binnekort oor die vloerprys vir aanstaande jaar se mielies gevoer gaan word, aangesien dit grootliks gaan bepaal of boere die komende seisoen sal kan plant of nie.
Luidens 'n berig deur Ronelle Rademeyer in die Namibiese koerant, Republikein van 19 Augustus, sien mielieboere swarigheid voor weens die verdubbeling in produksiekoste. Die Namibiese Landbou-unie sê in sy weeklikse nuusbrief dat die onderhandelinge tussen meulenaars, produsente, die Regering en ander rolspelers oor die nuwe vloerprys vir mielies op 3 en 4 September sal plaasvind.
Die enorme styging in produksiekoste van gemiddeld N$3 000 per ha verlede jaar na sowat N$6 000 per ha vanjaar, maak dit vir produsente onmoontlik om voort te gaan om die gewas te verbou, sê mnr. Klaas Malan, 'n droëlandmielieboer van Grootfontein.
Hy meen die land staar 'n ramp in die gesig aangesien Namibië se mielieboere weens die hoër brandstof-, kunsmis- en ander insetpryse en die drastiese afname in die prys van witmielies - dit het die afgelope paar weke van N$2 700 per ton na N$2 300 teruggeval - nie kan bekostig om die komende seisoen te plant nie. "Net om gelyk te speel, moet ek 'n prys van N$2 857 per ton kry."
Luidens die berig sê die meerderheid van mielieboere as die prys nie gewaarborg word vir N$3 000 en meer per ton nie, sal hulle hul boerderye moet staak."
Só erg is die probleem dat die kommer onder mielieboere nou ook na gespreksforums op die internet uitkring. Ene "Marais van Katima Farm" sê op Landbouweekblad se webwerf Namibiese boere gaan in die komende seisoen klippe kou om te oorleef. "Let wel, net oorleef.
"Van winste maak, is daar die sprake nie," skryf hy. "Brandstof, kunsmis en ander produksiemiddele se pryse het so die hoogte in geskiet dat ons nie weet wat om te doen nie. Waar ek onder besproeiing in die huidige seisoen teen die kunsmispryse van Desember verlede jaar, 7,8 ton per hektaar moes stroop om gelyk te breek, sal ek in die volgende seisoen teen die huidige kunsmisen mieliepryse, nege ton per hektaar moet stroop om gelyk te breek," skryf hy.
Mnr. Gernot Eggert, voorsitter van die Namibiese Akkerbouraad, sê die probleem vir mielieboere is dat die inflasiekoers op die produkte wat produsente nodig het om 'n oes te kan afhaal, veel hoër is as die algemene inflasiekoers.
So het sekere soorte kunsmis se prys met tussen 100 en 300%gestyg. En Namibië se vloerprys vir mielies word bepaal deur 'n formule wat die algemene inflasiekoers as maatstaf gebruik en nie die werklike koste van produksie nie, sê hy. Boonop het die Suid-Afrikaanse mielieprys gedaal het tot ver onder uitvoerpariteit vanweë die feit dat Suider-Afrika op die oomblik 'n besonder groot mielievoooraad het.
"Die voorraad elders in die wêreld word gereken op 30 dae, terwyl dievan Suider-Afrika nou sowat 140 dae is," sê Eggert.
Die styging in insetkoste sal dan in ag geneem word, sê die NLU. Mnr. Eggert sê die vloerprys word bereken deur die gemiddelde prys van Safex (die mielieprys op die Suid-Afrikaanse graanbeurs) oor die voorafgaande vyf jaar te gebruik en daarby 'n bedrag te voeg wat vergoed vir die koste wat die produsent moet aangaan om kunsmis en ander produksiebenodigdhede in te voer.
- Kontak die skrywer, Ronelle Rademeyer, by ronelle@republikein.com.na
21 Augustus 2008