Dié bemagtigingsgroep se projek het heelwat sukses behaal sedert dit in 2006 begin is. Die groep wou aanvanklik net grond in
Napiervan die plaaslike munisipaliteit huur om op te boer, maar sy sukses het hom in staat gestel om sedertdien twee plase, twee trekkers, ’n oesmasjien en ’n vragmotor te koop.
Mnr. Kosie van Zyl, een van die direkteure van die groep, het gesê dat die video poog om die beginsels agter die sukses van die groep oor te dra, sodat ander groepe dié beginsels in hul projekte kan toepas.
“Die beginsels is baie eenvoudig en handel, byvoorbeeld, oor of individue in die groep bereid is om welvaart te deel, hard te werk vir ’n gemeenskaplike doel en om na ander te luister en ander se menings te respekteer. Dit kan op enige transformasie of bemagtigingsmodel toegepas word,” het hy gesê.
Samewerking is die sleutel
Mnr. Floors Gabriëls, een van die begunstigdes in die projek, het gesê die manier waarop lede saamwerk en die feit dat opleidingsinisiatiewe so hoog aangeslaan word, is die hoofredes vir Agri Dwala se toetrede tot die kommersiële boerdery.
By die bekendstelling van die video op Agri Dwala se plaas Karsrivier, net buite Napier in die Overberg, het Nulandis’n Toyota Avanza aan die groep geskenk.
Van Zyl vertel dat die skenking gedoen is nadat die groep se besturende hoof, mnr. Hugo Minnaar, daarvan bewus geword het dat die vrouens wat op die groep se gasteplaas werk, 10 km met ’n bakkie van en na die dorp, gery moet word.
’n Kort weergawe van die video kan van Agri Dwala se webtuiste by www.agridwala.co.za afgelaai word en die volledige weergawe, wat 60 minute lank is, kan van die webtuiste bestel word.