Die wyne is ’n Chenin blanc en ’n rosé van Stellenrust-wynlandgoed en word onder die Fairtrade-vaandel geproduseer. Dit beteken dat Stellenrust se sowat 72 plaaswerker-aandeelhouers en hul families (bykans 200 mense) uit dié transaksie bevoordeel gaan word. Sowat R450 000 sal in die plaas se Fairtrade-rekening betaal word.
’n Derde Stellenrust-wyn, die 46 Barrel Fermented Chenin blanc, is op die premiumwynlys ingesluit.
Dié nuus het internasionale media, soos die wynpublikasie Decanter en die Evening Standard, gehaal. Dit is die eerste keer dat die Olimpiese Spele met ’n amptelike wynlys spog.
Mnr. Tertius Boshoff, keldermeester, sê hulle werk al sedert Augustus aan dié transaksie.
“Een van die dryfvere agter die transaksie is dat mnr. Kobie van der Westhuizen, een van die eienaars van die plaas, self op sy dag ’n atleet was. Hulle gaan baie fokus op die feit dat die wyn van ’n voormalige atleet af kom.
“Daar ís bemarkingsvoordele vir Stellenrust, maar van die begin af het dit vir ons oor Suid-Afrika as wynproduserende land gegaan. Ons naam verskyn agterop die wynetiket, maar die voorkant fokus op Suid-Afrika. Die goeie ding is ook dat Suid-Afrika se twee voorste kultivars, Chenin blanc en Pinotage, nou hand aan hand staan.”
Opdrag van Olimpiese Komitee
Volgens www.decanter.com het die Engelse wynhandelaar Bibendum opdrag van die Internasionale Olimpiese Komitee gekry om sowat 650 000 liter wyn uit die 2012-oesjaar aan te skaf. Die rosé word van Pinotage-, Shiraz- en Merlot-druiwe gemaak. ’n Brasiliaanse versnit van Shiraz, Tempranillo en Gamay Nouveau is die derde amptelike wyn.
“Ek dink vanuit ’n logistieke oogpunt was dit makliker om Suid-Afrikaanse, pleks van byvoorbeeld Australiese, wyn te kry, maar ons werk ook al ’n paar jaar lank met die handelaar en hy weet ons bied goeie gehalte. Ek het baie respek dat hulle só vir Suid-Afrika opstaan.
“Ons verskaf sowat 450 000 liter van die totale hoeveelheid. Ons het hard gewerk in die wingerd, want daar was vereistes oor alkoholbeperkings. Die wyne het ’n lekker, ligte alkoholvlak, maar is steeds goeie wyn.”
Dit sal vir sowat £4,80 (sowat R62) per 187,5 ml kos en by al die lokale van die Spele beskikbaar wees. Dit is in herwinbare PET-bottels verpak.
Die Brasiliaanse wyn word nie onder die Fairtrade-vaandel geproduseer nie, maar baan die weg vir die volgende Olimpiese Spele wat in 2016 in Rio aangebied word.