‘n Uitvoerpoel vir mielies sal teenstrydig met die wet op mededinging wees, sê die Mededingingskommissie.
Graan SA wou ‘n uitvoerpoel benut om ’n surplus van minstens 3,5 miljoen ton mielies uit die mark te verwyder.
Graan SA is wel aangeraai om kwytskelding van sekere bepalings van die mededingingswet te vra, sê mnr. Neels Ferreira, voorsitter van dié organisasie. GSA gaan voort met die voorbereiding van só ‘n aansoek.
Ferreira meen dat ‘n uitvoerpoel nie binne die huidige bemarkingseisoen gaan realiseer nie, want so ‘n aansoek kan tydsaam wees. Hy meen die feit dat die uitvoerpoel nie die groen lig gekry het nie, plaas die kritieke posisie van winsgewendheid in die mieliebedryf weer op die voorgrond.
Ernstige implikasies
“Graan SA bly van oortuiging dat die huidige prysvlakke ernstige implikasies inhou vir die toekoms van die graanbedryf en dat produsente se onvermoë om skuld te betaal en om komende oeste te finansier, ernstige nagevolge kan hê,” lui die verklaring.
As die situasie nie reg bestuur word nie, meen Ferreira dat dit die produksievermoë van die graanbedryf só gaan beïnvloed dat voedselsekuriteit in gedrang kan kom. “Die enigste werklike korttermyn-oplossing lê in die drastiese afskaling in die aanbod-kant, terwyl oor die langer termyn oplossings aan die vraag-kant gevind moet word,” sê hy.
Graan SA sê hy gaan aggressief voort om die vraag na mielies en ander grane te verbeter, deur veral vier metodes. Dit is:
Diepsee-uitvoer
Graan SA wend pogings aan om diepsee-uitvoere te versnel deur middel van die identifisering van mielie-invoerders en die verwydering van struikelblokke in die weg van uitvoer. GSA het reeds met verteenwoordigers van uitvoermaatskappye onderhandel en die saak sal dringend met die Ministers van Handel en Nywerheid asook Landbou, Bosbou en Visserye bespreek word.
Invoervervanging
Graan SA oorweeg ook invoervervanging van ander landbouprodukte, soos koring, sojameel, plantaardige olies en hoendervleis, wat binne die beleidsraamwerk is wat deur mnr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, voorgehou is. Die nuut-afgekondigde invoertarief op koring het ook hersiening nodig, want dit is noodsaaklik om produsente se vertroue in die uitbreiding van koringproduksie te herstel tot op só ‘n vlak dat invoer deur die plaaslike aanbod verplaas kan word.
Bio-brandstof
Die Regering se huidige beleid oor die gebruik van mielies vir bio-brandstof moet weer oor gedebatteer word, sê Graan SA. Die omstandighede wat tot die aanvanklike strategie aanleiding gegee het, het intussen verander en die Regering behoort dit sterk te oorweeg om dié strategie te verander. Struikelblokke wat die ontwikkeling van die biobrandstof-bedryf belemmer, soos verpligte inmenging en sekere insentiewe, kort dringende aandag.
Beter mededingendheid
Die organisasie is ook van plan om die mededingendheid van graanprodusente te probeer verbeter deur die hoë koste van produksie asook onnodige transaksiekostes wat uitvoere nie-winsgewend maak, aan te spreek.
“Graan SA sal in die komende weke indringend aan hierdie aspekte aandag gee,” sê Ferreira.
8 Junie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)