|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Daar is genoeg markruimte vir sojaboonhektare om oor die volgende vyf jaar te verdubbel en vir parskapasiteit om meer as te verdriedubbel, toon ’n omvattende ondersoek wat die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) die afgelope paar maande gedoen het.
Die ondersoek spruit uit ’n vroeëre aansoek uit die veevoerbedryf dat die invoertarief op sojaboon-oliekoek verlaag word omdat Suid-Afrika ’n netto invoerder daarvan is.
Dit het die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en van Handel en Nywerheid genoop om die bemarkingsraad te vra om eers ’n studie van die plaaslike bedryf te doen om te bepaal wat die plaaslike uitbreidingsmoontlikhede is,sê prof.André Jooste van die NLBR se afdeling vir marknavorsing.
Hy het afgevaardigdes op die jaarlikse kongres van Graan SA buite Bothaville oor die voorlopige resultate ingelig. Hy het gesê dit is duidelik dat die sojaboonbedryf hoog op die Regering se beleggingsagenda is, juis vanweë sy enorme groeipotensiaal, wat deur die ondersoek bevestig is.
Boere en bedryfsleiers krap al jare lank kop oor waarom die land onverwerkte sojabone uitvoer, terwyl groot hoeveelhede oliekoek en olie ingevoer word om in die plaaslike behoefte te voorsien. Die omvang van die plaaslike parskapasiteit was ook nog tot dusver ’n raaisel, hoofsaaklik omdat verwerkers weier om hul eie kapasiteit bekend te maak.
Dit word algemeen aanvaar dat daar ’n groot potensiaal is vir sojabone om bestaande mielie-hektare te vervang. Dit sal betekenisvolle winsdruk van die mieliebedryf afhaal, wat die afgelope paar jaar groot oorskotte bo die plaaslike verbruik geproduseer het.
Daarby sorg sojabone ook in ’n wisselboustelsel vir aansienlike verhogings in mielie-opbrengste. Terwyl sojaboonaanplantings die afgelope drie jaar verdubbel het, groei die plaaslike mark vir oliekoek en olie ook sterk. Dit het die afgelope vyf jaar met 20% vergroot, maar gemiddeld 90% van die oliekoek is ingevoer, grootliks uit Argentinië, het die NLBR-ondersoek getoon.
Dit het ook die eerste amptelike raming van die land se totale sojaboon-parskapasiteit opgelewer. Die ondersoekspan meen die totale parskapasiteit is sowat 1,8 miljoen ton (onverwerkte sojabone), maar dat minder as ’n derde daarvan benut word.
Beoogde uitbreidings in die volgende jaar beloop glo ’n verdere 850000 ton tot sowat 1,3 miljoen ton. As bestaande volvet-parsaanlegte buite rekening gelaat word, is die heersende parskapasiteit vir soja-olie en -oliekoek 484 000 ton.
Dit verteenwoordig verwerkers wat as toegewyde hoëproteïen-meelvervaardigers beskou kan word en sluit twee aanlegte in wat ook sonneblom kan verwerk. Die konserwatiewe vooruitskatting van die nasionale behoefte aan sojabone teen 2015 is sowat 1,8 miljoen ton per jaar. Dié syfer behoort behaal te word as die heersende groeitempo net gehandhaaf word, sê Jooste.
Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), wat by die Universiteit van Pretoria gesetel is, se skatting is meer optimisties. Hy verwag dat sowat 2,7 miljoen ton sojabone teen 2015 in Suid-Afrika verbruik gaan word. Die belangrikste is egter dat dit duidelik is dat die Suid-Afrikaanse sojaboonbedryf aansienlike groeipotensiaal toon, maak nie saak of die swakste of die beste scenario in ag geneem word nie, sê Jooste.
In die ondersoek word tot die gevolgtrekking gekom dat sowat 1,2 miljoen tot 1,7 miljoen ha sojaboonaanplantings teen 2015 nodig kan wees om in die verwagte minimum plaaslike vraag te voorsien (teen ’n gemiddelde opbrengs van1,9 ton per ha).
Dit is omtrent dubbel soveel soos nou. Voorts is daar ruimte vir die heersende parskapasiteit om tot 2 miljoen tot 3miljoen ton teen 2015 uit te brei. Diev oorwaarde is dat dit hoëtegnologie-uitbreidings moet wees, wat die land in staat sal stel om met ’n land soos Argentinië mee te ding.
Die groot vraag is nou of die hektare daar is om soveel meer sojabone te verbou. Eerstens is nie alle produksie-gebiede geskik vir winsgewende sojaboonproduksie nie.
Tweedens kan dit in ’n voedselsekuriteit-kwessie ontaard as soveel mielie-hektare deur sojabone verplaas word dat die plaaslike mielie-oes nie meer groot genoeg is om in die vraag na dié stapelvoedsel te voorsien nie.
Jooste wys daarop dat sowat 1,9 miljoen ha mielie-aanplantings nodig is om in die plaaslike mark se behoeftes te voorsien (teen 4,7 ton per ha en ’n jaarlikse plaaslike verbruik van sowat 9 miljoen ton).
Dit beteken net sowat 470 000 mielie-hektare is beskikbaar om na sojabone te swaai sonder om ’n plaaslike mielietekort te produseer. Vanjaar se sojaboonaanplantings is ’n beraamde 418 000 ha. Uit ’n voedselsekerheidsoogpunt is dus net sowat 886 400 ha vir plaaslike sojaboon-produksie beskikbaar.
Wat die geskiktheid van nuwe hektare vir sojaboon-produksie betref, het ’n vroeëre ondersoek deur die Proteïennavorsingstigting getoon dat sowat 2,6 miljoen ha (ses keer meer as vanjaar se aanplantings) onder besproeiing én op droëland in Suid-Afrika vir sojaboon-verbouing geskik is.
Graan SA beraam die totale geskikte droëland-hektare (in ’n wisselboustelsel) op sowat 875 000 ha. Jooste wys daarop dat die ekonomie van gewasverbouing uiteindelik ook in Suid-Afrika die verdeling van hektare tussen sojabone en mielies van jaar tot jaar gaan bepaal.
Elke boer sal moet besluit watter gewas vir hom op sy plaas die winsgewendste is.In jare wanneer die mielieprys laag is, kan meer hektare na sojabone swaai, wat weer die mielieprys boontoe behoort te druk, en die volgende jaar die teenoorgestelde te laat gebeur.
Mnr. Loutjie Dunn van die maatskappy NutriFeeds het boere op die kongres aangemoedig om hul sojaboon-aanplantings uit te brei. “As julle die sojabone produseer, sál ons dit gebruik.”
Oor bewerings dat Suid-Afrikaanse sojabone nie van dieselfde gehalte as die Argentynse bone is nie, het Dunn gesê die teenoorgestelde is eerder waar. Die Argentynse bone het baie meer onverteerbare suikers as Brasiliaanse, Amerikaanse en ook Suid-Afrikaanse sojabone.
29 Maart 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)