Nagenoeg 330 000 ha méér mielies is dié seisoen geplant, terwyl die aanplantings onder sonneblomme sowat 40% laer is.
Die hersiene skatting van die oppervlakte onder mielies beloop 2,756 miljoen ha, wat 13,5% of 328 900 ha meer is as die 2,428 miljoen ha wat verlede seisoen aangeplant is, sê die Nasionale Oesskattingskomitee in ‘n nuusverklaring.
In sy oppervlakte- en eerste produksieskatting vir somergewasse sê die komitee die verwagte kommersiële mielie-oes beloop nou 12,876 miljoen ton, wat 6,8% meer is as die 12,050 miljoen ton van die vorige seisoen.
Die hersiene oppervlakteskatting vir die Vrystaat, Mpumalanga en die Gauteng-provinsie is gebaseer op inligting soos verkry vanaf die Produsente Onafhanklike Oesskattingstelsel (“PICES”), soos deur die LNR-geleide konsortium gerapporteer is.
Die oppervlak onder witmielies is 1,720 miljoen ha, wat ‘n toename van 15,5% of 230 700 ha is, vergeleke met die 1,489 miljoen ha van die vorige seisoen. In die geval van geelmielies is die oppervlakteskatting 1,037 miljoen ha, wat 10,5% of 98 200 ha meer as die 938 500 ha geplant die vorige seisoen.
Die produksieskatting van witmielies is 7,803 miljoen ton, of 15,2% meer as die 6,775 miljoen ton van die vorige seisoen. Die opbrengs van witmielies is 4,54 t/ha teenoor die 4,55 t/ha van die vorige seisoen. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 5,073 miljoen ton, wat 3,8% minder as die 5,275 miljoen ton van die vorige seisoen. Die opbrengs van geelmielies is 4,89 t/ha teenoor die 5,62 t/ha van die vorige seisoen.
Sonneblomsaad: Die produksieskatting vir sonneblomsaad is 477 865 ton, wat 40,3% minder is as die 801 000 ton van die vorige seisoen. Die hersiene oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 376 700 ha, wat 40,7% minder is as die 635 800 ha aangeplant die vorige seisoen. Die verwagte opbrengs is 1,27 t/ha teenoor die 1,26 t/ha die vorige seisoen.
Ander gewasse: Die produksieskatting van sojabone is 586 950 ton, wat 13,7% meer is as die 516 000 ton van die vorige seisoen. Die geskatte oppervlakte beplant met sojabone is 308 950 ha, wat ‘n toename van 29,9% verteenwoordig, vergeleke met die 237 750 ha geplant die vorige seisoen. Die verwagte opbrengs is 1,90 t/ha teenoor die 2,17 t/ha die vorige seisoen.
Die verwagte grondbone-oes is 98 470 ton - 1% minder is as die 99 500 ton van die vorige seisoen. Vir grondbone is die oppervlakteskatting 56 900 ha, wat 4,3% meer is as die 54 550 ha geplant vir die vorige seisoen. Die verwagte opbrengs is 1,73 t/ha teenoor die 1,82 t/ha die vorige seisoen.
Die produksieskatting van sorghum is 222 613 ton – 19,5% laer as die 276 500 ton van die vorige seisoen. Die oppervlakteskatting vir sorghum het gedaal met 11,4%, van 85 500 ha tot 75 775 ha teenoor die vorige seisoen. Die verwagte opbrengs is 2,94 t/ha teenoor die 3,23 t/ha die vorige seisoen.
In die geval van droëbone is die produksieskatting 60 600 ton, 9,6% minder is as die 67 030 ton van die vorige seisoen. Vir droëbone is die geskatte oppervlakte beplant 46 600 ha, wat 6,4% meer is as die 43 800 ha geplant vir die vorige seisoen. Die verwagte opbrengs is 1,30 t/ha teenoor die 1,53 t/ha die vorige seisoen
23 Februarie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)