Belangstellende kelders wat hul produkte graag vir
Veritas, een van Suid-Afrika se mees gesogte kompetisies vir markklaar wyne en brandewyne, wil inskryf, moet opskud om nie die sluitingsdatum van 8 Augustus 2012 mis te loop nie. Die organiseerders sê goeie nuus vir deelnemers is dat die inskrywingsgelde nie dié jaar verhoog is nie.
Die
Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV), wat die kompetisie aanbied, sê sowat 1 700 inskrywings word jaarliks ontvang. Luidens ’n verklaring kan brandewyne ook sedert 2010 aan die kompetisie deelneem, wat die meesters van dié bedryf die kans gee om op plaaslike vlak mee te ding.
“’n Veritas dubbelgoue, goue, silwer- en bronsmedalje verseker beslis nie net ’n mooi blink plakker op die bottel nie, maar trek sonder uitsondering die oog van die toenemend ingeligte verbruiker,” lui die verklaring.
VernuwingMnr. Charles Hopkins, nuwe voorsitter van die
SANWSV, sê deelnemers kan ’n “skeut vernuwing” in dié jaar se toekenningsgeleentheid en met die samestelling van die proepanele verwag.
“Ek wil veral die deursigtigheid van die hele proses beklemtoon. Mense moet werklik verstaan hoe die proses werk en deelneem omdat hulle akkoord gaan daarmee. Ek wil ook graag sien dat die onderskeie proepanele meer jong gesigte, sommeliers en kenners met ’n kommersiële agtergrond insluit,” aldus Hopkins.
Die beoordeling vind van 3 tot 7 September plaas, en die wenners sal op 6 Oktober by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum aangekondig word. Meer inligting en inskrywingsvorms is by
www.veritas.co.za beskikbaar.