Die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes is onveranderd gelaat op 13,317 miljoen ton, hoofsaaklik weens beter as verwagte opbrengste wat in sommige produksiegebiede verkry is, en laer opbrengste in ander gebiede as gevolg van bo-normale reënval.
Luidens ‘n verklaring deur die Nasionale Oesskattingskomitee is die skatting van die oppervlakte onder mielies ook onveranderd gelaat op 2,742 miljoen ha, met ’n verwagte gemiddelde opbrengs van 4,86 t/ha. in die vyfde produksieskatting. Dit is die komitee se vyfde produksieskatting vir die 2009/’10 produksie-seisoen.
Die oppervlak onder witmielies is 1,720 miljoen ha en vir geelmielies is dit 1,023 miljoen ha.
Verwagte opbrengs
Die produksieskatting van witmielies is 7,999 miljoen ton en die verwagte opbrengs is 4,65 t/ha. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 5,318 miljoen ton en die verwagte opbrengs is 5,20 t/ha.
Sonneblomsaad: Die produksieskatting vir sonneblomsaad is met 3,94% of 20 050 ton verhoog tot 528 765 ton. Die geskatte oppervlakte beplant met sonneblomsaad is onveranderd gelaat op 397 700 ha en die verwagte opbrengs is 1,33 t/ha.
Ander gewasse: Die produksieskatting van sojabone is met 3,53% of 20 750 ton verlaag tot 567 200 ton, terwyl die verwagte oppervlakte beplant met sojabone 311 450 ha is. Die verwagte opbrengs is 1,82 t/ha.
Die verwagte grondbone-oes is ook met 8,05% afwaarts aangepas tot 87 880 ton, met ‘n oppervlakte beplant van 57 450 ha, en ‘n verwagte opbrengs van 1,53 t/ha.
Die produksieskatting van sorghum is afwaarts aangepas met 9,75% na 241 593 ton. Die oppervlakteskatting vir sorghum is onveranderd gelaat op 86 675 ha en die verwagte opbrengs is 2,79 t/ha.
In die geval van droëbone is die produksieskatting verlaag met 9,67% tot 52 255 ton. Die oppervlakte beplant is 44 100 ha, met ‘n verwagte opbrengs van 1,18 t/ha.
Die oppervlakte beplant met mielies in die nie-kommersiële landbou-sektor word geskat op 520 940 ha, wat ‘n toename van 11,1 % verteenwoordig in vergelyking met die 468 683 ha van die vorige seisoen. Weens gunstige produksie toestande is die verwagte mielie-oes van dié sektor 605 864 ton, wat 17,3 % hoër is as die 516 633 ton van die vorige seisoen.
29 Junie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)