Agriwiki

Trekkerwerf

Hunter & Jagter

Farming SA

Mielie-oes in VSA kan pryse knou

 
Mielies. Foto: ANDRIES GOUWS
Mielies. Foto: ANDRIES GOUWS

Net so min as wat ‘n rugbyspan in Meimaand die Curriebeker kan wen, net so min kan enige mens in Januarie reeds met absolute sekerheid sê presies hoe groot die oeste gaan wees wat in die wintermaande van die lande afgehaal gaan word.

Maar die Oesskattingskomitee het sy eerste en voorlopige skatting van die oppervlakte aangeplant met somergewasse bekend gemaak en mense maak sommetjies, want die grootte van die oes gaan grootliks die prys van die produkte bepaal en dit is belangrik vir produsent en koper. Dit was opvallend dat kort ná die bekendmaking van die eerste skatting, ‘n afname in die prys van mielies bespeur is.

Somme wat in die stadium kan help, is statistiek uit die verlede. Ons kyk hier na ‘n paar produkte.

Mielies
Volgens die Kortbegrip van Landboustatistiek is daar tussen die jare 2004 en 2008 gemiddeld 2 930 000 hektaar mielies aangeplant en was die gemiddelde oes 9 787 000 ton. Dit gee ‘n opbrengs van 3,34 ton per hektaar. Die jaar 2008 was ‘n goeie jaar toe daar op 3 297 000 hektaar ‘n oes van 13 164 000 ton verkry is. Dit gee ‘n opbrengs van 3,99 ton per hektaar. In September 2009 gee die Oesskattingskomitee sy finale skatting vir daardie jaar. Die aanplantings was afgeskaal tot 2 428 000 hektaar maar nogtans word ‘n reuse-oes van 11 741 000 ton verkry. Dit gee ‘n ver bogemiddelde opbrengs van 4,84 ton per hektaar.

Volgens die Oesskattingskomitee is vanjaar 2 628 000 hektaar mielies aangeplant. Pas ‘n mens nou bogenoemde drie opbrengste daarop toe, dan ‘n mens vanjaar ‘n mielie-oes van tussen 8,8 miljoen ton en 12,7 miljoen ton verwag. Watter een van die berekenings uiteindelik gaan realiseer, sal ons maar moet wag en sien.

Wat ek glo in dié stadium reeds duidelik is, is dat produksie groter gaan wees as verbruik en dat dit druk gaan plaas op pryse wat boere vir hul mielies sal ontvang.

Oorskot mielies sal sekerlik uitgevoer word. Daar is egter twee belangrike faktore om in aanmerking te neem. Volgens Amerika se oesskattingskomitee het die VSA hierdie jaar die grootste mielie-oes in sy geskiedenis gehad. Dit gaan kompetisie op die internasionale mark baie sterk maak. Tweedens is die rand tans baie sterk en kan boere relatief min rande verwag vir elke dollar wat hulle in die buiteland verdien.

Sonneblomme
Tussen 2004 en 2008 is gemiddeld 468 400 hektaar sonneblom geplant en was die oes gemiddeld 615 800 ton. Dit gee vir ons ‘n opbrengs van 1,31 ton per hektaar. In dié tyd was 2007 ‘n relatief swak jaar waar net minder as 1 ton per hektaar geoes was. Die daaropvolgende jaar was weer besonder goed toe die opbrengs meer as 1,6 ton per hektaar was. Verlede jaar (2009) is daar baie sonneblomme geplant (636 000 hektaar) maar met ‘n normale opbrengs van 1,33 ton per hektaar.

Volgens die Oesskattingskomitte is hierdie jaar 426 700 hektaar geplant, wat bykans ‘n derde minder is as die aanplantings van die vorige jaar. Bereken op ‘n gemiddelde jaar van 1,3 ton per hektaar, kan die oes dus sowat 555 000 ton wees, maar as die opbrengs neig na dié van 2008, kan dit soveel as 687 000 ton wees. Verbruik varieer naasteby saam met produksie, met bitter min jare waar daar enige sonneblomme uitgevoer was. Daar blyk dus meestal ‘n te kort aan sonneblomme in die land te wees en pryse is steeds redelik goed. Daarom is dit verbasend dat produsente soveel minder sonneblomme aangeplant het.

Sojabone
Daar was gemiddeld 174 800 hektaar sojabone geplant in die tydperk 2004 tot 2008 wat ‘n gemiddelde oes van 280 800 ton opgelewer het. Dit is 1,61 ton per hektaar. Die opbrengs (ton per hektaar) was in die tydperk baie stabiel, met slegs 2007 wat effe afgewyk het toe die opbrengs gedaal het tot 1,12 ton per hektaar.

In 2009 het produsente egter aansienlik meer aangeplant nl. 238 000 hektaar. Die besluit is ook goed beloon toe ‘n uitstekende oes van 509 000 ton afgehaal is. Dit is ‘n aansienlik bogemiddelde opbrengs van 2,14 ton per hektaar.

Volgens Januarie se oppervlakteskattings is daar vanjaar 274 900 hektaar aangeplant. Dit is die grootste aanplanting op rekord. As dit slegs ‘n gemiddelde opbrengs van 1,6 ton per hektaar lewer is die oes 442 000 ton - die grootste naas verlede jaar. Sou dit egter dieselfde opbrengs as verlede jaar lewer, kan dit ‘n rekord-oes van meer as 580 000 ton lewer. Gesien in die lig van die hoeveelhede olie en oliekoek uit sojabone wat vanuit Suid-Amerika ingevoer word, is daar genoeg vraag plaaslik om hierdie en selfs ‘n groter oes te hanteer.

Opsomming
Oor die algemeen lyk dit of vanjaar goeie oeste kan oplewer. Die gevolge van die oorstromings en te veel reën is in dié stadium onbekend. Tussen nou en oestyd kan baie ander dinge die oes beïnvloed en daarom is dit eintlik onmoontlik om nou enige betroubare oesskatting te doen. ‘n Mens vertrou egter dat dit ‘n goeie oesjaar sal wees.

Bronne:
Statistiek 2004 – 2008: Kortbegrip van Landboustatistiek – 2009 uitgawe. Departement van Landbou, Bosbou en Visserye
Statistiek 2009 – 2010: Nasionale Oesskattingskomitee
VSA oesskatting: www.nass.usda.gov

* Geskryf deur mnr. Kobus Smit (diesmitte@gmail.com). Hy was van 1993 tot 2000 die voorsitter van die Nasionale Oesskattingskomitee. Hy het sedert sy aftrede steeds 'n lewende belangstelling in landbousake in die algemeen en in besonder in landbou-ekonomie en landboustatistiek.

17 Februarie 2010

5
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.