|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Die Mededingingstribunaal se afwysing van die voorgenome transaksie waarvolgens Pioneer-Hibred Seed ‘n beherende aandeel in Pannar Saad van Suid-Afrika sou verkry, is weer ‘n vir–Suid-Afrika-ongunstige uitkoms as gevolg van ‘n beslissing van die skeidsregter. Hierdie keer het ‘n sleutelspeler egter ‘n rooi kaart gekry!
Alhoewel die werklike redes vir die beslissing van die tribunaal nog afgewag word, is vroeë aanduidings van redes wat ‘n rol kon speel, kommerwekkend. Kompetisie in die saadbedryf is allermins slegs op pryse gebaseer.
In Julie 2011 gee Graan SA riglyne aan produsente oor hoe om te besluit oor saadaankope. Saadkoste per hektaar is duidelik ‘n funksie van ‘n hele aantal faktore en dit is ewe duidelik dat die grootte van die saadprodusent moontlik een so ‘n faktor kan wees, maar dit is te betwyfel of dit statistiese betekenisvol is.
Kompetisie tussen maatskappye
Getuienis wat tydens die verhoor voor die tribunaal gelei is en wat daarop aanspraak gemaak het dat die voorgenome samesmelting Suid-Afrika met slegs twee beduidende saadmaatskappye sou laat, wat as sodanig mededinging sou beperk, is ‘n dwaling en oorvereenvoudig die werklikheid van inter-maatskappy kompetisie.
Om te beweer dat net twee maatskappye ná die samesmelting 74% van die GM-wit mielie variëteite en 86% van al die geel geneties gemodifiseerde (GM) mieliesaad variëteite sou besit, is geen betroubare aanduiding van die vlak van mededinging in die bedryf nie. In hierdie opsig gee die ontledings van Graan SA in geen onduidelike terme die waarde van mededingendheid weer nie.
Pioneer se wit mielie-kultivars se gemiddelde prys vir ‘n houer met 80 000 pitte (die sg. 80DP) vir 2011 is R1 804 (8,8% hoër as die vorige jaar met grense R1 450 en R2 025). Pannar se witmielies van vergelybare pitgrootte se gemiddelde pryse vir 2011 is R1 578 (7,6% meer as die vorige jaar en pryse wat wissel tussen R1 300 en R1 720). Vir Monsanto is slegs een kultivar gelys teen R1 747 (5,9% meer as die vorige jaar). K2 Agri se gemiddelde prys vir wit mielies het onveranderd gebly op R1 343. In die geval van GM wit mielie kultivars is die verskillende maatskappye se gemiddelde pryse (met die jaar op jaar verandering in hakies) soos volg: Pioneer R2 228 (5,1%), Pannar R2 231 (2.9%), Monsanto R2 395 (5,5%) en K2 Agri R1 861 (0%).
Reeks faktore stel prys vas
Bogenoemde variasie in pryse van wit mielies is aanduidig dat ‘n reeks faktore eerder pryse bepaal. Produsente se keuse ten opsigte van saad word dus beïnvloed deur meer as net die prys. Tegnologiese kenmerke soos koste-besparings, opbrengs, bestandheid, ens. speel na alle waarskynlikheid ‘n belangrike rol. Rasionele besluite mik op ‘n uitkoms wat die hoogste netto inkomste per hektaar voorspel en van ewe groot belang is die hantering van die saad, die produksie omstandighede, ens. In hierdie verband is tegnologiese vernuwing gerugsteun deur navorsing van die allergrootste belang.
Die verdere bewering dat veral klein opkomende produsente se prysgevoeligheid tot nadeel van só ‘n samesmelting kan wees, moet ewe-eens verwerp word, aangesien daar voldoende keuses in die mark gaan bly. Daar is afdoende bewyse van tegnologiese vernuwing deur selfs die kleiner saad produsente in Suid-Afrika en internasionaal.
Graan SA lewer duidelike bewys dat daar ‘n positiewe korrelasie is tussen tegnologie en pryse. Hoe beter die gene (die gevolg van navorsing en ontwikkeling) hoe duurder kos sulke saad, veral aan die begin van die lewensiklus van enige nuwe ontwikkeling. In hierdie verband lei vraag en aanbod, want nuwe gene saad is aanvanklik te min vir die vraag en pryse gevolglik hoër.
Verbeterde boerderymetodes
Produsente wie sulke saad aankoop, doen so met die verwagting dat dié saad sodanig sal bydra tot die netto inkomste dat die hoër pryse geregverdig is. In hierdie verband speel die grootte of die vlak van ontwikkeling van die produsent geen rol nie. Produktiwiteit verhoging deur genetiese verbetering is soos verbeterde boerderymetodes en entrepreneurskap, kleurblind en grootte onsensitief.
Navorsing en ontwikkeling wat nodig is om Suid-Afrika op die voorpunt te kry, is duur en nie geredelik bekostigbaar nie. Indien die samesmelting goedgekeur kon word, sou dit Suid-Afrika ‘n kwantum-sprong gee om volhoubaar by te dra tot voedselsekuriteit, maar met ‘n redelike verwagting van winste op plaasvlak. Die verswakkende ruilvoet op plaasvlak se enigste werklike teenvoeter is verhoogde produktiwiteit en met die afwysing van die samesmelting, is Suid-Afrika uit ‘n belangrike wedren geknikker.
Produsente sou met die samesmelting die tegnologie wat hulle so nodig het, goedkoper kon bekom. Verder is Suid-Afrika ontdaan van ‘n verantwoordelikheid naamlik om as die hekwagter (“gateway”) op te tree vir tegnologie ontsluiting op die kontinent.
Speelveld verklein
Veronderstel die samesmelting is goedgekeur en die meerderheid GM saad word deur die twee groot maatskappye geproduseer, dan is dit onaanvaarbaar om af te lei dat met slegs twee maatskappye mededingendheid sal verlaag. Hierdie twee se optrede sal in so ‘n verkleinde speelveld juis meer sigbaar en mededingend moet wees.
Daar is net twee spanne in die eindstryd om die rugby-Wêreldbeker, maar dit is die deelname van ‘n hele klomp ander spanne wat die beste uit die deelnemers in die eindstryd haal. Deur nie die samesmelting goed te keur nie, is daar groter ongelykheid in die mark en dié gebrek aan mededinging tussen groottes laat ‘n leemte.
* Dr. Kobus Laubscher is ‘n voormalige uitvoerende hoof van Graan SA.
20 Oktober 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Gaan dit dan nou `n probleem wees as daar drie groot maatskappye in bedryf is ?
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)