Koring. Foto: EZELLE HARMSE
’n Koringvirus waaroor die afgelope paar dae gespekuleer is, sal nie katestrofiese gevolge vir Suid-Afrika inhou nie, sê Graan SA.
’n Dodelike stam van die UG99-stamroesvirus wat koring aantas, is in Suid-Afrika ontdek.
Prof. Zacharias Pretorius, verbonde aan die Fakulteit Plantpatologie by die
Universiteit van die Vrystaat, sê die koringkultivars wat gewild is onder die land se verbruikers, is nie baie vatbaar vir die nuwe stam van die virus nie.
“Die voorkoms van die nuwe roesstam is wel ’n aanduiding van hoe heftig die swam is,” het Pretorius volgens ’n berig op Ooggetuie-nuus gesê. Die virus kan ’n koring-oes glo binne weke te verwoes.
Wetenskaplikes vergader tans in Beijing, China, waar die virus en die nuwe stamme daarvan op ’n simposium van die Borlaug Globale Roesinisiatief (
BGRI) bespreek word. Vier stamme van die virus bestaan tans in Suid-Afrika.
Heeltyds gemonitorIntussen sê mnr. Andries Theron, voorsitter van
Graan SA se koringwerkgroep, hoewel hulle nie verwag dat die swam katastrofiese gevolge vir die bedryf sal inhou nie, monitor navorsers dit heeltyds. “Die feit dat dit in die land voorkom, beteken dat ons wel daarvan moet kennis neem.”
Theron sê van die kultivars in die land het ’n mate van weerstand teen die virus, terwyl koringboere gereeld swambespuiting doen.
Pretorius sê die virus het op een van twee maniere sy weg na Suid-Afrika gevind. Die eerste is dat dit deur middel van windbewegings van lande noord van Suid-Afrika in die land ingekom het. Tweedens meen Pretorius dat ten minste een van die stamme wat in die land voorkom, deur middel van plaaslike mutasie ontstaan het.
Bron:
Eyewitness News