Lae mieliepryse kan tot ‘n derde van die land se graanboere teen volgende jaar bankrot maak, maar as boere produksie halveer kan hulle oorleef, sê mnr. Jozeph du Plessis, voorsitter van die Schweizer-Reneke Distrikslandbou-unie.
Hier is sy skrywe:
Die mielieprodusente van Suid-Afrika sit nou met ‘n skynbare onoplosbare probleem van lae pryse – pryse wat so laag is dat produksiekoste nie eers verhaal kan word nie. Teen ‘n bo-gemiddelde opbrengs (jy kan mos nie beplan vir ‘n rekord opbrengs elke jaar nie) het die meeste produsente R1 200/ton in sy sak nodig om net sy veranderlike koste soos byvoorbeeld kunsmis, saad, plaagbeheer en diesel te kan verhaal.
Om die ander vaste koste, soos byvoorbeeld salarisse, Eskom, versekering, reparasies en onderhoud te kan verhaal, om nie eers te praat van paaiemente en lewenskoste nie, moet enige mielieboer minstens R1 500/ton in sy sak kry. As jy enigsins “wins” wil maak – dit is nou ‘n billike opbrengs op jou kapitaal wat jy in die boerdery belê het – en waarop jy meer as geregtig is vir die harde werk en al die risiko’s wat jy loop, moet die boerprys bo R1 800/ton wees. Met die skrywe hiervan is die huidige boerprys ongeveer R900/ton.
Almal bloei nou finansieel gesproke – of jy ryk of arm is, of jy groot boer en of jy op klein skaal mielies plant, almal bloei finansieel en die vrees is dat baie van ons boere gaan droog bloei en van die plase af gedwing gaan word voor hierdie finansiële bloeding gaan stop. Die meer welgestelde boere sal dan hopelik (vir hulle) nog bietjie “bloed” oor hê om te kan aangaan – maar hulle gaan baie armer as nou wees en sal lank neem om te herstel.
Bankrotskap in die toekoms?
Na raming gaan tot ‘n derde van die graanboere in ons land teen Julie 2011 bankrot wees as die pryse op huidige vlakke bly. In my distrik beteken dit tussen 15 en 20 boerderye met gesinne, ervare boere, jongboere met kinders - ons mense - wat oor ‘n jaar geen ander heenkome of toekoms gaan hê as die prys nie drasties verbeter nie. Ons praat nie eers van die effek wat groter armoede, werkloosheid en minder boere op plaasveiligheid en die algemene misdaad situasie in die platteland gaan hê nie.
Die rede vir hierdie probleem waarin ons is, is dat die sisteem graanboere straf vir hulle doeltreffendheid. Die verhoging in produktiwiteit en die afgelope paar geseënde produksiejare het veroorsaak dat daar eenvoudig net te veel mielies beskikbaar is vir die binnelandse vraag. Graan SA bereken dat ongeveer die helfte van 2011/’12 se binnelandse verbruik nou reeds in die silo’s lê. Die uitvoere na Afrika het so verlangsaam dat dit geen invloed gaan hê nie en as ons deur die hawens mielies na die ooste mededingend wil uitvoer, moet die prys met minstens nog R150/ton van die huidige on-ekonomiese vlakke daal. Ons buitelandse mededingers word baie gehelp deur hulle regerings om teen sulke lae pryse te kan oorleef en bly produseer – ons nie. Dit bly ook ‘n ope vraag hoe ons vervalle infrastruktuur sulke groot volumes sal kan verskuif teen watter lae prys ook al geld.
Graan SA het vroeër vanjaar ‘n mielie-uitvoerpoel voorgestel en ondersoek om hierdie surplus te verwyder. Dit is nou reeds ou nuus dat die owerhede nie die poel wil toelaat nie – ten spyte van die Minister van Landbou se steun, is die plan vir hierdie seisoen nie uitvoerbaar nie. Die ander prysenswaardige inisiatiewe wat GSA aan werk om die vraag uit te brei, is medium tot langtermyn en gaan ons nie onmiddellik help nie. Die krisis is nou en ons moet nou ‘n dringende oplossing kry.
Deur weer voluit mielies te plant hierdie komende seisoen gaan ons graanboere kollektief finansiële selfmoord pleeg en enige winspotensiaal vir die afgelope seisoen, 2010/’11 se seisoen en selfs vir die daaropvolgende jaar verongeluk met ‘n onhanteerbare surplus wat pryse op uitvoerpariteit hou.
Die wonderlike geleentheid
Verskeie faktore bepaal die produsenteprys van mielies in Suid-Afrika. Oor die meeste daarvan het ons boere geen beheer of invloed nie - behalwe die oppervlakte wat deur ons aangeplant word. Dit bepaal grootliks die aanbod en elke boer het 100% beheer oor hoeveel hy/sy wil plant. As ons die aanbod gaan beperk in die komende seisoen, en ons bring die vraag en aanbod in balans, sal ons prys styg van uitvoerpariteit na invoerpariteit in ‘n baie kort tyd. Hierdie verskil beteken tot R900/ton meer in die boer se sak.
Die konsep is nie vir ons vreemd nie – ons het dit in 2005/’06 toegepas en reggekry om die aangeplante oppervlakte van 2.8 miljoen ha te verlaag na 1.6 miljoen ha. Vraag en aanbod het in balans gekom en pryse het in ‘n kort tydjie herstel tot winsgewende vlakke. Ongelukkig was alle graanboere nie gerat om voordeel te trek uit die prysstyging nie, maar die oorgrote meerderheid graanboere het baie voordeel vir ‘n paar jaar lank gehad uit die resultate van daardie dramatiese afskaling in aanplantings.
Ons wil nie tekorte in ons land veroorsaak nie – net die mark in balans bring omdat ons nie winsgewend surplusse kan uitvoer nie. Surplusse wat nie uitgevoer kan word nie veroorsaak onekonomiese binnelandse pryse. Deur vraag en aanbod in balans te bring sal die finansiële bloeding stop. Omdat die regering voete sleep met die inisiatiewe om die vraag na mielies uit te brei, en duidelik nie iets aan ons benarde posisie gaan doen nie, moet ons na onsself, ons kinders en ons werknemers se toekoms kyk en kan ons met so ‘n ingryp die graanprodusente se situasie omdraai.
Kopskuif nou nodig
Die wonderlike geleentheid is dat elke mielieboer geen inkomstepotensiaal of wins hoef op te offer om hierdie omdraai reg te kry nie. Ons moet net elkeen ‘n kopskuif maak en besef dat ek myself nie uit hierdie probleem gaan plant en oes nie. Hoe meer mielies ons weer produseer, hoe groter gaan die probleem word en hoe langer gaan dit aanhou.
Die oplossing is dat mielieboere met minstens 50% afskaal op produksie en dit wat hy nie gaan produseer nie, nou reeds inkoop teen hierdie pryse wat laer as produksiekoste is.
Ons maak wins deur mielies te verkoop teen meer as wat dit ons gekos het om dit te produseer. As ons mielies goedkoper kan koop as waarteen ons dit kan produseer – dan hoef ons mos nie nog produksierisiko aan te gaan om die mielies in die hande te kry op die lande nie. As jy gewoonlik 5000 ton produseer, gaan koop 2500 ton of meer in en skaal jou produksie dienooreenkomstig af. Wanneer pryse vir jou genoegsaam gestyg het, verkoop die mielies – dit kan reeds al in Desember 2010 wees. Dan hoef jy geen inkomste op te offer omdat jy minder geplant het nie.
Indien ons dit kollektief gaan regkry om die vraag en aanbod vir die 2010/’11 seisoen in balans te bring, kan dit drie winsgewende seisoene beteken. Deur met die huidige oes in die mark te bly en teen ‘n hoër prys te verkoop, die kleiner gedeelte wat jy plant die volgende seisoen teen ‘n goeie prys en die mielies wat jy onder produksiekoste gekoop en teen ‘n wins verkoop het, verander die twee seisoene na winsgewendheid. Indien die mark teen einde 2010/’11 seisoen weer in balans is, sal ‘n graanboer die 2011/’12 seisoen se produksie teen winsgewende prysvlakke kan verskans voor planttyd.
Hierdie geleentheid bied vir die heel kleinste boer en die ontwikkelende boere net soveel voordele as vir die heel grootste mielieboer. Daar is geen skaalvoordele hieraan verbonde nie. Daarom sal dit veral help om kleiner boere op die plase te hou.
Enige boer in ons land sal saamstem hoe baie afhanklik almal van ons is van ons Hemelse Vader se genade. Omdat ons gedurig vra vir hierdie genade, kan ek nie glo dat die sterker boere nie ook genade sal betoon aan die swakker boere, deur vir een jaar ‘n verandering in strategie toe te pas en sodoende aan baie ander ‘n geleentheid op finansiële oorlewing en herstel te gee nie.
Ons vra niemand om inkomste op te offer nie. Ons vra net dat dit op ‘n ander manier verdien moet word – tot voordeel van al die boere in hierdie land.
Hoe ontwikkel en benut ons die geleentheid?
• Geen boer wil produksie afskaal nie – dit is ‘n kopskuif wat gemaak moet word om ‘n geleentheid soos hierdie te benut. Fokus op die positiewe en die voordele wat hieruit sal kom en oortuig jouself van die meriete van hierdie geleentheid. Hierdie wonderlike geleentheid is nie elke jaar daar nie – ons het vyf jaar laas so ‘n goeie regrukgeleentheid as nou gehad. Kom ons benut dit voordat dit verbygaan.
• Ons moet hierdie visie met mening uitdra en soveel as moontlik mielieboere reg oor die land oortuig om die geleentheid te benut. Hoe meer mense saamwerk, hoe groter sal die voordele wees. Onthou ook dat mens nooit almal sal kan laat saamwerk nie – maar dit is nie nodig vir sukses nie. Solank ons net die kritiese hoeveelheid kan oortuig om die regte ding te doen soos in 2005. Ons organisasies soos Graan SA en die landbou-unies moet hulle kapasiteit en hulpbronne gebruik om so gou as moontlik, die boodskap effektief te versprei.
• Banke, landboubesighede en ander finansierders moet inkoop en aangemoedig word om pakkette aan te bied vir hulle kliënte om mielies te kan aankoop of hulleself te verskans eerder as om te plant.
• Insetverskaffers, veral die saad en kunsmis verskaffers, sal oortuig moet word om die voordele van hierdie eenmalige ingryping in te sien aangesien hulle kernbesigheid benadeel gaan word. Niks verhoed hulle egter om ook die geleentheid van goedkoop mielies inkoop te benut nie.
• Elke boer moet saam met ‘n bekwame graan makelaar en/of sy kredietverskaffers vir homself ‘n verskansings strategie gaan saamstel. Dit sal wissel van boer tot boer afhangende van sy risiko-houding en –profiel en kapitaal beskikbaar.
Opsomming
Kom ons boere sit skouer aan die wiel en dra die boodskap van hierdie wonderlike geleentheid, wat net lê en wag om benut te word uit, en oorreed soveel as moontlik mede- mielieboere om daaraan deel te neem. Dit is nou tyd dat ons drasties ingryp om ons finansiële posisie te herstel en seker te maak ons behou soveel as moontlik van ons mede-boere op die plase. Baie keer is die oplossing vir ‘n onoorkombare probleem baie makliker en eenvoudiger as wat ons vir onsself voorstel.
* Geskryf deur mnr. Jozeph du Plessis, mielieboer en voorsitter van Schweizer-Reneke Distrikslandbou-unie.
29 Julie 2010
Kommentaar
Verminder die mielies sodat die meulenaars minder het om te verkoop. Dan kan hulle laer kwaliteit uit die buiteland vir duurder aankoop. Gebruik jou eie mielies vir jou voermengsels. Ons sal sien hoe lank hulle daarmee kan volhhou.
Hier is 'n opvolg blog op die onderwerp:
http://www.solidariteit-blog.co.za/mielieboere-voor-moeilikste-besluit-i...
Pieter, moenie veralgemeen soos die ANC-ministers nie.
Mielie Boer; weet jy wat is jou werklike insetkoste of raai jy soos die meeste boere.Daar is n baie goeie geleentheid om die swak jaar in n goeie jaar te verander ;1 koop jou 2009/10 oes terug ,2.plant so min moontlik mielies max 50%,3.koop safex in vir elke ha wat jy nie plant in 2010/2011.Jou bank en krediet verskaffer het die som doen dit vir jouself.Mnr.as jy dink jy kan voortbestaan @ R900/ton is jy nie n goeie boer nie.net n swak besigheidsman wat nie weet wat jou werklike koste is nie.Vra hulp van jou rekenmeester ons mielie boere hoef nie onder te gaan nie .
Het die brief op my blog gesit: http://www.solidariteit-blog.co.za/wat-moet-jy-in-2011-plant/
Ek dink boere weet egter nie wat is die krag van die kollektief soos wat Solidariteit dit in die vakbondwereld ken nie en as die eerste reen val dan word die planters weer gehak om te plant.
Ek is ook bereid om net 50% te plant. En ek gaan dit doen met my eie geld en nie geleende geld nie. So daar spaar ek nog.
Ek hoop regtig dat hierdie plan kan werk. In Argtentinië sit ons met dieselfde probleem maar ons werk hier met die internasionale prys minus 25% uitvoerbelasting.
Daar is nie 'n kans dat ons so iets hier sal kan toepas nie.
Die oomblik as die boere egter kan besef dat hulle eintlik die prys-hef in die hand het kan hulle baie baie van die risiko uit boerdery uithaal.
Sterkte vir almal.
Ek is bereid om net 50% te plant en my mede - mielieboere die reg te gee om my lande te kom inspekteer, en dit wat meer as 50% is te vernietig , as elke mielieboer homself onvoorwaardelik "commit" .
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)