“Ons wil navorsing doen om te kan besluit wat die beste sal wees ten opsigte van gesondheidselemente met die moontlike gebruik van olie met ‘n middelmatige oleïensuur-inhoud. Verbruikers raak meer gesondheidsbewus, en ons wil ‘n nismark skep.”
Volgens mnr. Gert Pretorius, voorsitter van die sojaboon- en sonneblom-werkgroep by Graan SA, is dit een van die maniere waarop die bedryf uitgebrei kan word.
Prof. Marius Smuts, navorser van die Noordwes Universiteit se sentrum vir voeding, het die werkgroep gister tydens Graan SA se jaarkongres op Bothaville verseker dat dié olie baie gesond is.
Meer navorsing is nodig
“Dit lê tussen olyfolie en sonneblomolie met ‘n hoë oleïensuur-inhoud en sal ‘n goeie toevoeging tot die voedselmark wees.”
Tans word sonneblomolie met ‘n hoë oleïensuur-inhoud die meeste verbou. Pretorius sê in Amerika word ‘n groot hoeveelheid olie met ‘n middelmatige oleïensuur-inhoud vervaardig, en die moontlikheid van die produksie van dié soort olie moet deeglik nagevors word voor besluite daaroor geneem word.
“Daar is ‘n aanduiding dat hoë temperature ‘n faktor in die produksie van die dié olie kan wees, so ons moet eers mooi daarna kyk,” sê Pretorius.
Bedryf steeds goed gevestig
Pretorius sê die sonneblombedryf is goed gevestig. Hy het produsente egter aangemoedig om erns te maak met hul boerderye. “Die toekoms is in ons eie hande, ons moet vir onsself sorg. Niemand anders gaan dit vir ons doen nie,” sê hy.
Volgens Pretorius is baie produsente vir jare al bekommerd oor die aanwending van stikstof vir aanplantings, en daar bestaan steeds twyfel oor dié gebruik.
Hy sê al is daar ‘n goeie mark onder huisvroue, moet uitgebrei word. “Ons sal nie drasties afwyk van die mark wat reeds bestaan nie. Huisvroue gebruik steeds sonneblomolie omdat baie die aroma en gehalte daarvan vertrou.”
Lees ook:
Meer mielies, minder sonneblom
4 Maart 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)